Graan SA: Voedselsekerheid begin by ’n lewensvatbare produksiebasis

nickype-rye-5447847_1920
Photo: Pixabay
Graan SA het hierdie week deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se Nasionale Ondersoekverhoor na die voedselsisteme van Suid-Afrika en die organisasie se verbintenis herbevestig om die grondwetlike reg van alle Suid-Afrikaners op toegang tot voldoende voedsel te ondersteun.
Graan SA se uitvoerende hoof, dr Tobias Doyer, het op 7 Julie 2026 die organisasie se produsentgefokusde perspektief tydens die verhoor aangebied en die sentrale rol beklemtoon wat graan- en oliesaadprodusente in Suid-Afrika se voedselsekerheid, landelike ekonomieë en die bekostigbaarheid van stapelvoedsel speel.
Die ondersoek fokus op die strukturele, ekonomiese en beleidsfaktore wat toegang tot voldoende, bekostigbare en voedsame voedsel in Suid-Afrika beïnvloed. Graan SA verwelkom die geleentheid om tot hierdie belangrike nasionale gesprek by te dra en om die rol van primêre produksie binne die breër voedselsisteem duidelik te stel.
“Voedselsekerheid begin waar voedsel geproduseer word. Produsente funksioneer in landelike gemeenskappe waar boerdery werk, bestaansmiddele en plaaslike ekonomieë ondersteun. Ons rol is om te help verseker dat voedsel so veilig, voedsaam en bekostigbaar as moontlik geproduseer kan word, terwyl ons ook erken dat graanboerdery ekonomies volhoubaar moet bly,” het dr Doyer gesê.
Tydens die verhoor het Graan SA beklemtoon dat voedselbekostigbaarheid oor die volle waardeketting verstaan moet word. Die prys wat aan ’n produsent betaal word, is nie dieselfde as die prys wat ’n verbruiker op die rak betaal nie, en produsente bepaal nie finale voedselpryse nie. Die prys wat aan ’n produsent betaal word, is nie dieselfde as die prys wat ’n verbruiker betaal nie. Finale voedselpryse word deur baie faktore buite die plaashek beïnvloed.
Graan SA het daarom gewaarsku teen die oorvereenvoudigde persepsie dat boere alleen vir hoë verbruikersvoedselpryse verantwoordelik gehou kan word. Finale voedselpryse en voedselinflasie word deur verskeie faktore buite die plaashek beïnvloed, insluitend brandstof, kunsmis, elektrisiteit, vervoer, berging, verwerking, vervaardiging, verpakking, infrastruktuurbeperkings, kleinhandelmarges en huishoudelike koopkrag.
Dr Doyer het daarop gewys dat, in die geval van brood, minder as 20% van die finale prys van ’n brood aan die koringprys gekoppel is, terwyl die balans deur maal, bak, vervoer, energie, verpakking en kleinhandelverwante koste beïnvloed word.
“Produsente is dikwels die koste-absorbeerders in die voedselsisteem. Stygende brandstof-, kunsmis- en energiekoste plaas ernstige druk op plaasvlak-lewensvatbaarheid, maar hierdie koste word nie altyd onmiddellik weerspieël in wat produsente ontvang nie. Indien boere nie oor tyd die koste van produksie kan verhaal nie, word produksiekapasiteit, werksgeleenthede en langtermyn-voedselsekerheid in gevaar gestel,” het dr Doyer gesê.
Graan SA het ook die impak van infrastruktuur op voedselbekostigbaarheid beklemtoon en daarop gewys dat swak paaie, spoorbeperkings en lang vervoerafstande vanaf produksiegebiede na verbruikersentrums koste tot die voedselsisteem toevoeg. Verbeterde infrastruktuur sal meer doeltreffende graanbeweging ondersteun en tot ’n meer mededingende en bekostigbare voedselwaardeketting bydra.
