Grondeienaars in warm water oor damme

dam 2
Die Kammanassierivier is die belangrikste voedingstroom van die Olifantsrivier.
deur Tisha Steyn
Water bly maar ՚n omstrede hulpbron. Die owerhede beskou onwettige onttrekking uit riviere in opvangsgebiede, asook die bou en onderhoud van damme sonder toestemming of goedgekeurde onderhoudsplanne, in ՚n ernstige lig.
In die Klein-Karoo word daar nou daadwerklik opgetree om te sorg dat water uitkom waar dit hoort.
Onwettige strukture en onttrekkings
“Die Stompdrift-Kamanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV) berei tans talle klagtes oor beweerde onwettige strukture in die opvangsgebiede van die Stompdrift- en Kammanassie-damme voor,” sê Willem Fourie, die bestuurder van die SKWGV, wat op Oudtshoorn gesetel is.
“Wettige en beweerde onwettige strukture in ons opvangsgebiede het ՚n geweldig negatiewe uitwerking op die beskikbaarheid van water in ons twee damme. Baie van die water word onttrek voordat dit die damme en besproeiingsgebiede bereik, wat veral in die droogtetoestande ՚n uiters negatiewe invloed op die landbou het.”

Damme in die skema
Die Kammanassiedam, wat in 1923 voltooi is, lê 24 km suidoos van Oudtshoorn in die Kammanassierivier. Die dam, wat selde vol is, het ՚n kapasiteit van 40-miljoen kubieke meter. As daar die slag water in die dam is, verskaf dit tot 34 km stroomaf water na ՚n besproeiingsgebied van bykans 10 800 ha langs die Olifantsrivier. Die Stompdriftdam, wat in 1965 in die Olifantsrivier gebou is, is sowat 40 km vanaf Oudtshoorn en sowat 6 km vanaf De Rust. Die dam se maksimum inhoud is 46-miljoen kubieke meter, maar ook dié dam is selde vol.
Netwerk van riviere wat die damme en skema voed
Om die omvang van die probleem in die halfwoestyn-Klein-Karoo te verstaan, moet ՚n mens kyk na die riviere en hulle sytakke wat die twee damme voed. Die Olifantsrivier, wat die oostelike arm van die Gouritsrivierbekken vorm, ontspring in die Kouga- en Baviaanskloofberge, waar die waterskeiding die natuurlike grens tussen die Oos- en Wes-Kaap vorm.
Die rivier vloei van oos na wes tussen die Swartberge in die noorde en die Kammanassieberg in die suide, tot dit aan die oostekant van die Rooiberg by die Gamkarivier aansluit. Die Gamkarivier vloei uiteindelik in die Gouritsrivier, wat by Gouritsmond in die Indiese Oseaan uitmond.
Die Olifants se twee grootste sytakke is die Kammanassie- en Trakariviere. Die Kammanassierivier, wat 120 km lank is, ontspring op ՚n hoogte 1 200 m in die Kougaberge. Die opvangsgebied is 155 205 ha. Die Brakrivier en Molenrivier is die enigste noemenswaardige sytakke. Die Kammanassierivier, wat ook water uit die Kammanassie- en Outeniekwaberge na die Olifantsrivier bring, vloei sowat 2 km oos van Oudtshoorn in die Olifantsrivier en is die belangrikste voedingsbron daarvan.
Die Kouka- en Trakarivier vloei uit die Groot Karoo. By Vondeling vloei hulle saam om as die Trakarivier deur Toorwaterpoort by die Olifantsrivier aan te sluit. Die Grootrivier wat deur Meiringspoort vloei, sluit by De Rust by die Olifantsrivier aan.
Die suidelike hellings van die Swartberge voed die Kango-, Grobbelaars-, Nels-, Wynands-, Kansa- en Vleirivier, asook ՚n aantal kleiner strome, wat water na die Olifantsrivier voer.

Beweerde onwettige strukture
“Ons is bewus van talle onwettige strukture, wat damme, pompe en uitkeerslote insluit,” sê Willem.
Volgens hom is daar in die Kammanassiedam se opvanggebied reeds 838 beweerde onwettige damme, verskeie beweerde onwettige pompe en onwettige uitkeerslote, waarvan die finale omvang nog ondersoek word.
In die Stompdriftdam se opvanggebied is na raming sowat 400 onwettige damme, asook verskeie onwettige pompe en onwettige uitkeerslote, waarvan die presiese omvang nog nie vasgestel is nie.
In die sytakriviere onderkant die damwalle, wat ook voedingsbronne vir die SKWGV se skema is, is 560 beweerde onwettige damme, asook verskeie onwettige pompe en uitkeerslote, waarvan die omvang ook nog ondersoek word.
Die opvanggebied van die Gouritsrivier word saam met die Breederivier-opvanggebied deur die Breede-Gourits Catchment Agency (BGCMA) bestuur.
Die BGCMA is wetlik verplig om klagtes oor onwettige waterverwante bedrywighede te ondersoek en die opvangsgebiede van die riviere en sy-takke wat die damme voed te polisieer.
Volgens Willem is 52 klagtes reeds formeel by die BGCMA aanhangig gemaak. “Ons beplan om die res van die klagtes, sodra ons presiese syfers het, ook by die BGCMA en, waar van toepassing, ook by die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning aanhangig te maak.”
Hy sê die ondersoeke word gekortwiek deur personeeltekorte by die BGCMA, maar na verwagting sal die werksaamhede in 2022 momentum kry. BGCMA betrek soms die Blou en Groen Skerpioene, wat onderskeidelik water- en omgewingsvergrype ondersoek. Die BGCMA is ook besig met ՚n Validasie- en Verifikasieproses (V&V), wat deur die WNNR gedoen word.

