Harde werk en toewyding erken

Agri1
Landbouskrywers SA Noord het op 29 September tydens sy toekenningsgeleentheid in Pretoria sy streekkandidate aangewys. Die kandidate is deur Landbouskrywerslede benoem in die afdelings vir Boer van die Jaar, Landboukundige van die Jaar, en Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou en gaan nou deur ’n paneel van onafhanklike beoordelaars saam met kandidate van die !Xariep-streek (Wes-, Oos- en Noord-Kaap) beoordeel word voor die nasionale toekenningsgeleentheid wat op 17 November in die Wes-Kaap gaan plaasvind.
Die Landbouskrywers SA Noord-geleentheid se hoofborge was New Holland Agriculture, NWK, en Rijk Zwaan, gesteun deur Chemunique, Van Loveren en die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAPPO).
Lindi Botha, voorsitter van Landbouskrywers SA Noord het tydens die geleentheid gesê ten spyte van ekonomiese druk wat wêreldwyd deur elke sektor gevoel word, bly landbou as bedryf uitstaan as floreerder terwyl ander taan. “Dit is ‘n getuigskrif van die weerstandigheid en innovasie van almal wat binne landbou staan. Vanaand neem ons die geleentheid om elkeen wat ‘n rol speel om voedselsekerheid in die land te verseker, van produsente tot ekonome, insetverskaffers en bedryfsorganisasies, te eer vir hulle bydrae.”
Botha het gesê die pad vorentoe is egter met duwweltjies besaai. “Ten spyte van die sukses van ons landboubedryf, dink ons ook aan diegene wat hulself in maak-of-breek situasies bevind. Dit maak dit dus al hoe belangriker om saam te staan, verhoudinge te bou en saam te werk ten einde oplossings te vind.”
Sy het die finaliste gelukgewens, en gesê hulle is die verpersoonliking van passie, toegewydheid en vasberadenheid.
BOER VAN DIE JAAR: Vanjaar se provinsiale wenners in afdeling vir die Noord-streek se Landbouskrywers SA Boer van Jaar is:
Jimie Malan (Gauteng) – benoem deur Hanlie du Plessis, en Dewald te Water (Mpumalanga)- benoem deur Gerrit Bezuidenhout.
LANDBOUKUNDIGE VAN DIE JAAR: Vanjaar se fokus is op landbou-ekonome in die Landboukundige van die Jaar-afdeling. Die provinsiale wenners uit die Noord-streek is: prof. Frikkie Maré (Vrystaat) – benoem deur Petrie Vogel en Corné Louw (Gauteng) – benoem deur Magda du Toit
NUWE TOETREDER TOT KOMMERSIËLE LANDBOU: Die derde afdeling, Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou, se provinsiale wenner uit die Noord-streek is Sophy Musabeni Litshani (Gauteng) – benoem deur Hanlie du Plessis. In hierdie kategorie val die fokus op boere wat die sprong van bestaansboer, na kleinskaalse boer na ‘n volwaardige kommersiële produsent gemaak het in die afgelope 10 jaar en reeds sukses op verskeie vlakke behaal het en steeds vooruit boer.
Meer oor die Landbouskrywers SA Noord finaliste:
Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou: Sophy Musabeni Litshani
Sophy het begin boer deur spinasie in haar ma se agterplaas te plant toe sy net ‘n klein dogtertjie was. Sy wou nog altyd ‘n boer wees. Ná skool het haar lewe egter in ‘n ander rigting gedraai – sy het gekwalifiseer om ‘n professionele verpleegster te word en het vir ‘n paar jaar vir die Mediclinic-groep gewerk.
Maar uiteindelik het sy die beroep verlaat om haar drome te volg en ná drie jaar se gesukkel om finansies in plek te kry, het sy uiteindelik daarin geslaag om ‘n 14ha-erf in Mapleton naby Vosloorus aan die Oos-Rand in Gauteng te verkry. Die grond is vir jare nie bewerk nie en was totaal en al toegegroei met onkruid, maar met harde werk en vasberadenheid kon sy haar eerste opbrengs in 2020 verhaal.
