Categories: NuusPublished On: 19th June 2026

Graan SA verwerp koringtariefbesluit: “Suid-Afrika kan nie bekostig om sy koringprodusente te verloor nie”

By 6 min read
1186 words

kaipilger-wheat-2549245_1280

Graan SA verwerp ten sterkste die finale uitkoms van die koringtariefwysigingsondersoek, ná bevestiging in die Staatskoerant dat die Dollar-gebaseerde verwysingsprys (DBRP) vir koring onveranderd op US$279 per ton sal bly en dat geen outomatiese snellermeganisme geïmplementeer sal word nie.

Die aansoek, wat deur Graan SA en die South African Cereals and Oilseeds Trade Association (SACOTA) ingedien is, het versoek dat die koringverwysingsprys van US$279/ton na US$289/ton verhoog word, asook dat ’n meer doeltreffende meganisme ingestel word om vertragings tussen tariefsnellers en implementering aan te spreek.

Geen van die kernversoeke wat deur die bedryf ingedien is, is goedgekeur nie.

Graan SA beskou hierdie besluit as ’n ernstige slag vir koringprodusente en vir die langtermynvolhoubaarheid van Suid-Afrika se plaaslike koringbedryf.

“Ons is nie tevrede met hierdie uitkoms nie, en ons aanvaar nie die redenasie waarop dit gebaseer is nie,” sê dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA. “Die besluit weerspieël nie die werklikheid op koringplase regoor Suid-Afrika nie. Produsente is onder druk weens stygende insetkoste, wisselvallige markte, hoë finansieringskoste, logistieke uitdagings en onregverdige internasionale mededinging. Om voor te hou dat die huidige raamwerk voldoende beskerming bied, stem eenvoudig nie ooreen met wat produsente ervaar nie.”

Graan SA sal nou alle beskikbare weë ondersoek om die besluit teen te staan en sal voortgaan om te veg vir ’n billike, werkbare en ekonomies realistiese koringtariefbedeling.

Suid-Afrikaanse koringprodusente word verwag om in ’n wêreldmark mee te ding waar baie internasionale mededingers voordeel trek uit aansienlike staatsondersteuning, direkte en indirekte subsidies, en gunstiger beleidsomgewings. Plaaslike produsente ontvang geen vergelykbare ondersteuning nie, maar daar word steeds van hulle verwag om die produksierisiko te dra, gehaltestandaarde te handhaaf, kostestygings te absorbeer en mee te ding teen invoere wat in ’n sterk verwronge wêreldmark geprys word.

“Hierdie besluit sê in werklikheid vir produsente dat hulle onder toenemend moeilike omstandighede moet aanhou produseer, terwyl hulle onvoldoende beleidsondersteuning ontvang,” sê Doyer. “Dit is nie volhoubaar nie. As Suid-Afrika plaaslike koringproduksie wil hê, moet beleid die realiteite van koringproduksie in hierdie land erken.”

Graan SA is veral bekommerd dat die huidige beleidsbenadering die gehaltestrategie ondermyn wat Suid-Afrika se koringbedryf hard gewerk het om te handhaaf.

Suid-Afrikaanse koringprodusente produseer hoëgehalte koring wat deur meulenaars en verwerkers hoog aangeslaan word. Die mark vergoed produsente egter nie voldoende vir hierdie gehalte nie. Daar word van produsente verwag om gehalte te lewer, maar die prysomgewing ondersteun nie die bykomende koste en produksierisiko wat met dié gehalte gepaard gaan nie.

Graan SA is veral teleurgesteld dat die aansoek deur die National Chamber of Milling teengestaan is, terwyl dié bedryf direk afhanklik is van die gehaltekoring wat deur Suid-Afrikaanse boere geproduseer word.

“Dit is uiters teleurstellend dat die einste waardeketting wat by plaaslike koringgehalte baat, ’n maatreël sou teenstaan wat daarop gemik is om daardie produksie lewensvatbaar te hou,” sê Richard Krige, voorsitter van Graan SA. “Meulenaars waardeer Suid-Afrikaanse koringgehalte, maar produsente kan nie aanhou om die koste en risiko van daardie gehalte te dra as die mark- en beleidsomgewing weier om hulle daarvoor te vergoed nie.”

“As gehalte nie waardeer en betaal word nie, sal produsente toenemend gedwing word om hul produksiestrategieë te heroorweeg,” sê Krige. “Suid-Afrikaanse koringprodusente is aangemoedig om gehaltekoring te produseer, maar die mark- en beleidsomgewing beloon hulle nie daarvoor nie. As produsente nie vir gehalte betaal kan word nie, sal hulle geen ander keuse hê as om op opbrengs en hoeveelheid te fokus bloot om te oorleef nie. Dit is basiese sakebeginsels, nie dreigemente nie. Jy kan nie aanhou om gehalte te produseer as daar geen mark vir gehalte is nie.”

