Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 11th April 2024

Eko-vriendelike roofdierbestuur

By 7 min read

eko 4

Eko-vriendelike bestuur van roofdiere wat skade onder vee veroorsaak is noodsaaklik vir die handhawing van ՚n balans tussen die belange van die veeboer en die natuur. In die lig van aardverwarming word dit al moeiliker vir kommersiële en kommunale of kleinboere om te midde van die aanslag van klimaatsverandering volhoubaar en winsgewend te boer sonder om die ekostelsel te vernietig.

Konflik

Konflik tussen veeboere en roofdiere kom ՚n lang pad en hoewel heelwat navorsing gedoen word om vas te stel hoeveel skade roofdiere aan veekuddes veroorsaak en hoe dit voorkom kan word, duur die stryd voort. Vroeër jare het die regering selfs gehelp om roofdiere te bekamp met heinings en permitte, maar sedert 1994 is veral kommersiële boere op hulleself aangewese, terwyl kommunale boere darem hulp en opleiding kry, al word hulle nie vergoed vir verliese weens roofdiere nie. Stelselmatig word wegbeweeg van dodelike metodes om roofdiere wat probleme veroorsaak voor die voet uit te skakel. Minder ingrypende nie-dodelike metodes word al hoe meer gebruik om enersyds roofdiere af te skrik of andersyds die vee buite die bereik van dié diere te hou.

Navorsing

Navorsing en monitering van roofdiere se gewoontes en ekologie, asook die sukses van bestuurstrategieë is nodig sodat bestuursriglyne wat op feite gegrond is, ontwerp kan word. Dit meet hoe suksesvol die bestuursprogram is. ՚n Span navorsers van die Nelson Mandela Universiteit het ՚n paar jaar gelede navorsing gedoen om vas te stel watter roofdiere onder watter omstandighede tot veeverliese lei. Die Predator Management Forum by die Universiteit van die Vrystaat doen ook navorsing oor maniere om die probleem op te los. Die meeste ander universiteite gee ook aandag aan moontlike oplossings.

Jakkalse en luiperds is maar twee van die roofdiere wat probleme veroorsaak wanneer hulle vee vang. (Bron: Pixabay)

Bestuur en beheer

Navorsing het gevind dat rooijakkalse, rooikatte, luiperds, bobbejane en selfs bosvarke vee kan bedreig. Waar dodelike metodes wat hierdie diere geteiken het dikwels skade aan ander diere veroorsaak het, probeer navorsers hard om alternatiewe metodes voor te stel en boere sover te kry om dit te gebruik. Hoewel roep en skiet-nagjag steeds in sommige gebiede gedoen word om gewoontejagters onder die roofdiere uit te skakel, is daar ՚n verbod op die gebruik van landbougif soos Aldicarb of Two-Step, jag met honde en skerp vangysters.

Daar is ՚n hele klomp metodes wat meer eko-vriendelik is wat min of meer suksesvol gebruik word om roofdiere wat probleme veroorsaak, af te skrik. Vanghokke wat gereeld nageloop word om te verseker ՚n dier wat daarin beland het ly nie honger of dors nie, is ook ՚n eko-vriendelike oplossing. Halsbande wat die dier se keel beskerm teen slagtande word al lank gebruik, maar roofdiere raak slim en het verskillende metodes om ՚n dier te vang en dood te byt, so dit help nie altyd nie. Halsbande met klokke aan is goedkoper as elektroniese halsbande, maar werk net mits daar ‘n herder is wat ՚n roofdier kan verwilder.

Elektroniese halsbande wat die veeeienaar op sy selfoon waarsku dat iets of iemand by die vee lol wat hulle onrustig maak, word ook met vrug gebruik. Flitsende ligte wat strategies gemonteer is en toestelle wat ՚n alarm laat afgaan as daar onraad is, word ook gebruik. Maar die roofdiere word slim en ՚n boer moet deurentyd nuwe planne bedink. Goed opgeleide herdershonde werk goed op hulle eie, maar selfs beter wanneer daar ՚n mens as herder by is. Donkies en alpakkas word ook ingespan om roofdiere af te skrik. Desperate boere het al leeumis probeer neersit om jakkalse en rooikatte wat in die afwesigheid van groter roofdiere soos luiperds en leeus koning kraai, af te skrik. Tans word navorsing gedoen oor ՚n ‘reukweerder’ wat hopelik die diere sal afskrik. Meer onlangse navorsing het bevestig wat almal altyd geweet het maar al van vergeet het: herders – mense wat heeldag saam met die vee loop en hulle snags in ՚n kraal toemaak – werk die beste.

Deelnemers aan ՚n Werk-saam-metdie natuur-werksessie wat deur Cape Leopard Trust en CapeNature in die Klein-Karoo aangebied is, sluit in, van links, Tom Barry, Tembelihle Mjamba, Jaco van Deventer (CapeNature), Louis Jordaan, Jan Fourie, Wayne Meyer, Carlo van Tonder, Jaco Fourie en Robbie Roberts. (Bron: Chavoux Luyt, Cape Leopard Trust)

Kuddebestuur

Niël Viljoen van Vee en Predasiebestuur doen al jare lank navorsing oor die voorkoms en skade wat sekere diere in spesifieke gebiede aanrig. Hy lê klem op behoorlike bestuur van die kudde, veral in lamtyd en tot die lammers gespeen is. Die belangrikste metode om vee teen roofdiere te beskerm is om te voorkom dat die roofdiere by die vee uitkom en dit kan met behoorlike heinings, kampe en krale gedoen word. Jakkalswerende heinings met ogiesdraad, ook bekend as jakkalsdraad, wat jakkalse keer om goedsmoeds deur te glip is belangrik, maar help nie altyd nie – jakkals se kind grou maklik ՚n gat onderdeur die heining of maak gebruik van ՚n gat wat ՚n erdvarkof ystervark gegrawe het. ՚n Geëlektrifiseerde heining om kampe werk goed solank daar krag is en die heinings in stand gehou word.

