Fenomenale vroue van 2025: Prof Carina Visser

Foto 3
Tydens prof Visser se verkiesing as visepresident van die IGA in 2012, Kanariese Eilande.
Van Bapsfontein tot bobaas-sybokkenner
Prof Carina Visser is hoof van die departement Veekunde by die Universiteit van Pretoria. Carina het op ՚n melkplaas buite Bapsfontein sowat 50 km buite Pretoria grootgeword.
Nooit sou sy kon dink dat die plaaskind wat saam met katte, honde, skape en beeste grootgeword het, eendag die hoof van die Veekunde-departement by haar alma mater sou wees nie. Na matriek aan Hoërskool Waterkloof
het sy glad nie geweet wat sy wou studeer nie. Sy het haar pa gevra om jaarboeke by die Universiteit van Pretoria op te tel – dit was nog die dae voordat alles op die internet beskikbaar was.
“Ek het alles oorweeg – van joernalistiek tot teologie!”
“Maar my pa, wat ’n boer was, het toe ook ’n Veekunde-jaarboek saamgebring huis toe. Ek het nie geweet Veekunde is ՚n loopbaan nie, en ek wou glad nie ՚n veearts word nie,” vertel sy. “Ek het een kyk na die kurrikulum gegee en geweet dit is die loopbaan wat ek wou volg!” In haar eerste jaar as BScAgric Veekunde-student, het die veld van genetika en teling haar al aangetrek. “Ek hou daarvan om binne die wetenskaplike wêreld van Veekunde te werk, en spesifiek in die onvoorspelbare veld van gene en oorerwing.”
Sy het in die groter Secunda- Bethalgebied as senior landbouvoorligter by die Mpumalanga Landboudepartement begin werk. Haar kop het egter altyd na die akademie gestaan en sy het haar MScAgric in Veekunde deeltyds voltooi. Na sowat vyf jaar as voorligter en ՚n vinnige draai oorsee, is sy terug Tukkies toe. Terwyl sy navorsingstegnikus en
later dosent was, het sy ingeskryf vir ՚n PhD in Veeteling.
“Ek was gelukkig altyd omring deur mense in my private lewe en by die Universiteit wat in my geglo het en my ՚n kans gegee het om my potensiaal te bereik,” sê sy.
PhD in Angorabokke
Sy het haar PhD in 2011 verwerf. “Ek het my PhD oor Angorabokke gedoen onder die titel ‘A molecular approach to the genetic improvement of South African Angora goats’.
“Dit was een van die eerste studies op Suid-Afrikaanse vee waar molekulêre tegnieke vir genetiese verbetering toegepas is, asook die eerste voltooide studie wat gepoog het om spesifieke genomiese fragmente te identifiseer wat met eienskappe van ekonomiese belang in plaasdiere vereenselwig is.”
Sedertdien het sy heelwat navorsing, wat molekulêre en kwantitatiewe studies insluit, op skape en bokke gedoen. “Ek het al Suid- Afrikaanse melkbokke, vleisbokke en Angorabokke nagevors, asook ՚n aantal skaaprasse. Die navorsing het onder meer DNA-gebaseerde ouerskapsbepaling, fenotipiese en genetiese karakterisering, en genetiese verbetering van verskeie rasse, ingesluit.”
Haar belangstelling in bokke het net aanhou groei: Sy is sedert 2012 die vise-president van die Internasionale Bokvereniging (IGA). Sy is in 2024 aangestel as die hoof van die Departement van Veekunde by UP.

