Categories: ArtikelsPublished On: 10th June 2024

Oudtshoorn: Swaar reëns bring vreugde en chaos

By 4 min read
753 words

nelsrivier 1

Die hoofroete tussen De Rust en Oudtshoorn en kudorpe in die Tuinroete is vir verkeer oopgestel maar motoriste word gemaan om veral in die nag versigtig te bestuur. (Bron: Facebook)

Swaar reëns in die omgewing van Oudtshoorn en vol besproeiingsdamme laat boere breed glimlag. maar oorstromings het tot wydverspreide chaos gelei.

Hectic

Die Stompdrift- en die Kammanassiedam, wat deel vorm van die Stompdrift-Kammanassie Waterverbruikersvereniging se besproeiingskema, het na swaar reëns in opvanggebiede begin oorloop. Die twee damme verskaf besproeiingswater aan plase onderkant die damme.

Teen Woensdagoggend was die Stompdriftdam 114% vol en het later die dag op 137% gepiek. “Die Stompdriftdam het in 2014 laas oorgeloop. Die vorige oorloop was in 1996, toe die dam 148% vol was.”

“Dit gaan hectic  wanneer die Olifants in  vloed is!” sê Charl van der Merwe, bedryfsbestuurder van die SKWGV. “Die Stompdriftdam loop sedert Woensdagoggend 03:20 oor en is steeds 107% vol. Daar stroom ongeveer 679m³/sek stort oor die wal.

“Hierdie is ‘n’ twice in a lifetime’ belewenis met massas malende, onstuitbare water wat lewe en skade met een hand uitdeel! Dis nou al 36 ure aan die gang met min rus of slaap, te veel lesings, projeksies van tye en die moontlike uitkoms van vloedwater.”

Die Kammanassiedam op 109% gepiek. Volgens Charl loop die twee damme en die water wat in die Grootrivier in Meiringspoort afkom, naby die Oudtshoorn Navorsingsplaas in die Olifantsrivier. Meiringspoort is steeds toe sodat opruimingswerk gedoen kan word.

Landerye in die vloedvlakte op die oewers van die rivier is oorstroom. “Ons is bewus van skade op verskeie plekke in die kanale. Ons is besig met ‘n opname.”

‘n Stuk van die teerpad op die hoofroete tussen Oudtshoorn en De Rust het weggespoel toe die Nelsrivier tussen Oude Muragie en Le Roux-stasie afgekom het. Teen Donderdagmiddag is vir verkeer oopgestel maar motoriste word gemaan om veral in die nag hier versigtig te bestuur. Die polisie sal snags hier ‘n ogie hou.

Goeie reëns in April het die damvlakke aansienlik laat styg, wat daartoe bygedra het dat die afgelope week se reëns die damme laat oorloop het. Nog reën word oor die naweek voorspel.

‘n Stuk van die teerpad op die hoofroete tussen Oudtshoorn en De Rust het weggespoel toe die Nelsrivier tussen Oude Muragie en Le Roux-stasie afgekom het. (Bron: Facebook)

Afgesny van buitewêreld

By Calitzdorp Spa moes 88 gesinne, wat boere en hulle werkers insluit, wat deur die massa water wat in die Olifantsrivier afgekom het, van noodvoorrade voorsien word.

“By die Calitzdorp Spa het die Olifantsrivier teen 1341 kumek (kubieke meter per sekonde) gevloei,” sê Charl.

“Die landbougebied agter die Calitzdorp Spa wat deur die Olifantsrivier vasgekeer is, val binne die grense van Kannaland, maar hulle is ons bure en ons moet hulle help,” het Morne Thysse, waarnemende bestuurder van Brand, Redding en Rampbestuurdienste gesê.

“Die rivier het te breed geloop om ‘n tou oor die rivier te span sodat reddingswerkers met ‘n kajak veilig oor die rivier kan kom. Rubberbote kan ook nie gebruik word nie omdat voorwerpe wat onsigbaar in die bruin watermassa is die enjins kan beskadig.”

Die Gesamentlik Operasionele Sentrum op Oudtshoorn het gereël dat ‘n helikopter van Air Mercy Services (AMS) wat op Oudtshoorn gestasioneer is, kospakkies met genoeg kos vir drie dae vir die gesinne  gaan aflewer.

Volgens Morne het Mario Ferreira van Gift of the Givers Donderdag kom help om ‘n koskenking van sowat drie ton by Shoprite te kry, wat verpak is en Donderdagmiddag is begin om die kospakkies af te lewer.

Dit is nie seker wanneer die Olifantsrivier se vlak gaan daal nie. “Solank Stompdriftdam en die Kammanassiedam oorloop, sal die rivier aanhou afkom. Die omvang van die skade sal eers bepaal kan word as die water afgeloop het.

 

Sowat 88 gesinne oorkant die Olifantsrivier vanaf Calitzdorp Spa is van die buitewereld afgesny deur die vloedwater en kospakkies van Gift of the Givers is met ‘n Air Mercy Services helikopter vir hulle afgelewer. (Bron: AMS)

Chaos in middedorp

Die Raubenheimerdam, wat water aan residensiële gebiede van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit voorsien, het ook op Woensdag begin oorloop. Die oorloop voed die Grobbelaarsrivier wat deur die dorp vloei.

Al die laagwaterbrûe wat die woonbuurte weerskante van dié rivier verbind is oorstroom en net die brug in Voortrekkerstraat kon in ‘n stadium gebruik word. Teen Vrydagoggend was die hoër bruggies darem oop. Water wat met die Grobbelaarsrivier afkom vloei ook in die Olifantsrivier.

Meld skade aan

Boere wat skade gely het, word versoek om die vorm wat hierby aangeheg is in te vul sodat die Departement van Landbou kan vasstel wat die omvang van die skade was. https://survey123.arcgis.com/share/78ec0709b761402596c5660a032271fd?portalUrl=https://gis.westerncape.gov.za/portal

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0