Grasse van Suid-Afrika deel 10: Pluime
Sandkweek (Schmidtia pappophoroides)
Sandkweek kom voor in gebiede soos droë grasveld en bosveld. Dit groei in leem- en sandgrond wat klipperig is. Hierdie smaaklike gras het gemiddelde blaarproduksie. Dit is ՚n gras wat baie goed dien as weiding en is droogtebestand.
Hoe ken ek dit uit?
• Struikagtige groeivorm
• Blare is blougroen tot grysgroen
• Het wortelvorming aan die onderste knope
Taaipol-eragrostis (Eragrostis plana)
Hierdie gras groei in versteurde grond in grasveld en bosveld. Dit kom meestal voor op klam kolle. Alhoewel dit ՚n swak weidingsgras is, word dit laat in die seisoen benut, omdat die blare lank groen bly. Taaipol wat baie algemeen voorkom kan ՚n aanduiding van oorbeweiding wees.
Hoe ken ek dit uit?
• Digte gras wat moeilik met die hand uittrek
• Blare breek moeilik
• Blompakkies het getande rande
Perdegras (Triraphis adropogonoides)
Perdegras groei in byna alle grondsoorte, veral teen klipperige hellings. Dit is ՚n onsmaaklike en harde gras. Dit dien nie goed vir weiding nie, maar word wel gebruik om besems mee te maak.
Hoe ken ek dit uit?
• Blompakkie is bruin en harig
• Knope is donkerkleurig
• ՚n Harde, regop polgras
Reddingsgras (Bromus catharticus)
Reddingsgras kom in versteurde grond voor as ՚n onkruid. In die natuur groei dit langs gebiede waar water versamel. Wanneer dit as ՚n onkruid groei, veral tussen lusern, vrugteboorde en besproeiingslande, is dit moeilik om chemies te beheer.
Hoe ken ek dit uit?
• Blompakkies is groen, plat en skurf
• Vertakkings van bloeiwyse is slap
• Ligula is ՚n wit membraan
Tef (Eragrostis tef)
Hierdie gras word langs landerye en nuwe paaie aangeplant. Dit is ՚n goeie gras vir hooi en voeding vir renperde. Verder speel dit ՚n belangrike rol in die bekamping van gronderosie.
Hoe ken ek dit uit?
• Blaarskyf is haarloos, dun en sag
• Liggroen wanneer jonk
• Blaarskede is platgedruk
Stingelgras (Loudetia simplex)
Stingelgras is lief vir bosveldgebiede met ՚n hoë reënval. Dit groei ook goed langs riviere en vleie. Waar hierdie gras groei, is daar waarskynlik arm grond of selektiewe oorbeweiding. Die gras word soms vir tuinbou of blommerangskikkings gebruik.
Hoe ken ek dit uit?
• Ou blaarskedes breek op in vesels
• Knope is harig
• Bloeiwyses is oop of saamgetrek en ligbruin
Fynsaadgras (Sporobolus fimbriatus)
Hierdie gras verkies sandgrond wat goed gedreineer is. Fynsaadgras is smaaklik met ՚n hoë blaarproduksie en dien dus goed as weiding. Alhoewel dit blousuur bevat, is vergiftiging selde ՚n probleem.
Hoe ken ek dit uit?
•Bloeiwyses is groot met baie ver-takkings
•Blare is basaal gekonsentreer
•Blare het ՚n prominente hoofaar
Klewerige eragrostis (Eragrostis viscosa)
Klewerige eragrostis groei in versteurde sandgrond. Dit groei goed daar waar water versamel. Hierdie gras is ՚n geharde pioniergras en is gewoonlik ՚n aanduiding van versteuring in sandgrond. In warm dele groei dit as onkruid, maar word maklik beheer.
Hoe ken ek dit uit?
•՚n Aantreklike, gekleurde gras
•Baie aromaties
•Pers blompakkies
Gomgras (Eragrostis gummiflua)
Dié gras groei goed in vogtige plekke en daar waar water versamel. Gomgras is baie hard en onsmaaklik, maar word wel deur donkies bewei.
Hoe ken ek dit uit?
•Boonste deel van blaarskede is met ՚n klewerige stof bedek
•Klewerige gedeeltes is ligbruin tot pers
•Bloeiwyses is pienk tot pers
Klein-panicum (Panicum ecklonii)
Klein-panicum groei in suur grasvelde, teen hellings, op klam plekke en in sanderige grond. Dit groei gereeld daar waar dit dikwels brand. Hierdie is ՚n aantreklike gras wat gereeld in tuine geplant word.
Hoe ken ek dit uit?
•Blare is heldergroen
•Bloeiwyses is pers
•Blare is fluweelagtig behaar
Suurbuffelgras (Panicum natalense)
Hierdie gras groei in bergagtige grasvelde met ՚n hoë reënval. Dit groei goed teen klipperige skuinstes en veld wat gereeld brand. Suurbuffelgras is onsmaaklik en word slegs bewei in die lente na veldbrande, wanneer die blare sag is. Dit speel ՚n belangrike rol om panicumdie bogrond in bergagtige gebiede teen erosie te beskerm.
Hoe ken ek dit uit?
•Groot, digte polle
•Blare is blougroen en gerol
•Blaarskede is rond en dun
Kruipgras (Panicum repens)
Kruipgras is lief daarvoor om in of naby waterbronne te groei – hetsy vars of brak water. Hierdie gras word bewei deur vee en wilde diere. Dit word soms ook aangeplant as weiding. Sodra dit gevestig is, is dit moeilik om te verwyder.
Hoe ken ek dit uit?
•Blare is styf met harde, skerp punte
•Blompakkies het oranje meeldrade
•Groei altyd in of naby water
Kleinbuffelgras (Panicum coloratum)
Kleinbuffelgras groei in gras- en bosvelde met matige reën. Dit groei goed in kleigrond. Alhoewel dit ՚n goeie weidingsgras is, kom dit nie gereeld in die natuur as weidingsgras voor nie.
Hoe ken ek dit uit?
•Knope is pers
•Halms en blare is harig
•Wissel in groeivorm volgens streek
Soetgras (Panicum schinzii)
Hierdie gras groei altyd naby water. In landerye groei dit gereeld as ՚n onkruid en ding ernstig mee met mielies. Dit is ՚n smaaklike gras met hoë blaarproduksie in vogtige toestande.
Hoe ken ek dit uit?
•Hele plant is haarloos
•Halms is rooi of pers
•Blaarskyf het ՚n wit hoofaar
Blousaadgras (Tricholaena monachne)
Dié gras groei goed in bosveld en grasvelde. Dit groei ook goed in versteurde grond, en verkies sandgrond. Alhoewel dit gemiddelde blaarproduksie en smaaklikheid lewer, is dit ՚n belangrike weidingsgras in droë gebiede.
Hoe ken ek dit uit?
•Blare is blougroen
•Blompakkies het ՚n persblou skynsel
•Blompakkies is haarloos
ProAgri sê dankie aan Frits van Oudtshoorn wat sy boek, Grasse van Suider-Afrika, beskikbaar gestel het as ՚n handleiding vir die reeks. Frits is ՚n weidingskonsultant en kan gekontak word by (+27)78-228-0008 of frits@alut.co.za.
Indien jy belangstel om meer oor die grasse van Suider-Afrika te leer, kan jy Frits se boek koop by Soutpansbergweg 121, Riviera, Pretoria of aanlyn via marketing@briza.co.za.