Categories: Resource managementPublished On: 6th September 2016

Helpende Hand gee om vir boere

By 3 min read
586 words

Logo_oranje-reg

Maak nie saak deur watter donker tye boere gaan nie, hulle sal altyd die lig daarin raaksien. Die droogte wat hierdie jaar talle boere se harte geraak het en hulle oeste en vee verwoes het, het weer bewys dat boere kan saamstaan, maak nie saak wat nie. En daar is nog goeie organisasies soos Helpende Hand wat in ons boere glo.

Helpende Hand het drie maande se koopbewyse vir boere wat deur die droogte geraak is, aangebied. Hulle het daaraan gedink om kos vir boere te gee, want die boer gaan eerste sy vee voer voor hy aan homself dink. Die koopbewyse kan by enige Checkers-Shoprite-kettingwinkel gebruik word sodat die gesin die nodige kruideniersware kan aanskaf. Hulle het ook rentevrye studielenings vir boere se kinders wat tersiêr wil gaan studeer of tans studeer beskikbaar gemaak, aangesien naskoolse onderrig van die uiterse belang is.

Agri Noordwes, deel van Agri SA, het betrokke geraak by Helpende Hand en mense in die Noordwes aangedui wat Helpende Hand se koopbewyse die nodigste het. “Ons het boereverenigings in die Noordwes gekontak en hulle het vir ons gesê watter boere het die hulp die nodigste,” sê Naudé Pienaar van Agri Noordwes. “Ons weet almal het hulp nodig en daarom moes ons dié met die grootste nood uitsonder. Die droogte lyk op die stadium nog baie sleg en boere benodig goeie reën om weiding in Oktober te hê. Ons is boere, so ons glo en hoop altyd, maak nie saak wat nie.”

“Boere is vrygewige mense,” sê dr Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Met die stakings in Rustenburg was die boere die eerste ouens wat ingespring het en gehelp het. Dis nou ons beurt om hulle weer te help.”

Solidariteit Helpende Hand is in 1949 gestig as ʼn antwoord op die Afrikaner-armoedekrisis van daardie tyd. Helpende Hand het meer as 36 000 ondersteuners wat per debietorder maandelikse bydraes maak. “Ons ontvang geen hulp van die staat nie en is afhanklik van die bydraes van gewone mense om ons projekte te befonds,” sê Marlien van der Westhuizen, mediaskakelbeampte van Helpende Hand.

Helpende Hand se visie is om oplossings vir Afrikaner-armoede te vind. “Ons doen dit deur ons mense se armoede deur middel van verskeie projekte te verlig, te voorkom en te verbreek. Nagenoeg 80% van ons tyd en bronne word bestee aan die voorkoming van armoede terwyl die ander 20% tussen die verligting van armoede en die verbreking van die armoedekringloop verdeel word.”

Marlien voeg by dat die droogte baie mense geraak het en hulp van die staat lyk onwaarskynlik na uitsprake van die regering, daarom het hulle ingespring en gehelp.

Nomvula Mokonyane, die minister van Water en Sanitasie, het gesê dat sy geen droogtehulp aan boere wil gee nie en dat hulle maar moet leer aanpas.

Agri Noordwes het ook sy eie droogtehulpprojek waar hulle al 431 vragte voer na verskillende plekke in die provinsie aangery het. “Die voer is geskenk en 95% van die vervoer is betaal deur skenkingsgeld wat deur Agri SA bymekaargemaak is. Die toerusting wat ons gebruik om voer te maak is ook deur maatskappye beskikbaar gestel. Dit is eintlik ’n ongelooflike mooi verhaal hoe boere kan saamstaan,” sê Naudé.

Stuur n teksboodskap bestaande uit die woord, “boer”, na 38969 en dra by tot Solidariteit se Helpendehand-droogtefonds om boere in die krisistyd te help (een teksboodskap kos R10). Om meer uit te vind oor waar jy nog n verskil kan maak, skakel Helpende Hand by 012-644-4390 of besoek hulle webwerf by www.helpendehand.co.za

 

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Foto: Willem de lange

Foto: Willem de lange

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0