Droogtebestuur: Red jou veld 3: Grasveld

ken gras 2
Weidingsbestuur tydens en veral na ՚n droogte soos wat tans oral in die land ervaar word, kan help om te verseker dat jou veld na die droogte herstel. Dit geld vir alle tipes weiveld.
Ken Coetzee van Conservation Management Services in George in die Suid-Kaap, verduidelik in sy boek Caring for Natural Rangelands (2023) hoe boere die uitwerking van droogte in verskillende tipes veld kan versag sodat die plantegroei die droogte kan oorleef. In hierdie hoofstuk gee hy raad vir grasveld.
Grasveld
Hoewel die meeste van Suid-Afrika se grasvelde binne die grasveldbioom val, is daar ook grasvelde in ander dele van die land wat in ՚n mosaïek met ander tipes weivelde soos ruigteveld en die Nama- en Sukkulente Karoo voorkom. Die grasveldbioom is naas die fynbosbioom die tweede rykste aan plantverskeidenheid, en indien grasveld reg bestuur word, verseker dit dat grondvog behoue bly.
Tipes grasveld
Drie tipes grasveld kom voor, naamlik soetveld, suurveld en gemengde veld en hulle moet verskillend bestuur word. Soetveld, wat smaaklike weiding vir vee en wild verskaf, kom meestal in laerliggende, rypvrye gebiede met ՚n reënval van tussen 250 en 500 mm per jaar voor. Solank die veld in ՚n goeie toestand is, bly die gehalte van die weiding heeljaar goed. Soetveld is veral tydens die groeiseisoen baie sensitief vir oorbeweiding. Die gras herstel baie vinniger van droogte, vuur en grondbewerking as suurveld. Die beskikbaarheid van smaaklike gras deur die jaar is ՚n bepalende faktor vir winsgewende wild- en veeproduksie.
Suurveld kom voor in hoërliggende gebiede met laer temperature as soetveld. Die reënval is gewoonlik hoër as 600 mm per jaar, wat daartoe lei dat voedingstowwe uit die grond loog en die voedingswaarde van die weiding laat afneem. In die groeiseisoen bied die meeste van hierdie grasse eetbare weiding met ՚n redelik hoë voedingswaarde, wat skerp afneem in die winter. Suurveld kan swaar beweiding hanteer, maar uiteindelik lei dit tot laer produksie. Suurveld herstel stadiger van grondversteuring as soetveld. Die seisoenale verskille in die gehalte van die gras het ՚n invloed op diereproduksie.
- Suurveld in die noordelike dele van Malawi. (Bron: Ken Coetzee)
- Oorbeweide grasveld direk na ՚n brand. (Bron: Ken Coetzee)
Gemengde grasveld, wat soet- en suurveld bevat, toon die kenmerke van albei. As dit oorwegend uit soetveld bestaan, moet dit soos soetveld bestuur word en dieselfde geld vir suurveld.
Drakrag en winsgewendheid
Die drakrag van veld wissel voortdurend. In Suid-Afrika is die veelading gewoonlik hoër as wat dit volgens die drakrag behoort te wees. ՚n Meer konserwatiewe benadering tot veelading sal die grasveld meer bestand maak teen droogte sonder om winsgewendheid in te boet.
Die belangrikste aanwysers van gesonde grasveld
- hoë bbodemstandige plantbedekking, wat beteken die grondoppervlak word deur plantbasisse bedek wat die grond bind en gronderosie voorkom;
- ՚n groot verskeidenheid groeivorme, wat kruie, biesies, bolle, struike, varings en vetplante insluit, kom voor;
- ՚n verskeidenheid grasspesies, eerder as ՚n enkele dominante spesie, is teenwoordig;
- die bogrond is onversteurd en ryk aan organiese materiaal, nie gekompakteer nie en toon tekens van dierebedrywighede soos gate en tonnels;
- ՚n egalige, digte grasveld is beter as ՚n plaat groot pluime wat soms voorkom, want die pluime kan ՚n aanduiding wees van ՚n verlies aan smaaklike gras wat net die oneetbare pluime laat oorbly.
- ՚n gebrek aan uitheemse indringerspesies – oorbeweiding skep die geleentheid vir uitheemse indringerspesies om in nuwe gebiede te versprei; en
- die afwesigheid van bosindringing deur inheemse struik-, boom- en onkruidspesies.
- Grasveld wat tydens ՚n droogte goed bestuur word, sal ná goeie reëns herstel. (Bron: Pixabay)
- Maak seker die eetbare grasse in die rustende kampe word genoeg tyd gegun om te blom en saad te skiet voordat die kamp weer bewei word. (Bron: Pixabay)
Brande
Brande is in grasveld, net soos in savanna en fynbos, ՚n natuurlike verskynsel. Beheerde brande word wyd toegepas as bestuursmaatreël om oortollige en dooie gras te verminder en om ongewenste bosindringing te verwyder. As brande oordeelkundig toegepas word, is die uitwerking van korte duur en die veld herstel gou. Droogte het baie groter invloed op die plante en kan dit totaal vernietig. Baie beginsels wat na ՚n brand toegepas word, geld ook na ՚n droogte.