Sophy is nie net ‘n passievolle boer nie, maar ook ‘n voorloper in die stryd teen Covid-19 met ‘n groot belangstelling in gesondheidsorg en voeding – van daar haar besluit om groente te kweek.
Sy het teruggekeer na haar oorspronklike droom en haar boerdery begin deur Swiss Chard-spinasie te plant. Spinasie is ‘n baie algemene en gewilde blaargroente onder die plaaslike bevolking. Dit is maklik om te groei en kan ryp verdra, ‘n uitdaging waarmee boere op die Hoëveld te kampe het. Sy het sedertdien haar produkreeks uitgebrei om ondermeer gewasse soos pampoentjies, groenbone, kool, broccoli en blomkool in te sluit.
Haar boerderybedrywighede het die afgelope twee en ‘n half jaar eksponensieel gegroei – sy besit nou die maatskappy Vhegies waarvan die kernbesigheid is om vars groente aan die omliggende gemeenskappe en die Johannesburg – en Springs-markte te verskaf. Sy boer ook op ‘n bykomende stuk grond in die Boksburg-streek en het uitgebrei om ook in Limpopo te boer.
Sophy is besig om ‘n verwerkingseenheid op te rig waar sy, wanneer dit voltooi is, haar produkte sal kan verwerk en verpak om die raklewe daarvan te verhoog.
Hierdie jong boer leef volgens die leuse – Ons is wat ons eet en daarom moet ons groei wat ons eet.
Sy glo dat Vhegies die voedingstowwe sal verskaf vir sterker liggame en verstand en beter gesondheid vir baie mense.
LANDBOUKUNDIGE VAN DIE JAAR
Gauteng Landboukundige van die Jaar: Corné Louw
Corné Louw is gebore en getoë in Bloemfontein in die Vrystaat, waar hy aan Grey-College (1995 – 1999) gematrikuleer en aan die Universiteit van die Vrystaat studeer het. Hy het sy loopbaan by die Universiteit van die Vrystaat as navorsingsassistent begin, waar hy gehelp het met praktiese lesings aan die derdejaar landbou-ekonomiestudente en het aan verskeie navorsingsprojekte saam met professor André Jooste gewerk.
Die projekte het onder meer die mededingendheid van die rooivleisbedryf in Suid-Afrika sowel as die Vrugtebedryfsplan vir Suid-Afrika ingesluit.
Hy het in 2005 by Graan SA aangesluit en in verskeie rolle gedien wat verband hou met landbou-ekonomie. Tans is hy die Hoof vir Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA waar hy ‘n dinamiese span landbou-ekonoom lei in die bevordering van die beleidsomgewing in die graanwaardeketting, mark en insetomgewing tot voordeel van graan- en oliesadeprodusente. Graan SA verskaf strategiese kommoditeitsinligting aan die graanboer in Suid-Afrika en op die voorpunt van hierdie dienste staan Corné Louw.
Hy speel ‘n noodsaaklike rol om die inset- en produksie-omgewing te beïnvloed ten einde die winsgewendheid van veral graanboere in Suid-Afrika te verbeter. In sy werk fokus hy op die unieke en individuele drywers van graanproduksie winsgewendheid met spesifieke aandag aan insette. Graan SA en die Toegepaste Ekonomie-span, wat Corné lei, was ook instrumenteel tot die eksponensiële groei van die sojaboonbedryf in Suid-Afrika.
Sy passie vir die bedryf, en die insig wat hy in ‘n plaas, die bedryf en georganiseerde landbou-omgewings het, is van onskatbare waarde. Sy kennis van en insig in die breë bedryf, veral sy begrip van landbou-insette, is ‘n aanwins nie net vir Graan SA nie, maar vir die hele bedryf. Boere, landbou-administrateurs, insetverskaffers en die media waardeer die inligting en insigte wat hy verskaf.
