Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 19th August 2024

Formidabele vroue: Veearts pak die bul by die horings – letterlik

By 6 min read
1253 words

Rita 1 seekoei reg

Dr Rita Piso van Mangato Wildlife Veterinary Services op Hoedspruit in Limpopo werk meestal met bokke, maar soms is dit ook nodig om met groter soogdiere soos die iesegrimmige seekoei, olifante en renosters te werk. (Bron: Verskaf)

Dis nie sommer enige vrou wat ‘n bul letterlik by die horings pak en met hom loop nie. Dit is dr Rita Piso, ‘n wildsveearts van Hoedspruit. ‘n Video van dié vrou wat skrik vir niks, en veral nie vir die vlymskerp horings van ‘n vies njalabul nie. Al is hy verdoof.

“Ek moet net noem, die bok is gepyl, so dis darem nie heeltemal ‘n wakker bok nie,” verduidelik sy. Almiskie.

Die hoogtepunt van die video-oproer wat die video veroorsaak het, was dat Laurika Rauch, wie se nuutste liedjie Rita as agtergrondmusiek gebruik het, die video ge-like het. Laurika was nie al een nie: duisende sosiale media-kykers het al skaterend die regmerkie gegee.

Bos toe

Maar wie is Rita?

Sy wou van kleins af net in die bos wees. Sy het op Lydenburg grootgeword tot die gesin Bronkhorstspruit toe verhuis het waar hulle nog woon. “Toe ek ‘n kind was, het ons grond in die ‘bos’ in  die Klaserie-Timbavati-gebied gehad. Van toe af wou ek net bos toe…”

Na matriek aan die Hoërskool Erasmus is sy Tukkies toe om veearts te word: Eers twee jaar op die hoofkampus in Pretoria, toe vyf jaar by Onderstepoort waar sy in 2012 as veearts gekwalifiseer het.

Daarna het sy twee jaar by ‘n kleindierpraktyk gewerk, maar van 2015 af werk sy “basies net met wild”, sê sy. .

Sy woon sedert 2017 op Hoedspruit en is die eienaar  van Mangata Wildlife Veterinary Services. Haar assistente is meestal veeartsenystudente uit die buiteland.

“Ek werk met wild, want ek wil in die bos werk, maar ek spesialiseer nie in spesifieke diere nie. Party mense praat van ‘n ‘bokkie-veearts’. Mettertyd het ek al meer op wildteelplase begin werk waar meer bokke as grootwild is. Gelukkig doen ek elke nou en dan darem ook ‘n renoster en leeu en al daai opwindende diere…”

Sy geniet die kommersiële werk. “Daar is lekker baie bokkies om te pyl en die kliënte is aangenaam, daar is byna altyd tyd vir ‘n grap of bietjie sports.” En uit die video blyk dit nogal asof sy ‘n bok vir sports kan wees.

Die werk behels hoofsaaklik kuddebestuur. “Ek gaan pyl die bokke, dan laai ons hulle in ‘n sleepwa en skuif hulle na ‘n nuwe eienaar of ander kamp toe. Vandag het ek gaan koedoekoeie pyl en in die koper se wa gelaai. Ek maak hulle wakker in die wa en spuit hulle kalmeermiddel in, en daar gaat hulle. Ek hoef darem nie saam te gaan vir die aflaai nie.

“Op groter plase, haal ‘n mens speenbulletjies uit sodat die teelbul hulle nie doodmaak of beseer of sy tyd mors om hulle rond te jaag nie. Dit verhoed ook dat die jong bokke kans kry om die vroulike diere te dek.”

Voor ‘n veiling is daar baie bokke wat gepyl moet word, die horings te meet en dragtigheidsondersoeke te doen. Nou en dan is daar ‘n mankheid, ‘n besering of die dier het deur ‘n draad gespring.

“As dit die plaas se praktyk is, moet ek soms vir jong bokkies plaatjies in die ore sit, dan moet jy mooi kyk wie die ma is. Of ek moet ‘n mikroskyfie insit.”

Dikwels moet sy ook strikke verwyder waarin diere gevang is. “Dit gebeur baie met hiënas en leeus, nie so baie met luiperds nie.”

Sy werk ook op renosters wanneer hulle onthoring moet word of om hulle te laai wanneer hulle verkoop is en verskuif moet word.

