FAW spog by NAMPO 2018
FAW Suid-Afrika sal vanjaar vir die 17de keer aan Graan SA se NAMPO Oesdag, die grootste landbou uitstalling in privaatbesit in die suidelike halfrond, deelneem.
Die NAMPO Oesdag, wat jaarliks op Bothaville in die Vrystaat gehou word, lok nie slegs rolspelers uit die plaaslike landbousektor nie, meer ook heelwat besoekers van regoor Afrika en ander kontinente.
“Die belangstelling in ons uitstalling en voertuie by verlede jaar se skou was verstommend. Besoekers was veral beïndruk met die afwerking en bekostigbaarheid van ons produkte,” sê Jianyu Hao, hoof uitvoerende beampte van FAW Voertuigvervaardigers Suid-Afrika (Edms) Bpk.
Vanjaar sal FAW se uitstalling spog met plaaslik vervaardigde produkte wat die komende FAW 8.140 Outomaties met Cummins enjin en die nuwe 420 perdekrag FAW 33.420 voorhaker insluit.
Die 8-ton FAW 15.180FL met valkante, die FAW 16.240FL met ‘n bak wat aangepas is vir die vervoer van beeste en ‘n voorhaker wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, sal ook tentoongestel word om die veelsydigheid van FAW se produkte te demonstreer.
“Ons volgehoue deelname aan NAMPO is ‘n aanduiding van ons toewyding aan die boeregemeenskap. FAW se voertuie raak toenemend gewilder onder die landbougemeenskap en sedert FAW 23 jaar gelede die plaaslike mark betree het, neem die aantal FAWs wat in hierdie sektor aangewend word jaarliks toe. Behalwe vir die landbousektor bedien ons ook die mynbou, konstruksie, verspreidings- en langafstand sektore,” verduidelik Hao.
Vir FAW was 2017 ‘n rekordjaar, met verkope van 1 200 eenhede (insluitend uitvoere) in ‘n uiters kompeterende kommersiële-voertuigmark wat Hao beskryf as die taaiste sedert FAW die plaaslike mark 23 jaar gelede betree het.
In 2017 het die 3 000ste plaaslik-vervaardigde vragmotor van die produksielyn by FAW se Coega fabriek afgerol. FAW SA is ook deur die FAW Groep as die 2016/2017 Globale Verspreider van die Jaar aangewys.
Die FAW Coega fabriek het ook die hoeksteen gelê vir verdere oorsese beleggings, met verskeie Sjinese industriële reuse wat besoek afgelê het om eerstehands te ervaar wat die Oos-Kaapstreek in terme van infrastruktuur, logistiek en arbeid bied.
Die NAMPO Oesdag vind vanaf 15 tot 18 Mei 2018 plaas.
Uitgereik deur Wilken Communication Management namens FAW Voertuigvervaardigers SA.