Corné dien as Direkteur op die Direksie van SACTA (Die SA Kultivar- en Tegnologie-agentskap), Trustee by SAWCIT, Trustee by die Sasol Landboutrust en tree dikwels op as Graan SA se verteenwoordiger op industrie- en beleidsforums. Hy praat gereeld by boeredae, kongresse, seminare, tree op as moderator of gasheer tydens kongrespaneelbesprekings, en neem deel aan regerings- en bedryfsbesprekings wat nie net Graan SA verteenwoordig nie, maar die plaaslike boer.
Hy is getroud met Hilda en het twee kinders, Lisa en Chris. Corné speel in sy vrye tyd in die Pretoriase muurballiga. Corné geniet dit om te hardloop, lees, en die buitelewe te verken en geniet dit om sy kennis van biodiversiteit te verbreed, met ‘n spesifieke belangstelling in bome.
Vrystaat Landboukundige van die jaar: prof Frikkie Maré
Prof Frikkie Maré is ‘n Medeprofessor en Hoof van die Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat. Oorspronklik van die klein dorpie Hopetown, Noord-Kaapprovinsie, het hy sy tersiêre opleiding aan die Universiteit van die Vrystaat in 2005 begin, waar hy die volgende grade verwerf het: BSc in Veekunde en Landbou-ekonomie (2008), BSc Hon in Landbou-ekonomie ( 2009), MSc in Landbou-ekonomie (2014) en PhD in Landbou-ekonomie (2018).
Deur sy navorsingspogings was hy ‘n studieleier vir 10 meesters- en drie PhD-studente, het hy 30 wetenskaplike artikels gepubliseer en 24 aanbiedings by nasionale en internasionale akademiese konferensies gelewer.
Hy het op verskeie maniere by die landbousektor betrokke geraak. Hy is baie passievol oor die rooivleisbedryf en fokus op ekonomiese kwessies wat in die rooivleiswaardeketting voorkom. Deur sy primêre pos aan die UV doen hy prakties toepaslike navorsing tot voordeel van die rooivleisbedryf. Hy is ook die redakteur vir die landboutydskrif Veeplaas waar hy help met die tydskrif se beplanning om te verseker dat dit waardevolle en bygewerkte inligting oor veeboerdery bevat.
Sy impak op die vee- en rooivleissektor verbeter voortdurend met sy betrokkenheid by die verskillende organisasies wat dit ondersteun. Dit is nie net die Suid-Afrikaanse vee- en rooivleissektor wat by sy kennis en leiding baat nie, maar ook Namibië se veeprodusente vir wie hy by verskeie geleenthede as hoofspreker gedien het.
Boer van die Jaar finaliste:
Gauteng Boer van die Jaar: Jimie Malan
Malanseuns Plesierplante het hierdie jaar hul 110de bestaansjaar gevier. Die kwekery is in 1913 deur Danie Malan aan die noordelike hange van die Magaliesberg tussen Akasia en Rosslyn buite Pretoria begin. Dit was oorspronklik ’n vrugteplaas en surplus-vrugtebome is aan die publiek verkoop om op plase en in tuine te plant.
Later het die onderneming so gegroei dat vier van Danie se seuns begin het om ornamentele plante te kweek om die verkope van die vrugtebome aan te vul. Vandag word Malanseuns as ’n wêreldleier in die kweek en verspreiding van vrugtebome, saailinge en ornamentele plante beskou. Hul plant reeds meer as 6 000 plante daagliks.
Malanseuns is nou onder die bestuur van Jimie Malan – die vierde generasie van die Malans wat steeds alles in sy vermoë doen om die Malanseuns-droom te verwesenlik – en dit is om tuinmaak weer gewild te maak deur dit maklik, gerieflik en bekostigbaar vir elke tuinier te maak.
Die besigheid word steeds ten volle deur sy pa, Jacques Malan besit en beide Jimie se broer en suster is ook betrokke by verskillende vertakkings van die onderneming.
Dit is die onderneming se missie om een van die grootste kweker- en nuwe genetikanetwerke wat bestaan te skep waardeur hul toegang tot uitsonderlike plantegenetika kan kry. Hul diepblou agapant Midnight Sky wat onlangs bekendgestel is, is vanjaar by die Chelsea-blommeskou in Londen, Engeland, as die nuwe plant van die jaar aangewys.