Dié heinings hou weer gevaar in vir onskadelike diere soos skilpaaie wat onderdeur probeer kruip. Niël voorsien tans jakkalse en rooikatte van GPS-halsbande sodat hy meer van hulle gedrag te wete kan kom om hom te help om te verstaan hoe hulle koppe werk. Die opleiding wat hy in vee- en predasiebestuur aanbied is gegrond op waarneming veral by moniteringsplase in die Oos-Kaap waar hy saam met die gemeenskappe werk om inligting oor hulle verliese en suksesse in te samel ter wille van behoorlike roofdierbestuur.

Boer saam met die natuur Die Cape Leopard Trust (CLT) wat in die Wes-Kaap gesetel is, plaas ook groot klem op holistiese kuddebestuur, instede van blote roofdierbestuur. Die mees volhoubare oplossing is om vee sover moontlik van roofdiere se spyskaart af te haal. Die CLT doen nie net navorsing oor luiperds nie, maar gee ook opleiding aan kommersiële en bestaansboere tydens hulle Boersaam-met-die-natuur-werksessies. Die deelnemers aan die werksessies word touwys gemaak oor holistiese veldbestuur. Waar die veld verniel is, lei dit tot minder kleinwildprooi vir jakkalse en rooikatte, en dan begin dié roofdiere meer vee vang.

Die boere leer ook hoe om die ware sondebok wat hulle vee vang uit te ken aan die roofdiere se tipiese vang- en vreetgewoontes. Die CLT doen ook omgewingsopvoeding in landelike gemeenskappe en skole sodat kinders van jongs af leer om die natuur ter wille van ՚n gesonde ekologie op te pas. Dié organisasie het juis in Februarie ՚n kompetisie aangebied wat deelnemers nooi om ՚n verskuifbare, bekostigbare, duursame kraal wat ook roofdierbestand is, te ontwerp. Die inisiatief, genaamd Mobi-kraal, het ten doel om veeboere te help om hulle vee snags veilig in ՚n kraal te hou wanneer vee op hulle kwesbaarste is teen roofdiere. Die kompetisie sluit op 30 Junie 2024 en deelnemers kan ՚n kontantprys van R50 000 te wen, asook reis- en verblyfkoste van R20 000 om die CLT te help om hulle ontwerp te ontwikkel en in die veld te toets. Meer inligting by www.mobikraal.org

Navorsing het bevind waar die veld onversteurd is en volop kleinwild voorkom, roofdiere nie vee vang nie. (Bron: Pixabay)

Wetgewing en -toepassing

Beskerming van sekere wild deur wetgewing, soos in die geval van luiperds wat nie voor die voet gejag mag word nie, kan bydra tot hulle oorlewing. Samewerking tussen belanghebbendes, insluitend regering-bewaringsinstansies soos Sanparke en CapeNature, asook nie-winsgewende organisasies soos Cape Leopard Trust en die Bedreigde Natuurlewe Trust (EWT) kan meehelp om ՚n holistiese bestuursriglyne vir roofdierbestuur en -bewaring daar te stel. Met behulp van ՚n deurdagte, holistiese kuddebestuur en ՚n ekovriendelike benadering tot die bestuur van roofdiere wat probleme veroorsaak, kan die diere suksesvol ter wille van volhoubare veeboerdery en voedselsekerheid van gemeenskappe bestuur word terwyl die biodiversiteit van die veld behoue bly.

Kontak Niël Viljoen by 082-381- 8227 of nielviljoen@gmail.com, of besoek die webtuiste by https://nielviljoen.co.za/.

Kontak Jeannie Hayward by 082- 337-0964 of communications@ capeleopard.org.za, of besoek die webtuiste by https://capeleopard.org.za/

Bezuidenhout, R. (2023) Ecofriendly predator management. Farmers Weekly https://www.farmersweekly.co.za/farming-basics/how-to-livestock/eco-friendly-predator-management/

Kerley, G., Wilson, S., Balfour, D. (2018) Livestock Predation and its Management in South Africa: A Scientific Assessment https://predsa.mandela.ac.za/predsa/media/Store/documents/PREDSAChapter-2-2018.pdf

Steyn, T (2023) Boer saam met die natuur: Roofdierbestuur deur ‘n wyehoeklens ProAgri https://proagri.co.za/boer-saammet-die-natuur-roofdierbestuurdeur-n-wyehoeklens/

Steyn, T. (2023) Fnuik jakkals se kind só, sê kenner. ProAgri https://proagri.co.za/fnuik-jakkalsse-kind-so-se-kenner/

Steyn, T. (2023) Nuwe plan met jakkalse gee hoop. ProAgri https://proagri.co.za/nuwe-planmet-jakkalse-gee-hoop/

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment