Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 19th July 2022

Droëlandboerdery: Só kan winterdekgewasse jou dien

By 7 min read
1325 words

dekgewasse2

՚n Perseel word vooraf oorbenat, waarna dit met 'n seil toegemaak word en gelaat word om vrylik te dreineer totdat die boonste gedreineerde perk bereik word. Let op die neutronvogmeter se toegangsbuis waarmee die neutrontellings later met die waterinhoud by die boonste gedreineerde perk vergelyk gaan word. (Foto: Verskaf)

deur Tisha Steyn

Winterdekgewasse bevorder grondgesondheid, maar het ook rol in vogbestuur. ՚n Studie deur InteliGro verduidelik die voggebruik van winterdekgewasse.

Die studie beklemtoon opnuut die verweefdheid van boerdery en veral die noodsaaklikheid om besluite te neem met die groter prentjie in gedagte.

Boerderysukses berus op volhoubaarheid. As die grond as hulpbron beskerm word, lei dit tot groter produktiwiteit en winsgewendheid. Opsies ter wille van grondbeskerming sluit minimum- of geenbewerkingstelsels, maar ook die gebruik van dekgewasse, in.

Voordele van dekgewasse

Die plant van dekgewasse op landerye wat in afseisoene braak lê word beskou as ՚n manier om die grond te beskerm, te voed, volhoubaar te bestuur en risiko’s te verskans.

Die voordele van multispesie-dekgewasse is veelvuldig. Dit kom daarop neer dat ՚n sorgvuldig saamgestelde mengsel van plante as grondbedekking lei tot genoegsame biodiversiteit bo en onder die grond, wat noodsaaklik is vir optimale oeste. Dekgewasse help om mikrobegroei te bevorder, vogverlies te beperk, erosie te tem, en om onkruid te beheer.

՚n Geskikte dekgewasmengsel kan lei tot sinergisme tussen die gewasse, wat koolstofwaardes in die grond bevorder, stikstofbinding en biomassaproduksie aanhelp en verdigting verlig. Hoe hoër die koolstofpersentasie in die grond is, hoe groter is die grond se waterhouvermoë.

Die oorhoofse doelwit is om boerdery beter teen risiko’s te verskans sodat boerdery meer volhoubaar kan wees — die einddoel is om die grond as hulpbron te beskerm.

Omdat geen twee stukke grond identies is nie, moet uitdagings soos suur, nat en of verdigte grond in gedagte gehou word wanneer dekgewasse gekies word, want die plante het ook verskillende verdraagsaamheid vir hierdie toestande. ՚n Grondontleding is dus noodsaaklik vir die keuse van die regte kombinasie.

Kenners meen dekgewasse soos grasse en grane moet sowat veertig persent en peulplante sestig persent van die mengsel uitmaak. Die peulplante groei nie so aggressief soos grasse en grane nie, terwyl blomme nodig is om insekte ter wille van bestuiwing te lok.

Samestelling

՚n Kombinasie van spesies uit vyf groepe suksesvolle dekgewasse is die mikpunt: Grasse soos soedangrasse; sorghum/soedan; meerjarige grasse; eenjarige grasse; raaigrasse; swenkgrasse; kropaargrasse; manna; tef; reddingsgrasse en babala.

Grane soos sorghum; mielies; koring; hawer; gars; rog; sonneblom en sorghumbasters.

Brassicas soos kanola; mosterd; voerrape; rape; radys (daikon) en Japannese radys.

Chenopodia soos suikerbeet; beet; spinasie en snybeet, en die subspesies bokwiet; rabarber en sigorei.

Peulplante soos akkerbone; dolichos of lablab bone; sojabone; lusern; wieke; voererte; klawer; mungbone; sonhennep; lupine en fababone.

Eienskappe

Die eienskappe van die verskillende dekgewasse kan help met die keuse van die regte dekgewasse.

Erosie: Hawer en stoelrog help in die winter om erosie teen te werk.

Waterindringing: Hawer, stoelrog en radyse bevorder waterindringing in die winter en sorghum in die somer.

Proteieninhoud: Peulgewasse verhoog die proteïeninhoud van weiding.

Onkruid: Vinnig groeiende dekgewasse soos lusern, dolichos- of lablabbone of sonhennep kan onkruid verdring.

Bestuiwing: Swartbekboontjies, dolichos- of lablabbone, lusern, sigorei, sonneblom, vlas, babalagras en voersorghum se blomme lok insekte.

Grondvogmetings word met ‘n neutronvogmeter gedoen. (Foto: Verskaf)

Mikrobes

“Grondmikrobes het ՚n verskeidenheid lewende plantwortels nodig om te floreer,” sê Gerrie Ludick, landboukundige en rygewasspesialis by InteliGro, wat die gebruik van dekgewasse in droëlandboerdery in die semi-woestynagtige westelike droëlandproduksiegebiede van Suid-Afrika waar water skaars en kosbaar is, laat ondersoek het.

Droëlandboerdery het unieke uitdagings. In die winter lê die lande leeg met geen plantegroei om die mikrobes te voed en te stimuleer nie. Die afseisoen benadeel dus die organismes en grondgesondheid. Winterdekgewasse klink soos die ideale oplossing: op dié manier is daar lewende wortels in die grond en die materiaal kan as veevoer gebruik word.

Terwyl die konsep van winterdekgewasse wat in Brasilië ontwikkel is, ՚n uitstekende metode is om grondgesondheid te verbeter en om grondvog te bestuur, geld die beginsels nie noodwendig in die westelike dele van Suid-Afrika waar water skaars en kosbaar is nie.

