Francois Rossouw: WK Jongboer “’n waardige ambassadeur”

BIFENG
Francois Rossouw ontvang die gesogte 2025 Santam Jongboer van die Jaar-trofee tydens ‘n glansgeleentheid in die Paarl. Hy ding later vanjaar mee teen jongboere van ander provinsies om die gesogte nasionale titel. (Bron: Agri Wes-Kaap)
Francois Rossouw van Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei is pas aangewys as Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar 2025.
Francois is die vierde geslag wat sedert 2018 op die familieplaas in De Doorns in die Hexriviervallei met tafeldruiwe boer.
Grootwordjare
Francois het hier tussen die wingerde in die grootgeword en skoolgegaan voor hy Hoerskool Stellenbosch toe is en op Stellenbosch Universiteit Landbou studeer het. Nadat hy ‘n Honneursgraad in Landbou-ekonomie verwerf het, is hy ‘n jaar lank in Europa en Amerika om ‘n wyer perspektief van die bedryf te kry. Na drie maande by ‘n kultivarteler in Amerika, is hy in Oktober daardie jaar ‘n vakante posisie as bestuurder op Mooigezicht aangestel.
Familieboerdery
Francois se oupagrootjie, Fanie Rossouw, oorspronklik van Wellington, het in 1928 die boerdery in die Hexriviervallei begin. Sy oupa Stephanus het by hom oorgeneem en ‘n maatskappy gestig. Sy pa Francois Rossouw sr, tans besturende direkteur, het op 23-jarige ouderdom by hom aangesluit. Later het sy pa se broer Stephan betrokke geraak en is mede-eienaar en bemarkingsdirekteur. Sy pa se jongste suster Laetitia is ook betrokke by bemarking, terwyl haar man Tyron Jardim op die direksie van Mooigezicht en is logistieke bestuurder.
Mooigezicht-boerdery bestaan tien produksie-eenhede wat uit 400 ha tafeldruiwe wat tans agtien pitlose variëteite produseer wat regoor die wêreld, van Kanada en Amerika, Europa, die Verenigde Koninkryk, die Midde-Ooste, Suidoos-Asië en Sjina uitgevoer word.
Die boerdery staan op vier bene, naamlik produksie, bemarking en logistieke en pakmateriaal wat gesamentlik maksimum waarde tot die produk toevoeg.
Francois dien op die direksie waar hy strategiese en finansiële take help hanteer. Hy is verantwoordelik vir die helfte van die tien produksie-eenhede, en sy take sluit die daaglikse bestuur en begrotings van die eenhede in. Hy het ook oorhoofse take op die hele plaas, soos grondvoorbereiding, besproeiing en spuitprogramme. Tans werk hy ook aan ‘n groot sonenergieprojek wat binnekort in bedryf gestel word.
- Van links na regs, Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, Villiers Villiers Loubser, Agri Wes-Kaap president, Francois Rossouw, Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar 2025, en Niel Esterhuyse van Santam, die borg van die kompetisie. (Bron: Agri Wes-Kaap)
Water en grond
Die vrugbare Hexriviervallei met sy besondere klimaat is uiters geskik vir die verbouing van tafeldruiwe. Dit is dan ook die oudste tafeldruifgebied in die land met die langste seisoen in die wêreld wat duur vanaf week 50 tot week 15 of 16, afhangende van die seisoen.
Mooigezicht kry vars water uit die Matroosberg wat hulle in opgaardamme stoor vir wanneer die waterskema nie genoeg water vir hulle behoeftes het nie. Wintersneeu vul ondergrondse waterbronne aan wat die boorgate op die plaas voed.
“Grondvoorbereiding is een van my belangrike oorhoofse rolle. Omdat daar verskillende tipes grond – van klipgrond tot swaar kleigrond – voorkom, is dit belangrik om voor die vestiging van nuwe wingerde die grond te evalueer, voorbereidingstegnieke te oorweeg, en chemiese regstellings te doen deur presisiestrooiers te gebruik.”
- Francois Rossouw en sy pa Francois Rossouw sr. (Bron: Verskaf)
- Op Mooigezicht Estate in de Doorns in die Hexriviervallei word met 18 pitlose tafeldruifkultivars geboer.
Arbeid
Arbeid is die grootste hulpbron en maak nagenoeg 40% van die uitgawes uit. “Ons doen arbeidsbeplanning- en begrotings en ons kyk baie mooi na die mense wat saam met ons hierdie pad stap.”
Tafeldruiwe is uiters arbeidsintensief. “Ons berei tussen 50 000 en 60 000 trosse per hektaar voor vir oestyd en elkeen moet tussen vyf en sewe keer met ‘n hand bewerk word voordat dit pakstoor toe gaan.” Daar word nie in hierdie stadium van meganisasie gebruik gemaak nie omdat dit nie juis bestaan nie.
“Opleiding en opheffing van ons werkers is belangrik en om veral vir ons permanente mense nie net werk te gee nie, maar ook geleenthede te bied op hulle op te hef deur by verdere opleiding wat ons aanbied betrokke te raak.”
Die werkers geniet ook talle voordele soos sosiale ontwikkelingsprgrogramme vir die volwassenes en kinders. Dit sluit kinderklubs, leesgroepe, crèches vir babas tot voorskoolse kinders, tienerklubs, koffiekroeë. Sy vrou Jean-Mari bied ook individuele arbeidsterapiesessies aan vir kinders wat dit nodig het. Daar is ook ‘n kliniek en biblioteek op die plaas. “Hopelik kan ons hulle kinders ook eendag by die boerdery betrek.”
