Categories: Artikels, Gewasproduksie, SA294-gewasproduksiePublished On: 24th July 2024

Groentetuin vir beginners 13: Kruie

By 7 min read
1333 words

kruie 1 basil

Die gebruik van kruie in kos en as medisyne is so oud soos die mensdom, en daar is beslis plek in jou groentetuin vir ’n klompie kruie. As metgeselplante hou kruie boonop jou groente gelukkig omdat dit vriendelike insekte lok en onnutsige insekte afweer.

Groeivereistes vir kruie

Soos die meeste groente in jou tuin het kruie minstens ses uur per dag vol son nodig waar hulle in goedgedreineerde, komposryke grond groei. Omdat baie van die kruie meerjarig is, kan jy hulle eenkant saam met ander kruidagtige kruie soos roosmaryn, laventel en lourier plant wat dieselfde waterbehoeftes het.

Eenjarige kruie met sagte stingels en blare kan in die bedding saam met groente geplant word: Basiliekruid tussen jou tamatieplante sal albei plante gelukkig hou. Kruie groei net so lekker in ’n houer op die stoep, veral kruisement wat vinnig ondergronds versprei en in ’n pot darem in toom gehou kan word. Dit is maklik om kruie van saad te kweek, maar steggies in ’n bottel water of houer met groeimengsel maak ook gou wortels, veral as die klam onderpunt van die steggie eers in groeihormoon gedoop is.

Oes van kruie

  • Oes kruie vroegoggend voor die son kans kry om vlugtige olies te laat verdamp of voor sagte blaartjies verlep.
  • Pluk klein bossies van die mooiste blare, maar los die ouer blare aan die plant sodat dit verder kan groei.
  • Blaarkruie moet geoes word voordat die plante begin blom, want dan is die vlugtige olies se geur op hulle beste.
  • Kleinblaarkruie soos roosmaryn en tiemie moet stam en al gepluk word, terwyl lourierblare afsonderlik afgepluk word.
  • As jy kruieblomme vir potpourri wil oes, moet jy die kruieblomme pluk sodra hulle oopgaan.
  • Oes kruiesaad wanneer die peule of doppe bruin en ryp is en bêre in papiersakke.

Bewaar kruie

Bêre kruie in lugdigte houers in ’n donker kas. Die meeste kruie kan gedroog, gevries, of in olie en of asyn gepreserveer word. Veral kruie soos basiliekruid, tiemie en origanum, wat nie goed droog nie, is geskik vir preservering. Sagteblaarkruie soos ment en pietersielie kan in ysblokkiehouers gevries word. Roosmaryn kan takkies en al in aluminiumfoelie toegedraai word voordat dit gevries word.

Droging

Lê geoeste kruie in ’n donker, warm plek met goeie ventilasie op rakke of hang in bossies op om te droog. Stroop die blare van die stammetjies af en bewaar in lugdigte houers. Skud peule om saad los te maak en sprei uit om te droog, of plaas tussen twee velle papierhanddoek en droog in die mikrogolfoond.

Die droogtyd hang af van die soort kruie, maar maak seker dit is goed droog voor jy dit bêre, anders gaan dit muf. Kruie wat goed droog sluit dille, dragon, koljander, lourierblare, marjolein, ment, roosmaryn, salie, sitroenkruid, suurlemoenverbena, tiemie en vinkel in. Kruie wat goed gevries kan word is basiliekruid, dille, koljanderblare, komkommerkruid, ment, pietersielie, roosmaryn en sitroenkruid.

Kruie vir die kombuis

Basiliekruid (Ocimum basilicum) is ’n rypgevoelige eenjarige plant wat in volson in klam, verrykte grond geplant word. Saai saad in die lente in houers onderdak en plant uit in die somer. Knyp groeipunte uit om kompakte bossies te vorm. Gebruik in tamatiegeregte, op pizza en in pesto.

Dille (Anethum graveolens) is ’n eenjarig plant met fyn, veeragtige blare en klein geel blommetjies op lang stele. Dille groei vinnig en maklik in volson in goedgedreineerde grond. Dit blom sowat ses weke nadat dit gesaai is. Die saad en blare met ’n anysgeur word gebruik vir vis- en aartappelgeregte, in slaaie en piekels en in dille-asyn.

Dille met sy anysgeurige fyn, veeragtige blaartjies, goudgeel blommetjies op lang stele, se droë saadjies geur nie net vis- en aartappelgeregte nie, maar is ook ’n noodsaaklike toevoeging tot piekels. (Bron: Pixabay)

Franse dragon (Artemisia dracunculus var. sativa) is ’n meerjarige plant met smal blare met ’n skerp anysgeur. Dit sterf terug in die winter maar loop weer in die somer uit. Plant dit in ryk, ligte grond wat goed dreineer in ’n beskutte, sonnige plek. Dragon word in vleis-, vis-, hoender- en eiergeregte gebruik.

