Dis g’n strooi, ons praat hooi: Deel 2

pexels-vlad-chețan-2600219
Elke boer weet: jy kry uit wat jy insit. Daarom moet die hooi wat jy vir jou diere verbou van ՚n hoë gehalte wees sodat jou vee goeie gehalte produkte lewer.
In Deel een van hierdie artikel het ons gekyk na lusern, armmanslusern en oulandsgras. ՚n Boer se keuse is egter nie daartoe beperk nie. Daar is ook nog tef, Rhodesgras, bloubuffelgras, witbuffelgras en smutsvingergras. Elke soort het sy eie voor- en nadele, en die skaal van jou plaas, die soort vee wat jy aanhou en die ligging sal ՚n rol speel.
Tef (Eragrostis tef)
Tef is ՚n goeie gewas om aan te plant vir hooivervaardiging, en dit sommer binne net 65 tot 75 dae! Dit lewer ongeveer 4 tot 8 ton droëmateriaal per hektaar elke seisoen, maar dit kan wissel na gelang van die weersomstandighede en bestuur van die tefoes.

Tef is veral goeie hooi vir perde omdat die gehalte so goed is, maar dit word nie as goeie weiding aanbeveel nie. Diere vertrap die gras en vermors só baie van die uiteindelike opbrengs. Dit word ook nie as kuilvoer aanbeveel nie.
Die beste tyd om tef te plant is tussen Oktober en Januarie, sodra die minimum grondtemperatuur 18 °C is. As jy die gras vroegsomer plant, sal dit twee oeste lewer.
Wanneer tef gesaai word, moet die saadbed gelyk en eenvormig wees. Nadat die saad gesaai is, moet die grond platgerol word om die beste kontak tussen grond en saad te verseker.
Omdat die saadjies so verskriklik klein is, word dit moeilik om the bepaal hoe dig die veld gesaai word en hoe die saad versprei word. Dit kan saam met oulandsgras aangeplant word, maar die saaidigtheid sal verskil.
Voordele:
- Dit lewer hoë gehalte hooi.
- Dit is hoogs aanpasbaar vir verskeie groeitoestande.
- Dit bied weerstand teen souterigheid.
- Kan droogtes weerstaan.
- Waardevol vir erosiebeheer.
Nadele:
- Die klossies is yl.
- Dit word baie gemors wanneer dit bewei word.
Grondvereistes
Tef groei in verskeie grondsoorte, maar grond wat nie goed dreineer nie moet vermy word. Die gras kan ook maklik aanpas by verskeie groei-omstandighede. Die grondvrugbaarheid moet op goeie standaard wees, met ander woorde die fosfor (P) en kalium (K) moet onderskeidelik 15 mg/kg en 100 mg/kg grond wees.
Die ideale grondsuurvlakke is bo 5 pH, maar dit kan ook so laag as 4,5 pH verdra.
Bemesting
Tef kan twee maal gedurende die seisoen bemes word met 50 kg stikstof per hektaar. Die plant is baie sensitief vir stikstof, daarom is dit belangrik om nie te veel bemesting toe te dien nie.
Rhodesgras (Chloris gayana)
Rhodesgras is gehard, droogtebestand en produktief. Dit kan in ՚n goeie seisoen tot 30 of 40 ton per hektaar droëmateriaal lewer, met ՚n gemiddeld van 18 ton per hektaar.