Mooigezicht het spesialiste inhuis wat menslike hulpbronne bestuur en sorg dat arbeidswetgewing in plek is. “Met die groot aantal werkers van tot 2 000 in die seisoen, moet ons korrek optree en vooruitdenkend wees om te voldoen aan wetgewing.”
- Die imposante ingang na Mooigezicht Estate waar die Rossouws as vier geslagte lank met uitvoer-tafeldruiwe boer.
- Francois Rossouw is pas aangewys as Santam Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar 2025.
Tegnologie
Francois is oop daarvoor om tegnologie te evalueer en op die proef te stel met die doel om doeltreffendheid verder te verbeter. “My geslag moet meer doeltreffend boer en selfs in ‘n arbeidsintensiewe boerdery is baie geleenthede vir tegnologie.
“Weens die verskillende tipes gronde moet ons presisie-watertoediening doen. Waterhulpbronne is skaars en ons wil nie te veel of te min toedien nie. Dit is waar tegnologie ‘n groot rol speel; ons water- en kunsmistoediening is ten volle geoutomatiseer om seker te maak dat ons hierdie hulpbronne optimaal bestuur.”
“Produktiwiteit in pakstore en oesvoorbereiding word met tegnologie gemeet. Tegnologie skakel ook foute met loonberekening uit,” sê hy.
Hommeltuie word gebruik om lugfoto’s van die wingerde te neem wat uitwys waar grondaanvullings gedoen moet word en om voordelige peste vry te laat. Monitering van skadelike peste word met slimfone gedoen.
Bemarking en logistieke steun ook op tegnologie wat gebruik word om pakprogramme te beplan. “Met ons logistieke programme kan ons naspoor waar ‘n spesifieke pallet druiwe is van waar dit verpak, verkoel en verskeep is tot waar die druiwe deur die kliënt ontvang word.”
Mentors
Francois word gemotiveer deur die mentors wat oor sy pad gekom het. “Ek was bevoorreg om vir ‘n paar jaar saam met my oupa te kon werk en sy aanslag te leer verstaan. Dieselfde geld my pa se vermoë om ‘n familie-onderneming in die tafeldruifbedryf bymekaar te hou.
“Hulle het my geleer om hardwerkend te wees en planne te beraam, en my gemotiveer om selfs onder die moeilikste omstandighede positief te bly en ‘n groot span werkers te motiveer.
“Boerdery is ‘n leefwyse en nie net ‘n gewone werk nie, mens moet ook die nodige kennis van alle aspekte van produksie tot arbeidswetgewing hê.”

Francois en sy vrou Jean-Mari.
Jongboere se toekoms
Hy meen die land het jong boere nodig om werk te skep en by te dra tot voedselsekerheid en die land se bruto binnelandse produk. “Die boere in die land moet ‘n toekoms hê en ek glo ons sal saam met owerhede ‘n middeweg vind om boerdery se toekoms in die land te verseker.
“Boere word al ouer en daar is baie kennis en vaardighede wat na die nuwe geslag oorgedra moet word; dit is ons verantwoordelikheid om jongmense betrokke te hou sodat die kennis nie verlore gaan nie.”
Uitdagings
Klimaat
Onvoorspelbare en veranderende klimaat bly die grootste uitdaging. “Selfs in die Hexriviervallei het die laaste drie, vier seisoene geweldig verskil met baie reën en selfs haelstorms wat voorgekom het.
“Ons bemark strategies en probeer ons oeste met plastiek, kappies en sakkies beskerm, maar dit bly ‘n uitdaging om die druiwe ten spyte van die weerstoestande in ‘n goeie toestand oorsee te lewer.”
Hawens
Hulle hanteer sowat 70% van die uitvoere self. “Ondoeltreffende hawens, nie net in Kaapstad nie maar ook elders in die land, is die tweede grootste uitdaging. “Daar was ‘n effense verbetering die afgelope seisoen, maar die ondoeltreffendheid maak dit moeilik om ons kliënte te diens. Druiwe wat langer neem om by die bestemming aan te kom het ‘n direkte invloed op die gehalte, wat Suid-Afrika se goeie naam van uitmuntende gehalte skaad.”
Marktendense
Suid-Amerika, Australië en Indië kompeteer in dieselfde tydgleuf met Suid-Afrikaanse produkte. “Oorproduksie elders verander marktendense, wat ‘n probleem kan skep as invoertariewe ingestel of beleidsrigtings verander.”
Arbeidswetgewing
“Arbeidswetgewing bly ‘n uitdaging, maar ons is trots om te kan sê ons voldoen 100% daaraan.”
Insetkoste
Hoë insetkoste is nog ‘n uitdaging. “Ons moet dan ander maniere kry om produksie verantwoordelik te verhoog om insetkoste teen te werk.”
Waardige ambassadeur
Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, beskryf Francois só: “Francois is die soort jong boer wat hoop gee vir die toekoms van landbou in ons provinsie. Sy benadering tot bestuur – van presisieboerdery en tegnologie tot mense-ontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid – toon ‘n buitengewone balans van kundigheid en menslikheid. Hy is ‘n waardige ambassadeur vir ons provinsie.”