Categories: Artikels, SA294-gewasproduksiePublished On: 23rd July 2024

Grasse van Suid-Afrika deel 7: Pluime

By 6 min read
1004 words

Hooffoto

Kleinkanariegras (Phalaris minor)

Kleinkanariegras is lief daarvoor om in versteurde grond met baie vog te groei. In sommige provinsies word dit as ’n onkruid beskou. Wanneer die halm en wortels afgebreek word, skei dit ’n kenmerkende rooi sap af.

Hoe ken ek dit uit?

  • Dit is ’n yl gras
  • Bloeiwyses is ovaalvormig
  • Liggroen tot byna wit

Kleinkanariegras (bron: Flores Silvestres de Aragón)

Haasstert (Lagurus ovatus)

Hierdie gras sal jy waarskynlik aantref in sandgrond en skadukolle, maar dit is ook lief vir versteurde grond. Die gras is gewild vir blommeranskikkings, aangesien die pluime aantreklik is, soms helder kleure het en baie lank hou.

Hoe ken ek dit uit?

  • Bloeiwyse is ’n sagte, kompakte pluim
  • Blaarskyf is met fluweelagtige blare bedek

Haasstert (bron: Boondie Seeds)

Agtdaegras (Enneapogon desvauxii)

Kalkgrond, klipperige hellings en op rotsplate, dít is waar jy agtdaegras sal aantref. Die naam is afkomstig van die feit dat hierdie gras verskriklik vinnig groei na reënval. Dit is ’n belangrike gras in terme van erosiebekamping.

Hoe ken ek dit uit?

  • Om die knope groei ’n ring hare
  • Halms is knievormig
  • Blare is kort en draadvormig

Agtdaegras (bron: Harry Rose)

Katstertsteekgras (Aristida congesta subsp. congesta)

Hoewel hierdie gras byna enige plek groei, verkies dit leemgrond. Dit het ’n lae blaarproduksie en is dus nie ideaal vir weiding nie, hoewel dit steeds geskik is as daar nie ander weiding beskikbaar is nie.

Hoe ken ek dit uit?

  • Meerjarige polgras
  • Groei in versteurde grond
  • Het lang, wit hare

Katstertsteekgras (bron: Bonnet, Edmond & Barratte, Jean-François-Gustave)

Taaipol (Sporobolus africanus)

Hierdie gras is lief vir water en groei in klam grond en naby waterstrome. Die smaaklike blare maak dit aanloklik vir weiding, maar die lae blaarproduksie veroorsaak dat dit nie die eerste keuse vir diere is nie.

Hoe ken ek dit uit?

  • Reguit halms
  • Sterk wortelstelsel
  • Blare breek moeilik

Taaipol (bron: Steenbok Nature Reserve)

Donsgras (Imperata cylindrica)

Donsgras hou ook van water, en jy sal dit aantref in gebiede met baie reën of naby ander waterbronne. Die blare is hard en skurf. In sommige lande word dit beskou as ’n probleem onkruid.

Hoe ken ek dit uit?

  • Kruipgras
  • Blaarwyses is harig en silwerwit
  • Blare is rooibruin in die wintermaande

Donsgras (bron: Grow Wild)

Stiburus (Stiburus alopecuroides)

Hierdie gras groei in suurvelde en grond met swak dreinering. Dit is ’n onsmaaklike gras wat nie sommer as weiding dien nie. Stiburus is ’n baie mooi gras wat soms as siergras gebruik word.

Hoe ken ek dit uit?

  • Pers pluim
  • Blare het kort, wit hare
  • Meerjarige polgras

Stiburus (bron: L. von Staden)

Brakbaardgras (Polypogon monspeliensis)

Brakbaardgras groei naby waterbronne, in versteurde grond en in ’n groot verskeidenheid klimate. In Suid-Afrika is dit nie ’n goeie weigras nie, maar in ander lande word dit wel so benut.

Hoe ken ek dit uit?