Só werk die wet
Desireé du Preez, ՚n omgewingsimpakpraktisyn van Greenfire Enviro in George, verduidelik die toepaslike wette.
“Kennis van die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur 1998, Wet 107 van 1998, is van uiterste belang. Hierdie wet lys etlike bedrywighede waarom aansoek gedoen en ՚n omgewingsmagtiging verkry moet word voordat daarmee begin word.”
Die Nasionale Waterwet 1998, Wet 36 van 1998, moet ook in ag geneem word. “Die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur se bepalings is bedoel om die toepassing van die Nasionale Waterwet te vergemaklik, maar vervang nie die vereiste vir ՚n watergebruiklisensie nie,” sê sy.

Onderhoud van damme
Dit is nie net die bou van nuwe damme wat boere in die moeilikheid laat beland nie, maar ook die onderhoud van bestaande damme.
Volgens Desireé is die gelyste aktiwiteit wat meestal oortree word waar water betrokke is, die Omgewingsinvloedbeoordelingregulasies Lystingskennisgewing 1 van 2014: Aktiwiteit 19.
Dié wet verbied die verwydering of plasing van materiaal van meer as 10 kubieke meter in ՚n waterloop, soos wanneer ՚n dam gebou word of onderhoud aan ՚n bestaande dam gedoen word.
“Volgens die Nasionale Waterwet mag geen werk sonder goedkeuring binne 100 m, of die 1:100 jaar vloedlyn, van ՚n waterbron, of binne 500 m van die grens van ՚n vleiland gedoen word nie.”
Sy sê die oewer van ՚n rivier moet beskou word as ՚n strook van 32 m weerskante van die bedding. “Waar lande langs ՚n rivier gemaak is, is die oewer gewoonlik die gedeelte met natuurlike of half-natuurlike plantegroei tussen die land en die rivier, ongeag hoeveel uitheemse indringerplante daar groei.
“Moenie dink ՚n waterbron, waterloop of rivier is net ՚n loop met ՚n duidelike bedding nie! Die departemente beskou selfs ՚n klein lopie waar daar nie sigbaar water vloei nie volgens die wet ook as ՚n waterloop.”

Grondeienaars wat onderhoud aan hulle damme doen, maak hulle gewoonlik skuldig aan die volgende:
- verwydering van enige materiaal uit die damkom;
- die invul van ou dammetjies;
- herstel van vloedskade aan ՚n rivierbedding;
- uithaal van riete of omgevalle bome uit ՚n rivierbedding; en
- die ploeg van vleie.
“Merk dus maar die vleie duidelik, veral wanneer grond gebreek word vir nuwe of groter lande,” stel Desireé voor. Volgens haar is dit ook noodsaaklik dat ՚n grondeienaar, verkieslik met die hulp van ՚n varswaterekoloog, ՚n onderhoudsbestuursplan moet saamstel wat aan die Departement van Omgewingsake en Waterwese van ՚n provinsie en die Departement van Water en Sanitasie vir goedkeuring voorgelê moet word.

Ken die definisies
Sy sê die betekenis van sekere woorde word dikwels verkeerd vertolk, wat lei tot oortredings. ‘Waterloop’ beteken ՚n rivier of fontein, ՚n natuurlike kanaal waarin water gereeld of onderbroke vloei, of ՚n vleiland pan, meer of dam waarin en waaruit water vloei, asook enige “enige versameling water wat die minister by kennisgewing in die Staatskoerant mag verklaar as ‘n waterloop,” met sy bed en oewers.
‘Vleiland’ beteken grond wat “՚n oorgangsone is tussen droë grond en waterliggame waar die watertafel gewoonlik op of naby die oppervlak is, die grond gereeld met vlak water bedek is, en wat onder normale omstandighede vleiland-plantegroei of plantegroei wat in versuipte grond lewe, ondersteun”.

Kontakbesonderhede:
Willem Fourie, SKWGV: 083-629-0154, of stuur ‘n e-pos aan stompkam@absamail.co.za
Desireé du Preez, Greenfire Enviro: 082-922-3180, of stuur ‘n e-pos aan Desiree@greenfireenviro.co.za
Verwysing:
Olifantsrivier, Klein Karoo (2021, Augustus 17) Wikipedia https://af.wikipedia.org/wiki/Olifantsrivier,_Klein_Karoo