Grasuie (Allium schoenoprasum) groei goed tussen ander groente en in houers. Dit is gehard en groei in vrugbare, goedgedreineerde grond. Saai saad 6 mm diep in goedgedreineerde saailingbakke en plant in groepies uit wanneer die saailinge sowat 5 cm lank is. Die volgroeide polle kan uitgelig, verdeel en weer geplant word. Die grasuie sterf terug in die winter, maar loop weer uit in die somer. Die delikate geur is lekker in gaar geregte, van roereiers tot quiche en kolwyntjies, en in slaai.

Koljander (Coriandrum sativum) moet in verrykte grond wat vog behou geplant word. Dit moet gereeld natgemaak word in warm, droë weer om te voorkom dat dit saad skiet. Koljander is onmisbaar in Asiatiese en Indiese kookkuns.

Lourier (Laurus nobilis) is ’n meerjarige klein, geharde struikagtige boom met blinkgroen blare wat ewe goed in ’n houer en in die tuin in klam, goedgedreineerde grond aard. Die droë blare word in bouquet garni of op hulle eie gebruik in veral beesvleisstowegeregte en kasserolgeregte.

Marjolein (Origanum marjorana) is nou verwant aan origanum (Oregano vulgare). Albei is droogtebestand en kan in ryk grond in volson geplant word. Die saad kan in die lente binnenshuis gesaai word en in die somer uitgeplant word. Die kruie is onmisbaar in Mediterreense geregte met tamaties as basis.

Ment (Mentha spicata) werk beter as peperment en kruisement in kos. Die kruid floreer in klam, koel toestande in humusryke grond en is redelik bestand teen ryp. Die wortelstelsel versprei wyd en dis beter om dit in houers te plant. Verdeel die wortels of maak steggies in water. Dit is lekker in tamatiegeregte en kan saam met suurlemoenskil, pietersielie, knoffel en olyfolie as gremolata gebruik word. Fyngekapte ment deug ook in slaaie of souse en in gladdejantjies (smoothies).

Pietersielie (Petroselinum crispum) floreer in klam, vrugbare grond in gedeeltelike skaduwee. Saad kan van die lente tot in herfs direk in die grond gesaai word, maar die saad ontkiem vinniger as dit oornag geweek word. Hou dit nat om te verhoed dat dit saad skiet. Pietersielie word in bouquet garni of as gremolata gebruik, maar dit werk ook goed in slaaie, souse en as garnering.

Roket (Eruca vesicaria) is ’n veelsydige eenjarige krui wat maklik groei. Saai van vroeglente tot vroegsomer in ryk, goed gedreineerde grond in halfskaduwee. Oes die blare wanneer dit nog klein en sag is en gebruik in slaai; ouer blare se pepergeur is sterker en werk goed in sop, souse, pastageregte en risotto.

Roosmaryn (Rosmarinus officinalis) is droogte- en rypbestand en gedy in volson in klipperige of sanderige grond wat goed dreineer. Kweek dit in die somer van halfharde steggies in fyn, sanderige grond of in ’n houer met ligte grondmengsel waar dit kouer is. Plant dit in die lente uit. Knyp nuwe groeipunte uit of snoei die plant om ’n kompakte bossie te vorm. Roosmaryn word tradisioneel saam met lamsboud gebruik, maar fyngekapte roosmaryn werk net so goed saam met groente.

Salie (Salvia officinalis) is ’n immergroen, rypbestande meerjarige plant wat in goedgedreineerde grond in volson geplant moet word. Saai saad in die lente 5 mm diep in houers en plant vroegsomer uit, of kweek nuwe plante uit puntsteggies. Salie is lekker in vulsels vir vleisgeregte.

Sitroengras (Cymbopogon) kan van saad of saailinge in goedgedreineerde, stikstofryke grond geplant word. Die grond moet klam gehou word. Dit vorm deel van Asiatiese geregte, maar gee ook ’n vars geur aan sop en aftreksels.

Tiemie (Thymus vulgaris) word van saad of na blomtyd in die somer van halfharde steggies gekweek. Steggies wat wortels gevorm het kan al in die herfs uitgeplant word of in houers oorwinter en in die lente uitgeplant word. Tiemie se sterk geur is gewild in sop, stowe- en kasserolgeregte. Bietjie tiemie verleen ietsie ekstra aan varkvleis en gebraaide aartappels.

Tiemie het ’n sterk geur wat sop, stowe- en kasserolgeregte opkikker. (Bron: Pixabay)

Bronverwysings

Anthony, D. (2014) Enigeen kan groente kweek. Metz Press ISBN 978-1-928201-12-0 Van der Walt, L. (2023) Tien maklike kruie vir die kombuis wat jy moet kweek. Rooi Rose

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0