Rhodesgras moet verkieslik tussen Oktober en Februarie gesaai word sodra die minimum grondtemperatuur bo 16 °C is.
Rhodesgras kan vegetatief of met saad aangeplant word. As dit vegetatief aangeplant word, kan polle een meter uit mekaar geplant word. As die saad gestrooi word, moet dit eers met ՚n middel bedek word om die vloei van saad deur ՚n saaier makliker te maak. Saad word tussen 5 en 10 mm diep gesaai. Dit kan ook saam met ander grassoorte geplant word. Om saailinge die beste kans te gee, moet dit eers kans gegee word om te blom en goeie wortels te vorm voordat diere dit bewei.
Rhodesgras vaar goed onder besproeiing, maar dit is nie noodsaaklik nie.
Wanneer daar hooi van Rhodesgras gemaak word, kan die gras een maal per maand gesny word. Die hooiopbrengs is die beste wanneer die gras voor die voortplantingsfase gesny word omdat dit verdere groei aanmoedig. Rhodesgras se gehalte word verbeter indien dit een maal per jaar saadskiet.
Voordele:
- Die plant is meerjarig.
- Dis baie aanpasbaar.
- Het ՚n hoë weerstand teen sout.
- Kan swaar bewei word.
- Dit lewer goeie saadproduksie en die saad versprei natuurlik.
- Dit kan rondewurm in diere onderdruk.
- Min peste en siektes val dit aan.
Nadele:
- Die wollerige saad saai moeilik.
- Dit groei nie in suur of onvrugbare grond nie.
- Dit groei nie in skaduwee nie.
- Die voedingswaarde neem vinnig af nadat dit geblom het.
Grondvereistes
Rhodesgras sal in die meeste grond tipes groei solank die vrugbaarheid en dreinering goed is. Die grondsuurvlak moet tussen 5,5 en 7,5 pH wees om optimale groei bereik. Hoë mangaan (Mn) kan egter giftig wees vir die plant.
Bemesting
Rhodesgras benodig bemesting om goeie resultate te lewer. Bemesting moet ryk in stikstof (N) wees.
Smutsvinger- of Pongolagras (Digitaria eriantha)
Smutsvingergras is ‘n tropiese gras wat voorkom in warm, vogtige tropiese en subtropiese klimaat. Die gras maak uitstekende hooi, maar kan ook as kuilvoer en weiding gebruik word. Ongeveer 10 tot 20 ton droëmateriaal per hektaar kan per seisoen geproduseer word as die bestuur en natuuromstandighede reg is.

Die saadproduksie van smutsvinger is baie swak, daarom word gras aangeplant met plante wat voorberei is deur betroubare verskaffers. Dit kan ook saam met ander gras soos Rhodesgras gekweek word.
Die beste tyd om smutsvinger te plant is tussen Oktober en Februarie wanneer die minimum grondtemperatuur bo 16 °C is.
Die gras benodig gereelde weiding om die gehalte te handhaaf. Wanneer dit vir hooi gebruik word, moet dit gesny word voordat saad vorm.
Voordele:
- Dit is ՚n sterk, meerjarige grassoort.
- Dit lewer hoë gehalte gras, dus ook hooi.
- Dit pas goed aan.
- Dit is droogte- en veldbrandbestand.
- Dien as goeie erosiebeheer.
Nadele:
- Dit vat langer om te ontkiem omdat die saad dormant is.
- Dis nie goed aangepas vir grond wat water terughou nie.
- Slegte weidingbeheer kan die veld ernstig beskadig.
Grondvereistes
Sanderige tot leemgrond is goeie grondtipes vir smutsvinger omdat dit goed dreineer. Die plant vaar die beste wanneer die grondsuurvlakke bo 5 pH is, maar dit verdra grond met ՚n pH van 4,5.
Bemesting
Hierdie gras kan groei in grond met lae vrugbaarheid, maar dit sal die opbrengs beïnvloed. Grondontleding kan bevestig of jou grond vrugbaar of onvrugbaar is. Toediening van stikstof (N) kan die plante beter laat groei.
Bloubuffelsgras (Cenchrus ciliaris)
Bloubuffelsgras is ՚n meerjarige plant en ՚n goeie keuse vir hooi asook weiding. Dit lewer ongeveer 2 tot 9 ton droëmateriaal per hektaar per seisoen.