  • Eenjarige polgras
  • Bloeiwyses is silwergroen
  • Blaarskyf het skurwe rande en ’n skerp punt

Brakbaardgras (bron: Neal Kramer)

Ghagras (Centropodia glauca)

Hierdie is ’n geharde gras wat hou daarvan om in sandgrond en gruiserige grond te groei. Ten spyte hiervan, is dit ’n smaaklik gras wat goed benut word as weiding. Wanneer hierdie gras groei is dit ’n goeie aanduiding van ’n gesonde Kalahariveld.

Hoe ken ek dit uit?

  • Groei in ’n struikvorm
  • Halms is bros
  • Blare is blougroen

Ghagras (bron: Ori Fragman-Sapir)

Polgras (Koeleria capensis)

Polgras kom voor in grasvelde met baie reën of in klipperige gebiede. Dit word nie gereeld bewei nie en het ’n lae blaarproduksie en harde blare.

Hoe ken ek dit uit?

  • Blare is styf en gevou of gerol
  • Halms staan regop
  • Meerjarige polgras

Polgras (bron: Lifestyle Seeds)

Kleinhawergras (Helictotrichon turgidulum)

Dié gras groei graag teen ’n skuinste, in nat plekke en daar waar water versamel. Kleinhawegras bly nog tot laat in die winter groen en dit is ’n smaaklike gras.

Hoe ken ek dit uit?

  • Bloeiwyses is ’n saamgetrekte pluim
  • Bloeiwyses kom in drie kleure: strooikleurig wanneer ryp, liggroen en pers wanneer jonk
  • Meerjarige polgras

Kleinhawergras (bron: Sten Porse)

Wollerige eragrostis (Eragrostis ciliaris)

Wollerige eragrostis groei in allerhande soorte grond, maar kom in rypvrye gebiede voor. Dit is ook lief vir versteurde grond. Dit word tot ’n mate as ’n onkruid beskou, maar kan maklik onder beheer gebring word.

Hoe ken ek dit uit?

  • Heldergroen blare
  • Donkerrooi tot pers blompakkies
  • Blaarskyf is oopgevou met ’n skurwe rand

Wollerige eragrostis (bron: O.M. Montiel)

Dronkgras (Melica decumbens)

Hierdie gras groei in skaduwees, teen hellings en tussen rotse. Dit is ’n immergroen gras en is aantreklik vir tuine. As dit te veel as weiding gebruik word, lei dit tot ’n afname in spierkoördinasie in diere, maar diere herstel gewoonlik hiervan.

Hoe ken ek dit uit?

  • Kort polgras
  • Blare is skurf en gerol
  • Blompakkies is harig en pers

Dronkgras (bron: SANBI)

Harige-drieblomgras (Tristachya leucothrix)

Jy sal hierdie gras vind in oop grasvelde, klipperige hellings en naby water of klam plekke. Aan die begin van die seisoen word dit goed bewei, maar later in die seisoen raak dit hard en onsmaaklik. Jou skapies sal lekker eet aan hierdie gras!

Hoe ken ek dit uit?

  • Meerjarige polgras
  • Blare is harig en gekrul
  • Blompakkies groei in groepies van drie

Harige-drieblomgras (bron: Johan Wentzel via Wildflower Nursery)

Klitsgras (Setaria verticillata)

Klitsgras groei in die skadu van bome, veral dáár waar oorbeweiding voorgekom het. Selfs wanneer dit droog is, is hierdie gras smaaklik en goed vir weiding. Dit word ook as hooi gebruik, veral omdat dit sy voedingswaarde behou wanneer dit uitdroog.

Hoe ken ek dit uit?

  • Bloeiwyses is liggroen met ’n skerp punt
  • Blaarskyf is oop en fluweelagtig
  • Droë blare is oop en ligbruin

Klitsgras (bron: J.M.Garg)

ProAgri sê dankie aan Frits van Oudtshoorn wat sy boek, Grasse van Suider-Afrika, beskikbaar gestel het as ’n handleiding vir die reeks. Frits is ’n weidingskonsultant en kan gekontak word by (+27)78-228-0008 of frits@alut.co.za.

Indien jy belangstel om meer oor die grasse van Suider-Afrika te leer, kan jy Frits se boek koop by Briza, Soutpansbergweg 121, Riviera, Pretoria of aanlyn via marketing@briza.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0