En dan moet sy ook halsband-opsporingstoestelle op die verskillende diere aanbring. Dis al rede hoekom sy al olifante moes pyl, vertel sy, maar sy sit ook halsbande aan leeus en renosters.

Dr Rita Piso by ‘n koedoebul wat sy met ‘n pyl verdoof het. (Bron: Verskaf)

Daai bok

Hoe het dit gekom dat sy met die bok geloop het? Sy het die njalabul gepyl en dit is makliker om gou by ‘n verdoofde dier te kom nadat dit gepyl is as om ‘n dier op te spoor wat plat lê.

“Spiraal-horing diere is geneig om na mens of beweging toe te kom as hulle gepyl is, dan is dit makliker om te vang en na ‘n pad toe te loop as wat dit is om ‘n dier te gaan soek.”

Sy gee toe dit gebeur baie dat ‘n mens moet braaf wees om die bul so by die horings te pak. “Maar met tyd weet mens ook wanneer om braaf te wees en wanneer nie. Dit is gevaarlik tot ‘n mate, mens kan dalk bietjie seer kry. As die bok nog baie wakker was sal hy nie sommer dat mens hom gryp nie. Gelukkig!

“Buffels is byvoorbeeld baie meer gevaarlik as ‘n njala. Maar met tyd leer mens ook wanneer dit veilig is om te vang. Dis darem ook nie altyd nodig om te vang nie.”

Uitdagings

Maar haar droomwerk is nie sonder uitdagings nie.

“Ruie bos maak dit moeilik om die dier op te spoor en te pyl, en dan om hom weer op te spoor nadat hy gepyl is. As jy hom nie betyds kry nie, kan hy doodgaan, so jy kan nie opgee nie, jy moet aanhou soek al is die terrein rof en vat dit lank.”

Dis ‘n verantwoordelikheid en daar is koste betrokke. ”Sê maar ‘n rooibok wat gepyl moet word kos R3 000; ek moet ver ry en ‘n uur werk om hom gepyl te kry: die koste daaraan verbonde is hoog.” Dit moet suksesvol wees.

En om te pyl is ‘n uitdaging. “Die pyltjie moet ‘n spier tref om reg te kan werk. Soms tref die pyl ‘n been, of veral in die buikarea, gaan sit dit onder die vel en nie in ‘n spier nie. Soms hop die pyltjie, dit val uit nadat dit getref het. Soms tref die pyltjie ‘n takkie wat die susmiddel laat uitspuit, en al tref die pyltjie die dier ook, weet jy nie hoeveel van die middel die bok getref het nie. Dan wag jy maar. En as die eerste pyl nie gewerk het nie, is dit nog ‘n groter gesukkel met die tweede pyl, want dan is die bok verskrik. ‘n Rooibok is ook ‘n blitsige bliksem wat vinnig onder die pyl uit spring.”

Elke pylsessie kort ‘n ander benadering. “Dit hang af van of dit ‘n mak dier is wat mense gewoond of ‘n wilde dier is, of dit ‘n klein of ‘n groot kamp is, of die dier dragtig is…”

En dan is daar ook nog dikwels manlike ego’s in die pad. “Ek werk meestal saam met mans. Ek sukkel om hulle te kry om na my te luister. Ek weet nie wat ek verkeerd doen nie – het ek nie genoeg mag nie, respekteer hulle my nie, of vertrou hulle my nie?

“Een van die ouer boere het al aan die begin van my loopbaan gewaarsku ‘n vrou moet baie harder werk as ‘n man om dieselfde te bereik.”

Maar anders as in Laurika se liedjie is Rita se geduld nou op, veral met balhorige mans wat mos al gesien het sy het die nodige ervaring, maar steeds nie luister nie. “Nou dwing ek dit af. Met ‘n skokstok as dit moet…”

Tog geniet sy haar werk baie. “Ek het altyd gedroom oor hierdie werk. Dis hoekom ek graag met studente werk – om die voorreg met hulle te deel. Ek is gelukkig om ‘n Suid-Afrikaner te wees en om te kan doen wat ek doen.”

Kontak dr Rita Piso by Kontak by mangatavets@gmail.com of Instagram: mangatavets

4

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

4