Entstoftekort is nou ‘n ramp, sê RPO

download
Perdesiekte is vir die eerste keer in 1719 in Suid-Afrika identifiseer toe meer as 1 700 perde in die Kaapse gebiede daarvan gevrek het. Die grootste uitbraak het in 1854-1855 plaasgevind toe meer as 70 000 perde daarvan gevrek het. Die siekte is endemies aan die meeste gebiede van Suider-Afrika en die virus was vermoedelik reeds teenwoordig in sebras, wat vandag ՚n bekende draer daarvan is. Vandag hou die siekte net so ՚n groot gevaar vir perde in.
Hoewel entstof die enigste manier is om te verseker dat perde immuun teen die virus is, is die voortslepende tekort aan entstowwe in die vee- en ander dierebedrywe besig om ՚n ramptoestand in die rooivleisbedryf te veroorsaak. Die muggies wat die perdesiektevirus oordra, veroorsaak bloutong by skape en groot verliese word tans ervaar.
“Die wolbedryf word beslis geraak en uitbrake van bloutong word reeds aangemeld,” se Leon de Beer, die hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV). “Genadiglik kom ons nou aan einde van die reёnseisoen in somerreёngebiede en hopelik sal die insekte wat die siekte oordra ook gou minder raak.”
Tot 98% van die wol word uitgevoer en verdien waardevolle buitelandse valuta vir die land.
Volgens Leon is daar tans 8 000 kommersiële wolboere in die land, waarvan 3 000 NWKV-lede is en wat 75% van die nasionale wolskeersel verteenwoordig. Daar is 40 000 kommunale boere, waarvan 30 000 lid is van die NWKV.”
Bloutong hou dus ՚n geweldige groot bedreiging in vir die wolbedryf, om nie eens te praat van die rooivleisbedryf nie. James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het onlangs kommer oor die gebrek aan entstof uitgespreek.
“Kommersiële en opkomende produsente ly nou ernstige verliese weens bloutonguitbrekings wat tot 50% vrektes onder kuddes veroorsaak; Afrika-perdesiekte maai onder perde en donkies wat ՚n ondersteunende rol in die produksieproses van rooivleis speel,” sê James.
Die RPO waarsku nou al geruime tyd dat ՚n tekort aan die voorsiening van sekere entstowwe wat deur Onderstepoort Biologiese produkte (OBP) geproduseer word, ernstige afmetings kan aanneem. “Dit is tragies dat dit voorkom kon word indien die voorgestelde haalbare aksiestappe deur die owerheid geneem was. Ons voel die owerheid het die bedryf in die steek gelaat,” sê hy.
Die bedryf moet nou maatreëls en strategieë in werking stel om produksie sonder die entstowwe vol te hou. Teen die RPO se advies daarteen, wend sommige boere nou hulle nou tot die gebruik van ongeregistreerde entstowwe, wat groot risiko’s inhou. James sê die RPO ondersteun die aksies van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF), waarvan die RPO lid is.
Die RPO was deel van die NDGF se pogings om die probleem op te los, wat ՚n gesprek met Thoko Didiza, minister van Landbou einde Maart ingesluit het. Na afloop van die vergadering is ՚n subkomitee aangestel om voorstelle te maak en die minister te adviseer. Teen die sperdatum van 28 April was daar nog geen daadwerklike aksie nie.
“Die gebrek aan dringendheid deur die owerheid is uiters frustrerend vir die RPO. “Die traagheid om die nodige voorgestelde regstellende stappe te doen ondermyn die doelstellings van die AAMP (Agriculture Agro-processing Master Plan), het ernstige implikasies vir dierewelsyn en hou risiko’s vir menslike gesondheid in.”
Die NDGF, wat namens die vee- en dierebedrywe by verskeie geleenthede die behoefte aan entstowwe uitgespel het, het ook oplossings voorgestel.
Die voorstelle sluit in:
• Dat meer as een diensverskaffer entstowwe produseer sodat risiko’s oorkom en mededingendheid verseker word;
• Dat die kapasiteit by die kantoor van die Registrateur van Wet 36 verhoog moet word om registrasie-aansoeke vinniger te verwerk, en dieselfde geld vir Wet 35-aansoeke; en
• Dat sekere entstowwe met behulp van die private sektor geproduseer word of in lisensie namens OBP geproduseer word.
Die RPO versoek dat die oplossings sonder verwyl deur die owerheid afgekondig en toegepas word. “Alhoewel dit reeds te laat is, moet alles moontlik gedoen word om nasionale pandemies te verhoed,” sê James.
“Die RPO stel dit op rekord dat, in belang van voedselsekerheid, armoedeverligting, inwerkingstelling van die AAMP, menslike gesondheid, uitvoerstrategieë en dierewelsyn, meer drastiese stappe gedoen sal word, indien nodig, om te verseker dat die entstofvraagstuk gou opgelos word.”
Kontak James Faber van die RPO by 083-292-2556 vir meer inligting.