PhD-gradeplegtigheid met my studieleier, prof Este van Marle-Köster.
Belangstelling in bokke
Sy het dit nog altyd geniet om met kleinvee – skape en bokke – te werk: “Hulle is maklik hanteerbaar en het baie persoonlikheid en karakter. Daar word wêreldwyd ook minder navorsing op hulle gedoen as op beeste en dit is vir my lekker om op ՚n spesie te werk waaroor daar minder bekend is.”
Volgens haar is die seleksie van superieure diere en teling van goeie genetiese materiaal deurslaggewend vir genetiese vordering. “Dit is baie belangrik dat navorsing op ons Suid Afrikaanse bokke gedoen word sodat
toepaslike besluite vir ons bedryf geneem kan word.”
Bokke in die bedryf Sy meen bokke is ongelooflike diere want hulle is baie aanpasbaar en oorleef en floreer selfs met bitter min insette. Die inheemse bokrasse speel ՚n belangrike rol in voedselsekerheid in Suid-Afrika waar veral kleinboere min hulpbronne het om aan diere te bestee. Die bokke is ook baie belangrik in sosiale en kulturele praktyke vir verskeie gelowe en etniese stamme. “Natuurlik kan bokke ook in stoet- en kommersiële boerdery gebruik word.
Die Suid-Afrikaanse kommersiële vleisbokke en Angorabokke is wêreldbekend!” Sy meen bokke kan in die toekoms nog ՚n baie groter rol in voedselsekerheid speel as ՚n herkouerspesie wat klimaatsverandering beter hanteer as
van die ander hoogs-geselekteerde spesies.
“Dalk sien ons een van die dae bokvleis in ons supermarkte …”
- ՚n Wandeling tussen Switserse beeste in die Alpe.
- Prof Visser tydens ՚n navorsingsbesoek op ՚n skaapplaas in die VSA.
Beginsels van bokboerdery en teling
Volgens Carina begin bokboerdery en teling, soos met enige ander spesie, by korrekte rekordhouding en diereaantekening. “Die ou gesegde van ‘Om te meet is om te weet’ is steeds geldend! Ongelukkig is deelname aan rekordhoudingstelsels vir kleinvee wêreldwyd taamlik swak, veral vir vleisbokke. Om goeie teeldoelwitte te kan stel, moet die rasgenootskap weet waarnatoe die ras op pad is, wat die ras se goeie punte is en waar daar verbetering nodig is.
“Op grond hiervan sal die ras dan op seleksiekriteria besluit – byvoorbeeld Groei- en reproduksie-eienskappe vir vleisbokke, en daarmee saam ook veseleienskappe vir Angorabokke wat sybokhaar produseer.
“Ons het baie goeie diensverskaffers in die land wat genetiese ontleding doen, maar hulle is afhanklik van die rekords wat individuele boere neem om hulle diens te kan lewer.”
Bydrae deur navorsing, studieleier
“Ek glo dat ek ՚n bydrae maak deur die navorsing wat ek doen en dus nuwe kennis genereer, maar ook ten opsigte van die studente wat ek lei om hulle plek in die bedryf vol te staan.” Sy meen navorsing op bedreigde inheemse rasse het ՚n invloed op die bestuur van die bevolking en besluitneming van teelpraktyke.
“Navorsing moet ՚n invloed op die bedryf hê, maar die werklikheid is dat sommige toepaslike, betekenisvolle navorsing somtyds ՚n hele paar jaar neem voordat dit prakties opgeneem word. Navorsing moet egter altyd versprei word, hetsy deur wetenskaplike artikels, op kongresaanbiedings of in plaaslike bedryfsjoernale. Goed-opgeleide studente wat die veekundebedryf betree maak natuurlik ook ՚n reuse verskil in die hele waardeketting van die landboubedryf.”

Prof Visser doen ՚n aanbieding oor navorsing by ՚n IGA-kongres op Tenerife.
Erkenning
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekunde het op grond van haar PhD-tesis ’n bronsmedalje aan prof Visser toegeken vir haar bydrae tot die bevordering van professionalisme en kennis tot die veebedryf.
Sy is die outeur en mede-outeur van 67 wetenskaplike artikels in nasionale en internasionale joernale en het bygedra tot drie hoofstukke oor bokteling en -genetika in internasionale handboeke. Sy is as ’n professionele veekundige by SACNASP geregistreer en is ’n NRF C1-vlak navorser.
Carina is ook in Julie 2025 verkies tot die president van SASAS (South African Society for Animal Science / Suid Afrikaanse Vereniging vir Veekunde).
Carina is getroud en het twee kinders: haar dogter studeer op UP en haar seun is in Graad 11

