Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 31st January 2024

Grasse van Suid-Afrika deel 1: Wat is gras?

By 7 min read
1436 words

pexels-matthias-cooper-580900

Wat is gras?

“Gras” is ’n term met baie verskillende betekenisse. Dít wat ’n kind sal sê verskil heeltemal van wat byvoorbeeld ’n boer as gras as sal omskryf. Dit is dus moeilik om die werklike betekenis van gras in een sin op te som. Deur die loop van hierdie reeks sal verskillende aspekte van gras bespreek word.

Gras is ongeveer 10 000 jaar gelede vir die eerste keer aangeplant as ’n kossoort. Selfs vandag nog val mielies, koring en rys onder gras. Dit maak gras een van die belangrikste plantfamilies op aarde. Die meeste diere is afhanklik van gras as ’n bron van voedsel.

Gras is egter ook baie belangrik vir die beskerming van grond teen reën en wind. Die groeivorm van gras dien as ’n grondstabiliseerder en grondbeskerming.

Een van die maniere hoe ‘n mens gras kan uitken, is deur die afwesigheid van helderkleurige blomme. Dit is ’n plant met blare wat uit drie dele bestaan: ’n lang smal blaarskyf, ’n blaarskede en ’n tongetjie (ligula).

Die eerste grasse kom waarskynlik van woude af. Die breë blare van die gras kon met die hoë bome meeding vir die sonlig. Dit was in die tyd toe al kontinente nog saamgesmelt was. Soos die kontinente uitmekaar gedryf het en verskillende klimate gevorm het, het gras daarby aangepas en groei nou in alle habitatte waar plantegroei moontlik is.

Uit alle plantfamilies, is die grasfamilie die vierde grootste op aarde met omtrent 9 700 spesies. Uit al hierdie spesies kom byna ’n tiende in Suider-Afrika voor. Uit die 967 grasspesies wat hier voorkom, is 329 daarvan endemies. Die gras wat in Suider-Afrika groei is veral geskik vir weiding en meer as 40 van die grasspesies wat hier voorkom word internasionaal as weiding aangeplant.

Gebruike van gras

Graan: Graan is ’n belangrike vorm van gras, aangesien dit maklik verbou word en hoog is in energiewaarde. Dit sluit in mielies, rys, koring, gars, sorghum, rog en hawer.

Suikerriet: Suikerriet word gepars om die sap te verkry. Hierdie sap bevat baie suiker. Suikerriet word ook gebruik om stroop, melasse, rum, alkohol, gom en veevoer te maak.

Grasperke: Sportvelde en grasperke is ’n groot bedryf, waarvan die kweek, aanplant en bestuur hoogs gespesialiseerd is. Sportliggame en maatskappye spandeer baie geld aan die regte oppervlak en saad. Gras is ook aantreklik in tuine. Dit is egter belangrik om nie uitheemse grassoorte aan te plant nie. Inheemse gras hou baie meer voordele in, soos die verskeidenheid voëls wat dit na ’n tuin lok.

Blommerangskikkings: Party grasse, soos bewertjiegras en haastert, word in blommerangskikking gebruik.

Konstruksie: In konstruksie word gras meestal gebruik vir grasdakke of die bou van mure. Die dekgrasbedryf is baie groot in Suider-Afrika en een van die volhoubaarste bedrywe.

Gebruiksartikels: Gras kan gevleg word om ’n groot aantal gebruiksartikels te vorm, soos besems, mandjies, matte, hoede en heinings.

Olies: Vlugtige olie wat van gras gemaak word, word al vir jare benut. Dit sluit in byvoorbeeld sitronella-olie, palmarosa-olie, kuskusolie en nardusolie.

Gras en ekologie

In ekologie dien gras as ’n voedselbron en habitat vir diere. Dit dien ook as brandstof vir veldbrande. Onversteurde gras speel ’n belangrike rol in die binding en berging van koolstof.

Gras word ingesluit in die meeste voedselkettings. Aan die onderkant van die voedselketting is daar gewoonlik diere wat die gras eet. Op hierdie manier is selfs roofdiere indirek afhanklik van gras. Diersoorte wat die meeste gras benut is:

Grasvreters

Grasvreters, soos buffels, sebras, blouwildebeeste en beeste, kom in massas in onversteurde grasvelde voor. Hulle vreet die meeste gras en het dus ook die grootste impak op die grasvelde. Hierdie diere sal so ver gaan as om te migreer agter grasvelde aan. Gras is egter ook afhanklik van die grasvreters, aangesien die diere ou materiaal verwyder, groei stimuleer, bemesting bied in die vorm van mis, en die hoewe van troppe diere die korslae van die grondoppervlak breek om ontkieming van nuwe saailinge te bewerkstellig.

Knaagdiere

Grassade en die basis van grashalms waar reserwevoedingstowwe geberg word, is baie voedsaam en word deur die meeste knaagdiere geëet. Knaagdiere gebruik ook grasvelde skuiling.

Voëls

Voëls bou hulle nessies van grasse, skuil in riete of leef net van grassade.

Insekte

Insekte, veral sprinkane en termiete, gebruik gras as kos of skuiling. Die bruinsprinkaan kom voor in swerms van tot drie-miljoen en kan tonne gras in ’n kort tydperk opeet. Sommige insekte, veral besies, eet grasstuifmeel.