Die tradisionele praktyk in hierdie streek is om lande gedurende die winter kaal te laat lê, met selfs onkruide wat aktief uitgeroei word om oordragvog te bewaar. Omdat die kaal bogrond uitdroog, kan dit tot water- en winderosie lei, terwyl daar ondergronds geen lewende wortels is wat noodsaaklike mikrobe-aktiwiteit stimuleer nie. Van die boere in die streek het begin om winterdekgewasse te plant om die nadele van kaal grond teen te werk.

“In die westelike gebiede is dit egter ՚n uitdaging,” sê Gerrie. “Die oordragvog wat winterdekgewasse gebruik, is die fondasie waarop die opbrengs van die volgende seisoen se somerrygewas gebou word. Boere kan nie bekostig om dit te ‘mors’ nie.”

Hy meen droëlandboere moet die implikasie van dekgewasse in die winter binne die konteks van ՚n hele jaar se produksie benader, want enige vog wat gedurende die winter uit die grond onttrek word, moet eers weer deur somerreën aangevul word voordat die boer gelyk kan breek. “Indien nie, sal die agterstand blywend wees en mag dit ՚n nadelige invloed op die volgende seisoen se opbrengs hê.”

Dividendeberekening

Die aanvaarde metode om die waarde van winterdekgewasse te bereken, is kilogram vleis/hektaar, gegewe hoeveel skape, beeste of bokke met die winterdekgewasse se plantmateriaal gevoer kan word.

“Die vog wat die dekgewasse gebruik, is egter nog nooit in Suid-Afrika bepaal nie,” sê Gerrie. InteliGro het Martiens du Plessis, grondkundige by NWK Landboubestuursdienste, genader om ՚n onafhanklike wetenskaplike studie uit te voer.

Martiens het ՚n geykte neutronvogmeter gebruik om die vogverbruik te meet. Die meting is tussen Desember 2020 en April 2021 op ՚n plaas in die Viljoenskroon-distrik gedoen.

Ses vogmeterpype is in ՚n mielieland op goedgedreineerde grond geplaas, en nog ses in ՚n sojaboonland op vlak watertafelgrond.

Bevindings

Die volgende bevindings is gemaak: Dit is moeilik om winterdekgewasse
aan die einde van die somer in die Weste se droë bogrond te vestig. Uit
die saadmengsel van grasse, knolen peulplante wat geplant is, het net rog opgekom.

Minder vog as wat verwag is, is gedurende die winter onttrek, maar voggebruik het in die lente skerp toeneem. “Dekgewasse moet dus teen einde Augustus, begin September verwyder word voordat hulle groot skade aan die grondvog aanrig,” sê Hendrik.

Die waterkoste van ՚n winterdekgewas is aansienlik laer op ՚n vlak watertafel as op ՚n gedreineerde profiel. Boere moet dus versigtig besin oor die lande waar winterdekgewasse geplant word, asook hoe nat die grondprofiel teen die einde van die somer is.

Volgens Martiens moet winterdekgewasse in die westelike saaigebiede verkieslik tot nat seisoene beperk word, anders kan dit opvolggewasse in ՚n droë seisoen betekenisvol benadeel.

Die hoeveelheid water wat teen einde Augustus en einde Oktober onttrek is, is omgesit in kilogram graan:

Op 30 Augustus was die verlies aan grondvog wat aan die dekgewas toegeskryf kan word 9,4 mm (98,2 kg/ha mielies);

Teen 8 Oktober was dit 18,3 mm (195,6 kg/ha mielies).

Teen R3 800/ton vir mielies is die verlies aan inkomste onderskeidelik R373/ha en R743/ha.

Slotsom

Die studie het duidelik getoon dat omstandighede die besluit oor winterdekgewasse moet bepaal. In nat seisoene is winterdekgewasse uitstekend om biologiese diversiteit en grondgesondheid te verhoog, maar in droë seisoene kan die risiko vir die volgende somergewas se opbrengs te
hoog wees.

“In sommige jare sal dekgewasse sinvol wees en in ander jare nie, veral in die droë gebiede,” sê Gerrie. “Die wins in kilogram vleis/hektaar moet meer wees as die verlies aan graanopbrengs gemeet in kilogram graan/hektaar.

“՚n Belegging in grondgesondheid het ՚n koste-implikasie op die korttermyn, maar dit is ՚n verantwoordelikheid wat nie geïgnoreer kan word nie.”

Wie is InteliGro?

InteliGro fokus daarop om waarde toe te voeg deur volhoubare tegniese gewasoplossings ten einde optimale opbrengs en gehalte te verseker. InteliGro se waarde-aanbod bestaan uit ՚n geïntegreerde benadering wat gewasbeskerming, gespesialiseerde plantvoeding, biologiese oplossings en ondersteunende tegnologie insluit. Hierdie waarde-aanbod word deur InteliGro se gewasadviseurs en ՚n span tegniese kundiges, wat grondkundiges, tuinboukundiges en plantvoedingkundiges insluit, ondersteun.

Kontakbesonderhede

Kontak Gerrie Ludick van InteliGro by GerrieL@inteligro.co.za of 056-
343-3444.

Verwysings

Kunz, L. (2019). Bewaringslandbou het nie ’n formule nie – dis ’n beginsel. Graan SA sagrainmag.co.za/2019/11/03/bewaringslandbou-het-nie-n-formulenie-dis-n-beginsel/

Cilliers, V. (2019) Dekgewasse al meer gewild. Graan SA. sagrainmag.co.za/2019/11/03/dekgewasse-al-meer-gewild/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0