Wat handel en koringproduksie betref, het Graan SA herhaal dat die organisasie oop en mededingende markte ondersteun, maar dat plaaslike produsente nie verwag kan word om op ongelyke terme mee te ding teen produkte uit lande waar produsente swaar gesubsidieer word nie. Graan SA het beklemtoon dat die behoud van plaaslike produksiekapasiteit nie net oor voedselpryse gaan nie, maar ook oor werksgeleenthede, landelike inkomste en huishoudings se vermoë om voedsel te bekostig.
“Voedselsekerheid gaan nie net daaroor of voedsel fisies beskikbaar is nie. Dit gaan ook daaroor of mense inkomste, werk en ekonomiese geleenthede het om daardie voedsel te kan koop. Indien plaaslike produksie verswak word, word landelike ekonomieë saam daarmee verswak,” het dr Doyer gesê.
Die organisasie het verder die belangrikheid van navorsing, tegnologie en innovasie beklemtoon om voedselproduksie doeltreffend en bekostigbaar te hou. Verbeterde kultivars, klimaatslim praktyke, presisieteling, verantwoordelike gewasbeskerming en beter agronomiese praktyke dra alles by tot hoër opbrengste, laer produksierisiko en meer stabiele voorsiening oor tyd.
Graan SA het erken dat tegnologieë en landboumiddels verantwoordelik gebruik moet word, met behoorlike opleiding, beskermende toerusting, goeie landboupraktyke en doeltreffende beheermaatreëls om misbruik te voorkom. Die organisasie se standpunt is dat Suid-Afrika wetenskapgebaseerde, praktiese en plaaslik relevante regulering benodig wat mense beskerm, terwyl dit ook die produksie-instrumente beskerm wat nodig is om voedsel volhoubaar te produseer.
Graan SA het ook die verhoor gebruik om sy produsente-otwikkelingswerk uit te lig, insluitend ondersteuning aan opkomende, ontwikkelende en bestaansboere deur opleiding, mentorskap, toegang tot insette, tegniese leiding en tegnologie-oordrag. Deur Graan SA se landbou-ontwikkelingsprogram, Phahama Grain Phakama (PGP) ondersteun Graan SA boere om produktiwiteit te verbeter, huishoudelike voedselsekerheid te versterk en na meer volhoubare boerderyondernemings te vorder.
Die organisasie het erken dat transformasie en inklusiewe deelname aan landbou steeds kritieke uitdagings bly. Sekerheid van grondbesit, toegang tot finansiering, infrastruktuur, tegnologie en praktiese openbare-private vennootskappe is geïdentifiseer as sleutelbemagtigers vir ontwikkelende boere om te groei en betekenisvol aan die landbou-ekonomie deel te neem.
Graan SA het verder herbevestig dat die reg op voedsel ’n gedeelde verantwoordelikheid is waarby die regering, produsente, verwerkers, kleinhandelaars, insetverskaffers, navorsers, die burgerlike samelewing en verbruikers betrokke is. Binne hierdie sisteem is Graan SA se bydrae daarop gefokus om betroubare en volhoubare produksie te versterk, plaasvlak-doeltreffendheid te verbeter, inklusiewe boereontwikkeling te ondersteun, in navorsing en innovasie te belê, en deursigtige en funksionele markte te bevorder.
“Om hongersnood, bekostigbaarheid en voedingsuitdagings op te los, vereis ’n gebalanseerde en bewysgebaseerde benadering. Suid-Afrika benodig ’n voedselsisteem wat verbruikers beskerm, produsente ondersteun en die hele waardeketting in staat stel om doeltreffend en verantwoordelik te funksioneer. Produsente kan nie alleen verantwoordelik gehou word vir verbruikersvoedselpryse nie, maar sonder lewensvatbare boere word die land se voedselsekerheid in gevaar gestel. ’n Lewensvatbare produksiebasis is nie in konflik met voedselbekostigbaarheid nie – dit is ’n voorvereiste daarvoor,” het dr Doyer gesê.
Graan SA bly verbind tot konstruktiewe betrokkenheid met die Kommissie, die regering en alle voedselsisteem-belanghebbendes om die progressiewe verwesenliking van voldoende, bekostigbare en voedsame voedsel vir alle Suid-Afrikaners te ondersteun.