Buiten sy uitsonderlike kleur is die bloeiwyse van die Midnight Sky ook uitsonderlik. Normale Agapante blom net vir sowat ‘n twee maande elke jaar, maar die Midnight Sky, kan vir nege maande van die jaar blom. Mens kan selfs die hele jaar lank blomme hê as jy die plante genoeg liefde gee volgens Jimie.
Hul maak gebruik van toepaslike tegnologie om produksie te optimaliseer en een voorbeeld daarvan is hul ten volle geoutomatiseerde kweekhuis wat hul in staat stel om regdeur die jaar plante van die beste gehalte te kweek sonder om seisoen-gebonde soos wat hul in die verlede was, te wees.
Die Malangroep se ander boerdery vertakkings sluit Ankole beeste en die teel van stoetwild en selektiewe jag in. Die Malans het in 2012 groot opslae gemaak toe hul ’n buffelbul op ’n veiling in Limpopo vir wat toe ’n rekordprys was, R26 miljoen verkoop het. Die bul met ‘n horingwydte van 51 duim en ’n horingskilde van 16 duim gehad.JIMIE MALAN
Mpumalanga Boer van die Jaar: Dewald Te Water
Wanneer dit by waardetoevoeging en die vermoë om geleenthede te benut kom, is daar min wat kan kers vashou by Dewald te Water van die Te Water Boerdery op die plaas Schurvekop naby Bethal. Dewald is ’n boer wat waarde toevoeg tot elke produk en kommoditeit wat deur die Boerdery geproduseer word, of dit mielies, sojabone, hawer of beeste is.
’n Unieke benadering tot mielie-waardetoevoeging – Dewald is bekend vir sy unieke waardetoevoeging tot van mielie- en sojaboonverbouiing binne sy boerdery. Vyf jaar gelede het hy die geleentheid gesien om springmielies, chips en ontbytpap uit die mielies wat op die plaas verbou word, te produseer. Na deeglike navorsing, wat ondermeer marktoestande sowel as die tegniese aspekte van hierdie tipe produksie insluit, het hy 30 “springmieliekanonne” in ’n aanleg op die plaas opgerig.
Hier word springmielies in grootmaat deur middel van hitte en druk deur die kanonne geproduseer. Die springmielies word ook op die plaas, verpak, versprei en onder Dewald se eie handelsmerk bemark. Dit is ’n unieke konsep wat reeds welbekend in Suid-Afrikaanse landboukringe is.
Die geleentheid om ook chips te produseer het daartoe gelei dat Dewald met ’n maatskappy in Pothefstroom in aanranking getree het en ’n produksielyn op die plaas opgreig het wat nie net chips nie, maar ook ’n ontbytpap vervaardig. Beide die chips en ontbytpap word ook op die plaas verpak, van daar af versprei en oor die land bemark.
Kuilvoerbedrywighede – Een van die bykomende afdelings van die boerdery is die maak van hoëgehalte-kuilvoer, hoofsaaklik vir uitvoere na die Midde-Oosterse markte. Dewald het in 2022 die Sanlam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie se afdelings vir voersorghum en hawerkuilvoer gewen en tweede in die mielie-afdeling geëindig. Dit is dus duidelik dat die kuilvoer wat op Schurvekop geproduseer word, van die hoogste gehalte is. Dewald is ook aandeelhouer in die maatskappy
Exact Silage, wat ook as plaaslike verspreider optree vir die Noorweegse kuilvoerproduksiemaatskappy Orkel. Hy glo daarin om uitsonderlike tegnologie, tesame met die beste gehalte roumateriale te gebruik ten einde ’n hoë-kwaliteit kuilvoer te produseer wat gebaal word. Sodoende word kuilvoer makliker vervoer, en bly die gehalte deurentyd hoog.
Beesboerdery – Tesame met die saai-afdeling, is Dewald ook ’n beesboer en ’n stoere ondersteuner van die Bovelderbeesras. Die boerdery beskik nie net oor ’n Bovelderstoet nie, maar bedryf ook ’n kommersiële Bovelderkudde.
Bron: Landbouskrywers SA Noord