Categories: Artikels, DieregesondheidPublished On: 5th September 2022

Eksterne parasiete in vee Deel 6: Muskiete en skaapluisvlieg

By 4 min read

pexels-egor-kamelev-1149668

Muskiete suig eintlik plantsappe. Slegs die wyfies benodig bloed vir hulle voorplantingsfunksies. (Bron: Egor Kamalev op pexels).

Vir die mens is die muskiet nie net ՚n groot irritasie nie, maar ook ՚n parasiet wat soms gevaar inhou soos malaria. Maar die bloedsuiende parasiet is ook ՚n euwel vir vee. Hierdie insekte is baie lastig en dra ook soms gevaarlike virusse. Die belangrikste hiervan is dalk slenkdalkoors (SDK). SDK is ՚n virus wat beeste, skape en bokke aantas.

Vandag is slenkdalkoors minder algemeen en kan makliker voorkom word, maar indien daar wel ՚n uitbreking daarvan sou wees, kan die ekonomiese en gesondheidsrisiko die boer uiters nadelig tref. Wanneer groot swerms muskiete in die vroegsomer uitbroei, val ՚n menigte muskiete vee gelyk aan, wat hulle kanse om SDK te kry verhoog.

Muskiete broei uit in stilstaande water soos vleie, damme, panne of mispoele.

Groot muskietplae veroorsaak gewigsverlies by diere wat heeltyd staan en krap en skuur aan bytplekke. Dit is egter minder ernstig in vergelyking met myte, luise of bosluise. Daar is wel ՚n gevaar van diere wat bloedarmoede kry deur groot hoeveelhede bloed te verloor aan hewige swerms.

Buiten beeste, skape en bokke, hou muskiete ook gevaar in vir perde, varke en pluimvee.

Die lewensiklus van die muskiet

Muskietwyfies lê hulle eiers in poele met stilstaande water. Dit sluit in riviere, modder- of mispoele, of damme. Die meeste muskietswerms broei in die vroeë reënseisoen uit.

Slegs volwasse vroulike muskiete suig bloed, en mannetjies leef op plantsappe en nektar. Die wyfiemuskiet vreet natuurlik ook plantsap, maar bloed is ՚n stapelvoedsel vir haar eierproduksie.

Muskiete se larwes en eiers leef in die water.

Eiertjies word bo-op water gelê en verskillende muskietspesies se eiers lyk verskillend.

Muskiete is die meeste aktief teen skemer en dagbreek, en rus oor die hitte van die dag in die skaduwee. Hulle reuksintuig help hulle om hulle prooi op te spoor.

Die musiet se hele lewensiklus neem tussen twee tot vyf weke om te voltooi.
Temperatuur speel wel hierin ՚n rol.

Slenkdalkoors

Lammers en bokke onder die ouderdom van twee weke is baie vatbaar. Hulle word baie gou siek, gewoonlik binne 24 tot 72 uur na besmetting. Simptome van die virus is hoë koors wat ontwikkel, lusteloosheid, verlies aan eetlus en selfs diere wat braak.

Tot 95% van aangetaste lammers kan vrek. Die sterftekoers onder volwasse skape is tussen 15 en 30%.

Die virus word ook gekenmerk aan die meerderheid van die trop of kudde wat skielik aborteer, ongeveer 40 tot 60%. Nadat die dragtige ooie aborteer, ontbind die fetusse gou.

By beeste is die uitwerking minder drasties, omdat ligte kliniese tekens onder kalwers opgemerk word. Tussen 10 en 15% vrek. Volwasse beeste het ՚n sterftekoers van tussen 10 en 40%. Dikwels is koeie wat aborteer die enigste teken van die siekte.

(Bron: Egor Kamalev op pexels)

Die siekte verskyn gewoonlik in die laat somer wanneer dit warm is en die lugvogtigheid hoog is.

Die beste manier om die virus te bekamp is om diere teen SDK in te ent. Wanneer daar ՚n uitbraak is en diere is nie ingeënt is nie, kan hulle met dippe, spuitstowwe of opgietmiddels wat piretroïedes bevat beskerm word.

Skaapluisvlieg

Die skaapluisvlieg teer op kleinvee. Swaar besmetting van skape en bokke veroorsaak bloedarmoede, verlies aan eetlus, krap, byt en pluk aan wol of hare. Dit lei daartoe dat die vesels verkleur en die waarde van die vag daal.

Die skaapluisvlieg lyk nes ՚n bosluis, maar het ses in stede van agt pote. (Bron: Parasitepedia)

Die goeie nuus is dat luisvlieë deesdae skaars is en net van skaap tot skaap versprei word. Dit is ՚n eengasheerparasiet en kan nie oorleef sonder die gasheer nie; hulle vrek gewoonlik binne ՚n paar weke.

Die insekte lyk nogal soos harige bosluise van 3 tot 6 mm. Hulle sekelvormige agterbene haak aan die wol. Hulle verkies die nek, skouers en maag van kleinvee.

՚n Wyfie bring een larwe per week voort en kan tot 20 larwes in ՚n leeftyd van tussen 70 en 150 dae voortbring. Larwes vorm gou papies en verskyn na drie weke as volwassenes.

Dipstowwe wat organofosfaat of ander middels teen eksterne parasiete bevat kan gebruik word om die probleem te bekamp.

Bronne:

Junquera, P. (2022) PARASITIPEDIA [Online]. Parasitipedia.net. Available at https://parasitipedia.net/.

Oberem, P. (2006) Siektes en parasiete van beeste, skape en bokke in Suid-Afrika. Pretoria: Afrivet Business Management.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0