Categories: NuusPublished On: 29th November 2023

Grond: Waar kos begin

By 5 min read
1086 words

Soil_Health_Image_Credit_Syngenta

Foto Syngenta

Die grond waarin ons kos groei – net soos die lug wat ons inasem en die water wat ons drink – word te maklik as vanselfsprekend aanvaar. Wêreld Gronddag, wat op 5 Desember gevier word, help om ons meer bewus te maak van hierdie lewegewende hulpbron. In 2023 moedig Syngenta grondgesondheid aan deur op wortelgesondheid te fokus.

Die tema van Wêreld Gronddag 2023 – grond: waar kos begin – omvat die geweldige belangrikheid van hierdie natuurlike hulpbron. Die statistieke is ewe ontsagwekkend as vreesaanjaend, en illustreer in geen onsekere terme die verband tussen grondgesondheid, voedselsekuriteit en klimaatsverandering:

  • Slegs ongeveer 7,5% van die aarde se oppervlak bestaan uit landbougrond waarop kos verbou kan word. Hierdie fraksie kompeteer met die mensdom se ander behoeftes en begeertes wat wissel van behuising tot vermaak, industriële en militêre komplekse tot stortingsterreine.
  • 95% van ons kos kom uit die grond.
  • Landbouproduksie sal met 60% moet toeneem om aan die wêreldwye voedselaanvraag in 2050 te voldoen; volhoubare grondbestuur kan tot 58% meer kos lewer.
  • Grond verskaf 15 van die 18 chemiese elemente wat natuurlik voorkom en noodsaaklik vir plante is.
  • 25% van die planeet se biodiversiteit is in grond: een teelepel grond kan meer lewende organismes bevat as wat daar mense op aarde is.
  • Grond is die planeet se tweede grootste koolstofstoor.
  • 33% van die aarde se grond, en meer as die helfte van die landbougrond, is in ‘n slegte toestand.
  • Dit neem langer as 1 000 jaar om 1 cm grond te kweek.

Sekere aspekte van die waarde van grond kan egter nie in syfers uitgedruk word nie. ‘n Voorbeeld is die miljarde bakterieë wat in grond leef en onontbeerlik is vir die ontwikkeling van antibiotika en ander medisynes. Gesonde grond absorbeer en suiwer ook water vir menslike gebruik en reguleer die impak van oormatige reënval deur oorstromings te verhoed. Hierdie ekosisteemdiens gaan in die toekoms toenemend belangrik word in die lig van onreëlmatige reënvalpatrone wat deur klimaatsverandering veroorsaak word.

In terme van voedselproduksie spesifiek, produseer gesonde grond meer voedsame kos en plante wat meer bestand is teen peste en siektes. Gesonde grond berg ook meer water en stel dit beskikbaar aan plante wanneer reënval wisselvallig is. Grond wat swaar reënval absorbeer, keer dat lewegewende voedingstowwe uit lande gespoel word.

“Grondgesondheid is uiters belangrik,” sê Stefan van Zyl van Syngenta Seedcare Suid-Afrika. “Die werklikheid dat die 10 – 30 cm bogrond wat ons in staat stel om kos te produseer binne die volgende 60 jaar opgebruik kan wees, is ‘n wekroep wat geen mens of maatskappy kan bekostig om te ignoreer nie.”

Die rol van wortelgesondheid

‘n Holistiese benadering is die sleutel tot die herstel en beskerming van grondgesondheid. “In landbou lê die probleem en inderdaad ook die oplossing in wat ons plant en wanneer, asook die bewerkingspraktyke wat gebruik word,” sê Van Zyl. Syngenta Seedcare fokus op dié deel van gewasse wat ten nouste in kontak met die grond is, naamlik die wortels.

Wortels neem nie net uit die grond nie; die verhouding tussen die twee is hoogs simbioties. Gesonde grond ondersteun en maak sterk wortelstelsels moontlik en vice versa.

Plantwortels help om gronddeeltjies te bind. Dit skep ‘n stabiele grondstruktuur, voorkom gronderosie en verlies aan bogrond, verbeter waterinfiltrasie en verminder kompaktering. Sterk wortelstelsels skep ook kanale in die grond wat lug, water en voedingstowwe toelaat om dieper te penetreer.