Beweiding na ՚n brand
՚n Gebrande veld moenie te gou bewei word nie, maar moet ՚n kans gegun word om te herstel. Oorhaastige beweiding lê die groei van sleutelgrasspesies aan bande, verhoed dat die grasse blom en sade maak, put die plante se reserwes uit en laat dit tot niet gaan.
Beste praktyk vir beweiding na ՚n brand
- Beweiding moet eers plaasvind wanneer die gras volkome herstel het en minstens 100 tot 150 mm hoog is.
- Die riglyn geld egter nie vir veld wat jaarliks gebrand word nie, want daardie gras moet langer rus en eers blom en saadskiet voordat dit bewei word.
- Wisselweiding moet toegepas word en die veld moenie langer as ՚n week of twee bewei word nie, voordat dit ՚n maand of langer toegelaat word om te rus.
- Die gewildste grasse moenie swaar benut word nie.
- Die grasveld (kamp) moet later in die groeiseisoen weer toegelaat word om te rus sodat dit volkome kan herstel en saadskiet vir die volgende geslag nuwe plante.
Weidingsbestuur van grasveld na ՚n droogte
Baie van die beginsels vir bestuur na ՚n droogte in ruigteveld en die Karoo geld ook vir grasveld. Die weidings beginsels na ՚n brand geld ook na ՚n droogte, maar ՚n brand kan gedurende ՚n droogte voorkom.
Die uitwerking van ՚n droogte duur beslis langer as die uitwerking van ՚n brand. Na en veral gedurende ՚n droogte is dit noodsaaklik dat alle vee van die grasveld af weggehou word, of dat wildgetalle vir so lank as moontlik aansienlik laer moet wees. Intensiewe beweiding gedurende die droogte kan daartoe lei dat die moederplante vrek. Nuwe groei moet dus uit saad voortplant. Volkome herstel berus ook op hoeveel dit reën en of opvolgreën betyds val. Gedurende en direk na ՚n droogte moet vee verkieslik verkoop of vir minstens drie maande na die droogte kunsmatig in klein kampe gevoer word.
Riglyne om uitwerking van droogte te verminder
- Pas wisselweiding in ՚n kampstelsel toe – enige vorm daarvan sal werk solank as wat dit gebruik word vir ՚n kort weidingperiode gevolg deur ՚n lang rusperiode. Maak seker die eetbare grasse in die rustende kampe word genoeg tyd gegun om te blom en saad te skiet voordat die kamp weer bewei word.
- Moenie die kamp na ՚n brand bewei voordat die gras 150 mm hoog is nie. As die gras gedurende ՚n droogte nie voldoende herstel nie moet die kamp eers na drie maande nadat die droogte gebreek is, bewei word.
- Moniteer die reënval en gebruik dit as ՚n riglyn vir veelading. Hoe minder dit reën, hoe laer moet die veelading wees, wat beteken die hektaar veld per grootvee- of kleinvee-eenheid moet vermeerder word, of die veegetalle moet verminder word.
- Handhaaf ՚n konserwatiewe veelading gedurende die droogte, wat beteken die veegetalle moet voor of gedurende die droogte verminder word sodat die plantegroei nie vernietig word nie. Weerstaan die versoeking om veegetalle aan te vul nadat dit gereën het en die veld groen en produktief lyk.
- Wees veral versigtig met soetveld wat baie sensitief is vir oorbenutting wat dit gedurende en direk na die droogte kan vernietig sodat dit met nuttelose, onsmaaklike plante vervang word.
- Omdat die voedingswaarde van suurveld tydens droogte afneem, moet die vee aanvullende voeding kry. Gee verkieslik in ՚n kamp wat net daarvoor gebruik word om die ander kampe te spaar.
- Maak voortdurend seker daar is nie tekens van aktiewe gronderosie nie.
- Hou noukeurig rekord van die datums waarop kampe roteer word sodat dit in die toekoms vergelyk en aangepas kan word indien nodig.
- Oorweeg dit om ՚n moniteringstelsel, soos vastepunt-fotografie, aan te bring waarmee die veldtoestande gemeet kan word.
Kontakbesonderhede
Caring for Natural Rangelands (bygewerkte tweede uitgawe 2023 is ’n praktiese gids vir die bewaring van natuurlike veld. Dit word uitgegee deur New Voices Publishing en is beskikbaar by Ken Coetzee by 076- 227-5056 of consken@mweb.co.za https://agriorbit.com/volhoubareveldbestuur-in-soetveldgebiede/



