Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 1st August 2025

Elmarie Seton: Boerekos met ‘n kinkel uit Baviaanskloof

By 7 min read
1327 words

elmarie 1

Elmarie Jonck Seton en dr George Seton woon op Oudtshoorn, maar het hulle harte verloor op Duiwekloof in Baviaanskloof. (Bron: Verskaf)

Al wat sy altyd wou doen, is kosmaak … en tog het die lewe wye draaie met haar geloop voordat sy uiteindelik in die kombuis beland het. “Al wat ek altyd wou doen is kosmaak,” sê Elmarie Seton, die lewenslustige blonde blouoogma van drie wat saam met haar man, dr Douglas Seton, in die kombuis van ‘n geskiedkundige huis op Oudtshoorn tradisionele kos met ‘n kinkel kook.

Toe sy vyf was, kon Elmarie Jonck al kos kook op die Aga-stoof in die plaaskombius op Wolwedans by Zebra tussen Oudtshoorn en George in die Klein-Karoo.

“Ek is ‘n gebore en getoë plaasmeisie wat ongekompliseerd grootgeword het en baie avonture beleef het,” vertel sy. “Op Wolwedans het ons nog ‘n handtelefoon gehad, en ‘n Lister-dieselkragopwekker wat saans vanself afgeskakel het as die laaste lig met die trek van ‘n toutjie uit die dak afgeskakel is.”

Destyds was daar nog ‘n Aga-stoof in die plaaskombuis waarop sy leer kook en stryk het. “Ons huishulp Eva was fluks as sy nie ‘onder die prop’ was nie, soos my kinders sou sê. Sy het my geleer om brood te knie, en het my met die vadoek gepiets as my hande nie skoon genoeg geknie was nie!”

Op ‘n halfmasvuurtjie tussen twee bakstene buite het sy ook geleer om die groen Vandyk-koffiebone wat by die Boerehandel gekoop is, met suiker in ‘n platboompot te skroei – nie brand nie, want dan is die houtlepel waarmee die koffiebone tot perfeksie geskroei is ook op die boud ingelê.

Wanneer die koffiebone afgekoel het en soos swart goud was, is dit in stukkies gebreek en gemaal voor dit in ‘n Nespray-blik gebêre is sodat dit in ‘n koffiesak in ‘n ketel op die stoof gemaak kon word.

“Dis nou boeretroos,” verklaar sy. “Ek sal nooit die reuk van daardie koffiebone vergeet nie – ek maal tot vandag toe self ons bone in ‘n meuletjie.”

Toe sy in Sub A kom was sy stomverbaas dat die maatjies by die Laerskool Van Rheede NIE weet hoe om boerekos te maak nie – sy het dan al van voorskool af op ‘n bankie voor die warm stoof gestaan en kook.

Daar is nog soggens in die melkstal gemelk waar die koeie – Friese en Jerseys vir bottervet – in ‘n ry loop staan het. “Hulle het name gehad. Maar ons wou nie die rou melk drink nie, ons wou winkelmelk in ‘n botteltjie hê. En soggens het ons ons winkelbroodtoebroodjies vir die melkmanne se vars roosterkoek geruil.”

Kindermeisie met B Ed

Elmarie het by Hoërskool Oudtshoorn matrikuleer en daarna Arbeidsterapie by Stellenbosch Universiteit gaan studeer. “Ek het niks daarvan gehou nie – ek het my doodgehuil oor al die pasiënte.” Uiteindelik het sy B Ed studeer.

Daarna het sy ‘n paar jaar lank in Londen gaan werk as ‘n “nanny”, onder andere vir Formule 1 renjaer Jodi Scheckter en wêreldbekende beeldhouer Anish Kapoor. En amper vir die prinses van Jordanië, as dit nie was dat haar derde taal Xhosa was in plaas van ‘n Europese taal nie …

Sy het ook ‘n ruk lank bejaardes met parkinsonsiekte en demensie versorg. Toe haar ma siek word, het sy teruggekom Suid-Afrika toe en sowat ses maande by Van Rheede skoolgehou. Maar is toe weer vort om in ‘n restaurant in Dublin te gaan werk. “Al wat ek wou doen, is kosmaak!”

Toe haar ma tydens Covid alzheimersiekte kry, het sy haar self kom versorg tot sy in ‘n versorgingseenheid opgeneem is. Sy is in Augustus 2024 oorlede. “Ek gaan kuier nog een maal per week by die ander mense daar. Maar as ek die volgende week kom, dan is van hulle nie meer daar nie; dan is hulle hemel toe …”

Duiwekloof

Duiwekloof is ‘n plaas van 350 ha in Baviaanskloof. Douglas het die plaas in 2002 gekoop toe dit nog ‘n dor stuk aarde in ‘n verlate vallei was. Mettertyd is die Duiwekloof Lodge rondom die ou plaasdam gebou. Vier selfsorgeenhede is elk toegerus met sonkrag of gas vir die warmwaterstelsel en yskas, ‘n oond of vuurmaakplek. Daar is ook nege kampeerplekke rondom die herberg e daar is nou ‘n buite- en ‘n binne-lapa waar heerlik gekuier word.

Vier staproetes is met sorg aangelê en bankies is op mooi plekkies geplaas sodat ‘n mens die natuur en die stilte kan ervaar. Nadat water van die fontein af na die vallei aangelê is, het die voëls en wild begin terugkom.

Onlangs is daar ook perdestalle van klip gebou waar ‘n klompie van Lizél de Waal van Oudtshoorn se Arabierperde gehou word.

Vrugte en groente

Elmarie het  ‘n vrugteboord en ‘n groentetuin by die huis aangelê en die meeste van die vars produkte wat sy gebruik kom van die plaas af. “Ek het begin bome plant – vye, kwepers, granate en lemoene, en nog ‘n groentetuin by die lapa met kool, aartappels, beet, Peppadews, en die mooiste eiervrugte.”

“Aanvanklik het ek net soos soetmosterd, suurlemoenwrongel (lemon curd), uiemarmelade, en vye- en appelkooskonfyt vir die plaas begin inmaak. Ek het ook begin eksperimenteer met turksvylikeur met alkoholinhoud van 30 tot 40%.”

Sy maak ook skaapkop in die oond, lam-en groentebredie, en as haar vriendinne se mans die naweek gaan jag, kry sy die bene om af te kook vir wildspasteie. “Ons kook heeldag die bene af en maak die pasteie met rooiwyn, lourierblare, en piment-rissies met skilferkors. Van die aftreksel wat oorbly maak sy sop – veral koedoesop is nogal lekker!”

Vir besoekers aan Duiwekloof berei sy braaipakke en potbrood vir diegene wat wil braai, terwyl ander aan tradisionele geregte soos afval, tamatie-beesbredie en bobotie kan smul. “As mense eers een keer daar was, wil hulle net weer teruggaan.”

Al het sy nog nooit haar produkte formeel bemark nie, word haar ingemaakte produkte by uitsoekwinkels op Willowmore, De Rust en Prins Albert verkoop.

Haar pa het onlangs ‘n klompie Meatmaster-skape gekoop wat op Duiwekloof loop. Cappuccino, die alpakka, loop saam om ongediertes weg te hou. “Nou gaan ek met skape begin boer,” sê sy.

Spyseniering

Sy doen groot spyseniering op die dorp, van Moeder- en Vadersdag, kombuistee, tot eetgoed vir boerevergaderings.

“My ma was so ‘n raakvatter; ek het by haar geleer kook. Sy het alles ingelê – kwepers, koejawels, alles. Sy het altyd gesê dit laat haar skatryk voel as al hierdie blink Consol-bottels vol ingemaakte vrugte op die rakke in die spens staan.

Elmarie en haar eerste man, Christoffel, ‘n boer van Schoemanshoek, het in 2008 ‘n aandmark by skoonma Annelie se gastehuis, Ouwe Werf, begin waar sy haar produkte verkoop het.

Dit is dus glad nie vreemd dat haar drie kinders mal is oor kosmaak nie. Elmé (17) “wat ongelooflik kook”, Isabella (14) wat sal “kos maak as sy regtig honger is”, en Marius (11) “wat ‘n ui kap soos ‘n sjef”, vertel sy.

Die ander mans in haar lewe is Christoff (CFJ Spies VI), Christoffel se eerste geborene wat Elmarie al die jare Elmama genoem het. Hy woon nou in Amerika. Douglas se twee seuns, Hugh, ‘n gemeenskapsdiensdokter in Umtata, en Norman, ‘n professionele PGA-gholfspeler in Edinburgh, Skotland. “Ek kan met alle eerlikheid sê my kinders is my grootste skat op aarde.”

Elma Postma van die gewilde Plaaskombuis-program saam met Elmarie Seton in haar kombuis op Oudtshoorn. (Bron: https://www.landbou.com/Leefstyl/Resepte/koningskos-in-die-klein-karoo-20171220)

Plaaskombuis

Elmarie het in 2017 ‘n draai op die gewilde televisiereeks Plaaskombuis gemaak.

Sy moes drie resepte voorlê, en sy is aanvaar. “Ek het besluit om iets te maak van die plaasprodukte. Voor my huis is ‘n lusernland, en toe besluit ek op volstruisnek-en stuitjie-groenboonbredie met marog (wilde spinasie) en lusern. En vir nagereg kalamata-roomys van die olywe op die plaas, gedroogde vye en turksvystroop.”

Toekomsplanne

“Ek speel met die gedagte om iemand op te lei om preservering te help doen. Net soos my ma, voel ek skatryk as ek rakke vol outydse ingemaakte goed sien. Ek maal nog die koffiebone wat ons gebruik … Ek is maar sentimenteel, maar my man verstaan my.”

Bronverwysing

Du Plessis, A. (2017) Koningskos in die Klein Karoo. Landbouweekblad

https://www.landbou.com/Leefstyl/Resepte/koningskos-in-die-klein-karoo-20171220

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0