Die beste tyd om te plant is wanneer die grondtemperatuur bo 16 °C is, gewoonlik tussen Oktober en Februarie.
Om goeie waarde uit bloubuffelsgras te put, kan die gras vroeg in die seisoen gesny of bewei word, maar indien dit nuwe weiding is wat gesaai is, moet diere vir vier tot ses maande weggehou word. Gras kan elke agt weke gesny word, maar voordat dit blom anders neem die voedingswaarde drasties af.
Beheerde brande kan gebruik word as ՚n manier om nuwe groei aan te moedig.
Voordele:
- Dit is ՚n sterk meerjarige plant.
- Diere vind dit smaaklik.
- Dit is bestand teen droogte.
- Goeie keuse vir droëlandverbouing.
- Vaar goed onder besproeiing.
- Groei vinnig na die reën.
Nadele:
- Die wollerige saad saai moeilik.
- Dit benodig redelik vrugbare grond.
- Die grond moet baie fosfor hê om die saad te laat ontkiem.
- Groei swak in kleigrond.
- Versuip maklik.
Grondvereistes
Goed gedreineerde grond is die beste vir bloubuffelsgras. Die pH moet tussen 5,5 en 7,5 wees om die beste opbrengs te verkry. Hierdie gras hou niks van grond wat baie aluminium (Al) bevat nie.
Bemesting
Bemesting wat bestaan uit stikstof (N), fosfor (P) en kalsium (Ca) is belangrik vir plantoorlewing. Fosfor en kalium (K) word teruggeplaas in die grond wanneer die land bewei word. Jaarlikse grondontleding is nogtans noodsaaklik om die vrugbaarheid van die grond te bepaal.
Gewone buffelsgras (Panicum Maximum)
Hierdie vinnig groeiende meerjarige gras is ideaal vir kuilvoer, weiding en hooi. Die gras groei gewoonweg tot twee meter hoog en in tropiese dele tot drie meter. Dit kan tussen 10 en 60 ton droëmateriaal per hektaar per seisoen lewer. Deur dit gereeld te sny kan die opbrengs verhoog. Die aanvanklike oes kan heelwat minder wees, maar sal toeneem deur die loop van die seisoen.

Die gras groei die beste in vrugbare grond wat goed voorberei is. Dit benodig ook skaduwee en gereelde water. Gewone buffelsgras sal wel oorleef as dit ongeveer 400 mm reën per jaar ontvang, maar dit sal minder droëmateriaal lewer. Die goeie nuus is dat dit goed vaar in ՚n warm klimaat, maar dit hou nie van ryp nie.
Die beste tyd om die gras te saai is tussen Oktober en Januarie.
Voordele:
- Dit het baie blare.
- Dit lewer ՚n goeie gehalte voer.
- Uitstekende produksiepotensiaal.
- Word deur alle vee geëet.
- Dis droogtebestand.
Nadele:
- Dit benodig vrugbare grond.
- Dit versuip maklik.
- Die gras kan nie te veel weiding oorleef nie.
- Lang tydperke tussen sny of weiding laat die stammetjies hard word.
Grondvereistes
Solank die grond vrugbaar is met goeie dreinering, sal die gewone buffelsgras groei, ongeag van die grondsoort.
Bemesting
Gewone buffelsgras benodig goeie bemesting om goed te groei. Om dit met stikstof (N) aan te vul, kan die veld aansienlik meer hooi laat lewer.

Bronne:
Feedipedia (2020). Buffel grass (Cenchrus ciliaris). Beskikbaar by: https://www.feedipedia.org/node/482
Feedipedia (2020). Tef (Eragrostis tef) hay. Beskikbaar by: https://www.feedipedia.org/node/22768
Feedipedia (2020). Pangola grass (Digitaria eriantha). Beskikbaar
by: https://www.feedipedia.org/node/461
Feedipedia (2020). Rhodes grass (Chloris gayana). Beskikbaar
by: https://www.feedipedia.org/node/480
AGT Foods Africa (2018). Teff – Forage. Beskikbaar by: https://agtfoods.co.za/wp-content/uploads/2018/07/1.-Teff.pdf
AGT Foods Africa (2018). White Buffalo / Guinea. Beskikbaar by:
https://agtfoods.co.za/wp-content/uploads/2018/07/11.-White-Buffalograss.pdf
AGT Foods Africa (2018). Smutsfinger – Forage. Beskikbaar by:
https://agtfoods.co.za/wp-content/uploads/2018/07/9.-Smuts-fingergrass.pdf
AGT Foods Africa (2018). Rhodesgrass – Forage. Beskikbaar by:
https://agtfoods.co.za/wp-content/uploads/2018/07/8.-Rhodes-grass.
pdf
AGT Foods Africa (2018). Blue Buffalo Grass – Cover Crops. Beskikbaar by: https://agtfoods.co.za/wp-content/uploads/2018/07/7.-Blue-Buffalo-grass.pdf