Graan SA waarsku dat hierdie uitkoms ’n verskuiwing weg van hoëgehalte koringproduksie kan versnel, aangesien produsente gedwing word om opbrengs, kultivars en produksiebesluite te prioritiseer wat die beste kans op finansiële oorlewing bied.

Die Staatskoerant stel dat die huidige DBRP steeds doeltreffende ondersteuning bied, winsgewendheid moontlik maak en dat die plaaslike koringbedryf winsgewend bly. Graan SA betwis hierdie gevolgtrekking ten sterkste.

Die organisasie voer aan dat die aannames waarop die besluit gebaseer is, nie die druk op plaasvlak weerspieël nie. Insetkoste het die afgelope dekade skerp gestyg, terwyl produsentepryse nie tred gehou het met die volle koste van produksie nie. Kunsmis, brandstof, chemikalieë, arbeid, finansiering, meganisasie en logistiek plaas almal volgehoue druk op koringboerderye. Die Kommissie is van mening dat netto plaashekpryse meer gestyg het as insetkoste, maar dit stem nie ooreen met die werklikheid wat produsente ervaar nie.

Die afname in aangeplante koringhektare weerspreek verder die siening dat die huidige stelsel voldoende ondersteuning bied. Produsente heroorweeg voortdurend of koring steeds ’n lewensvatbare gewas binne hul boerderystelsels is, terwyl beleidsonsekerheid vertroue verder verswak.

“Die ware toets van beleid is nie hoe dit op papier lyk nie,” sê Krige. “Die ware toets is of produsente genoeg vertroue het om aan te hou plant. Op die oomblik word daardie vertroue ondermyn.”

Graan SA is ook diep teleurgesteld dat die regering vertragings in tariefimplementering erken het, maar nie daarin geslaag het om ’n praktiese, onmiddellike oplossing te bied nie.

Die Staatskoerant erken dat vertragings tussen ’n tariefsneller en implementering die doeltreffendheid van die tarief kan ondermyn en markversteurings kan skep. In plaas daarvan om egter ’n outomatiese snellermeganisme goed te keur of ’n duidelike alternatief te bied, verwys die finale uitkoms die aangeleentheid bloot vir verdere gesprekke tussen staatsdepartemente – nadat daar reeds 19 maande daaroor beraadslaag is.

Dit is een van die mees frustrerende aspekte van die besluit,” sê Doyer. “Die regering erken dat die stelsel ondoeltreffend is, maar produsente word weer eens sonder sekerheid, sonder tydlyne en sonder ’n werkbare oplossing gelaat. Koringprodusente kan nie plant- en beleggingsbesluite neem op grond van eindelose toekomstige konsultasies nie.”

Graan SA glo hierdie besluit stuur die verkeerde sein aan produsente op ’n tydstip wanneer Suid-Afrika plaaslike voedselproduksie, werkskepping en groter veerkragtigheid in die landbouwaardeketting behoort te versterk, terwyl invoerafhanklikheid verminder word.

’n Verswakkende plaaslike koringbedryf sal nie slegs koringboere raak nie. Dit sal ook insetverskaffers, werktuighandelaars, vervoerders, opbergingsfasiliteite, meulenaars, plattelandse dorpe, werkers en verbruikers raak. Verminderde plaaslike produksie verhoog Suid-Afrika se blootstelling aan internasionale prysskokke, wisselkoerswisselvalligheid, uitvoerbeperkings en wêreldwye aanbodversteurings.
Verbruikers mag glo dat beperkte tariefbeskerming hulle op kort termyn bevoordeel, maar die langtermyngevolge van dalende plaaslike produksie sal uiteindelik deur die hele land gedra word.

“Die vraag is nie of Suid-Afrika kan bekostig om sy koringprodusente te ondersteun nie,” sê Krige. “Die vraag is of Suid-Afrika kan bekostig om hulle te verloor.”

Graan SA bly verbind tot konstruktiewe skakeling, maar sal nie stilbly wanneer produsente se volhoubaarheid in gevaar gestel word nie.

Die organisasie sal voortgaan om te pleit vir ’n koringtariefraamwerk wat billik, responsief en in ekonomiese werklikheid gegrond is. Graan SA sal ook die nodige weë volg om teen die uitkoms te appelleer of dit teen te staan, en sal sy skakeling met die regering, bedryfsrolspelers en produsente verskerp om die pad vorentoe te bepaal.

“Koringprodusente vra nie vir spesiale behandeling nie,” sê Doyer. “Hulle vra vir ’n billike kans om te oorleef, mee te ding en voort te gaan om voedsel vir Suid-Afrika te produseer. Koringboere sal gesamentlik, as Graan SA, hierdie stryd om oorlewing voortsit

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0