Wortelstelsels onttrek wel voedingstowwe uit die grond, maar hulle stel ook organiese verbindings vry wat voordelige mikroörganismes wat die sirkulering en beskikbaarheid van voedingstowwe verbeter, aanlok. Deur stowwe vry te stel wat voordelige grondmikrobes voed, dra wortels direk by tot die grond se vermoë om skadelike patogene te onderdruk en organiese materiaal af te breek. Op sy beurt verbeter laasgenoemde koolstofsekwestrasie.

Wortels stel voorts ensieme en verbindings vry wat die chemiese samestelling van die grond rondom hulle kan verander om die oplosbaarheid en beskikbaarheid van voedingstowwe te verbeter. Sekere plante stel ook allelopatiese verbindings vry wat grondorganismes wat siektes veroorsaak, onderdruk. Hierdie natuurlike siektebeheermeganisme dra by tot gesonder grond.

Laastens dien gesonde wortelstelsels as habitat en voedselbron vir grondorganismes wat wissel van erdwurms tot mikorisale swamme – almal noodsaaklik vir beter ekosisteemveerkrag.

Die voordele van saadbehandelings

Syngenta se wortelgesondheidprogram fokus op die behandeling van saad teen swaminfeksies en plantparasitiese aalwurms sodat gewasse stewige, gesonde wortelstelses kan ontwikkel wat optimaal funksioneer.

Volgens Professor Driekie Fourie, nematoloog en Syngenta Seedcare spanlid, neem aalwurmdruk stelselmatig toe as populasies nie bestuur word nie. Haar navorsing dui ook aan dat graanwisselboustelsels wat tans in Suid-Afrika gebruik word, bevorderlik is vir aalwurmopbou.

“’n Holistiese bestuursbenadering is onontbeerlik, siende dat plantparasitiese aalwurms dikwels die deur oopmaak vir sekondêre swaminfesksies en sulke siekte-aalwurmkomplekse vererger oesskade,” sê sy.

Van Zyl noem dat saadbehandeling die voorste linie van verdediging teen plantparasitiese aalwurms, swamsiektes en insekaanvalle is, maar dit moet ondersteun word deur bestuurspraktyke soos toedienings in vore en onkruidbeheer.

“Een van die grootste gevare vir produsente is grondgedraagde patogene wat sade infekteer tydens plant of saailinge sodra hulle opkom,” sê Van Zyl. Saad wat met ‘n swamdoder behandel word, is ‘n bestuursmeganisme wat die patogeenlading in die rhizosfeer (of wortelmikrobioom) van gewasse beduidend verminder sonder om die lewensvatbaarheid van saad te benadeel. Saadbehandeling verseker ook dat die produk neergesit word presies waar dit nodig is, naamlik rondom die saad en die wortels van die ontwikkelende saailing. Dit beteken dat minder produk en ‘n kleiner toedieningsarea ter sake is in vergelyking met invoor- en blaartoedienings.

Goed geformuleerde produkte, soos Syngenta se APRON Plus Beans, CRUISER White en CELESTE XL, beskerm nie net sade en saailinge nie, maar bevorder ook daadwerklik eenvorminge opkoms en gesonde wortels om optimale opbrengs moontlik te maak. Verder teiken saadbehandelings peste en laat sodoende voordelige grondorganismes toe om hul goeie werk te doen, en produsente kan ‘n swamdoder en aalwurmdoder in ‘n saadbehandeling kombineer om sekondêre swaminfeksies te verhoed. “Deur ‘n sleutelkomponent van grondgedraagde siektekomplekse, naamlik patogeniese swamme, te beheer, ondersteun swamdoders wat op sade toegedien word boerderypraktyke wat meer volhoubaar en doelmatig is in die belang van grond- en plantgesondheid,” sê Van Zyl.

In kombinasie, lewer gesonde grond en gesonde wortelstelsels beter resultate en word die doelwit om meer kos met minder insette te produseer, meer bereikbaar. Daar wod gereken dat produsente tans soveel as 30-40% van hul opbrengste aan peste en siektes afstaan. Beter grondbestuur kan dit verander.

Soveel as wat kos by grond begin, begin dit ook by wortels. Die wekroep is dus hard en duidelik: produsente regoor die wêreld moet hul rol en verantwoordelikheid as die primêre versorgers van landbougrond aangryp ter wille van beide voedselsekuriteit en die bestuur van klimaatsverandering.

Bron: Syngenta 

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0