Gras en weiding

Grasse se groeipunte is naby aan die oppervlak van die grond waar dit buite bereik van weidende diere is. Gras berg ook reserwevoedingstowwe wat hulle later gebruik vir hergroei in hulle wortels en halmbasisse. Op hierdie maniere is grasse goed aangepas vir ontblaring deur beweiding, brand of sny.

Wanneer grasse ontblaar word, word hergroei gestimuleer. Vir die hergroei gebruik dit die reserwevoedingstowwe in die basis van die plant. Hierdie reserwevoedingstowwe word deur fotosintese geproduseer. Soos wat nuwe blare ná ontblaring vorm en weer normaal kan fotosineer, word die reserwerbronne weer aangevul. Rus na beweiding is nodig om gras in ’n gesonde en groeikragtige toestand te hou.

Ontblaring is goed vir die grasplant, aangesien dit verhoed dat oormatige dooie materiaal op die plant agterbly. Dit kan veroorsaak dat die graspol versmoor en afsterf.

Oorbeweiding is egter die oorsaak van die meeste veldagteruitgang. Oorbeweiding is wanneer ’n stuk veld herhaaldelik sonder enige rus bewei word , wat veroorsaak dat die reserwevoedingstowwe uitgeput raak. Dit lei daartoe dat die plant se wortelstelsel verswak, sukkel om water en voedingstowwe te absorbeer en dan afsterf. Oorbeweiding lei daartoe dat die plantegroeibedekking op die bogrond wat as beskerming dien verwyder word. Dit verlaag ook die drakrag van die veld.

Grasse verskil in die hoeveelheid weibare materiaal wat hulle produseer. Sommige grassoorte word bevoordeel deur om bewei te word, in die vorm van bemesting, en is dus smaaklik om diere te lok. Ander grasse produseer min of onsmaaklike blare, aangesien hulle kies om nie bewei te word nie.

Gras word gebruik om allerhande huishoudelike items te maak, soos hierdie besems. (Bron: Pixaby)

Die weidingswaarde van gras word deur die volgende beïnvloed:

Produksie: Dit is die vermoë van gras om baie of min blare te vorm

Smaaklikheid: Dit is hoe aanvaarbaar of smaaklik gras vir die grasvreters is. Dit word beïnvloed deur verteerbaarheid en voedingstowwe.

Voedingswaarde: Dit dui op die hoeveelheid voedingstowwe wat die gras bevat. Gras absorbeer voedingstowwe vanuit die grond of produseer dit self. Die belangrikste faktor in terme van voedingswaarde is die hoeveelheid ru-proteïen in die plant.

Groeikragtigheid: Dit is die plant se vermoë om na beweiding vining te groei en weer weibaar te wees.

Verteerbaarheid: Verteerbaarheid word bepaal deur die veselinhoud van die blare. Hoe meer vesel in die blare, hoe laer in die verteerbaarheid.

Habitatvoorkeur: Grasse wat in nat gebiede groei, het hoër blaarproduksie, waar grasse wat in stikstofryke grond groei, meer voedingswaarde bevat.

Gras se blare bestaan uit drie dele: ’n lang smal blaarskyf, ’n blaarskede en ’n tongetjie. (Bron: Pexels)

Gras en gronderosie

Gronderosie is wanneer gronddeeltjies deur water en wind verwyder word. Natuurlike gronderosie is ’n natuurlike proses wat oor miljoene jare plaasvind en lei tot die vorming van bergreekse en vlaktes. Tydens hierdie proses is daar ’n balans tussen grondvorming en grondverlies.

Versnelde gronderosie is ’n vinnige proses wat veroorsaak dat miljoene tonne vrugbare bogrond verwyder word en in die see beland. Versnelde gronderosie word veroorsaak deur die verwydering van die plantegroeilaag op die grondoppervlak. Dit gebeur gewoonlik deur herhaalde oorbeweiding, nie-volhoubare oes van vuurmaakhout en meganiese grondversteurings, soos ploeg. Die ontblote grond wat blootgestel word aan wind en reën lei tot erosie.

Die veld waarvan die bogrond weggespoel is deur erosie, kan nie grassoorte onderhou soos voorheen nie. Die rede hiervoor is dat die grond wat weggespoel is meer vrugbaar is as die grond wat agterbly, wat produktiwiteit laat afneem. Die yl gras wat op hierdie tipe grond voorkom, kan nie reënwater doeltreffend opvang nie, wat vog vir plantegroei verminder. Die ontblote grond se temperatuur is hoër, wat verdamping verhoog.

Grasse beskerm grond teen erosie. Die grondbedekking, lae groeivorm en uitgebreide wortelstelsel help om die grond te stabiliseer. Plante vertraag die spoed waarteen reënwater afloop, wat waterindringing en die beskikbaarheid van vog vir plante verhoog. Plante beskerm ook die grond teen die son, die slag van reëndruppels en wind. Die dooie blare wat van plante af val en op die grond beland word bewerk deur mikrorganismes om die vrugbaarheid en waterhouvermoë van die grond te verbeter.

Bron: Van Oudtshoorn, F. (2012). Gids tot Grasse van suider-Afrika. (3de uitgawe). Briza Publikasies.

Frits van Oudtshoorn is ‘n weidings konsultant en kan gekontak word by 078 228 0008 of frits@alut.co.za.

1
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1