Dieresiektes: Kleinveepes sluip al nader aan ons grens

Spatial-distribution-of-peste-des-petits-ruminants-Based-on-data-available-up-to-2014
Verspreiding van kleinveepes wêreldwyd (Bron: https://www.researchgate.net/profile/Bryony-Jones-4/publication/295683564/figure/fig1/AS :334487209693186@1456759373662/Spatial-distribution-of-peste-despetits-ruminants-Based-on-data-available-up-to-2014.png)
Kleinveepes, algemeen bekend as peste des petits ruminants of PPR, wat (nog) nie in Suid-Afrika voorkom nie, hou juis om daardie rede ՚n ernstige bedreiging vir die kleinveebedryf in die land in.
Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) beskou hierdie hoogs aansteeklike virussiekte as een van die ernstigste herkouersiektes wat skape, bokke en verskeie wilde herkouers bedreig en ՚n enorme negatiewe uitwerking op gemeenskappe se oorlewing en voedselsekerheid het. Die siekte het die vermoë om tot 90% van ՚n kudde te besmet en tussen 30 en 70% van hulle te laat vrek.
Die siekte is verwant aan runderpes wat van 1898 tot 1903 na raming 2,5-miljoen beeste en ontelbare wildsbokke in Suid-Afrika uitgewis het. ՚n Suid-Afrikaans vervaardige entstof het dié siekte hier uitgewis. In Engels word na hierdie runderpes as ‘bovine rinderpest’ verwys, terwyl die siekte wat kleinvee aantas bekend is as ‘ovine rinderpest’. Die siekte is ook verwant aan masels en hondesiekte.
Oorsprong en voorkoms
Die virus het aan die begin van die 20ste eeu in Nigerië in Wes-Afrika ontstaan en is vir die eerste keer in 1942 beskryf na ՚n uitbreek in die Ivoorkus in 1940. Van daar het dit vroeg in 1980 na OosAfrika en Arabië versprei en in 1990 na Pakistan en Indië. In 2007 het dit in Tibet uitgebreek waar dit verwoesting gesaai het onder die land se bedreigde steppebok-bevolking. Sedert 2017 kom dit voor in Wes-Afrika, Gaboen en die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Oos-Afrika noord van die ewenaar, die Midde-Ooste en die Indiese subkontinent, insluitend Nepal en Mianmar waar dit jaarliks sowat 1 800- miljoen bokke eis. In Noord-Afrika het die siekte net een keer in Egipte uitgebreek, maar in Marokko woed dit sedert 2008, waar heelwat van die 17-miljoen skape en 5-miljoen bokke teen die verwagte uitbreking ingeënt is.
- Kleinveepes, algemeen bekend as peste des petits ruminants of PPR, wat nie in Suid-Afrika voorkom nie, hou juis om daardie rede ՚n ernstige bedreiging vir die kleinveebedryf in die land in. (Bron: Pixabay)
- Kleinveepes is verwant aan runderpes wat van 1898 tot 1903 na raming 2,5-miljoen beeste en ontelbare wildsbokke in Suid-Afrika uitgewis het, maar met die hulp van ՚n SuidAfrikaans-vervaardigde entstof is dié siekte hier uitgewis. Daar is entstof teen kleinveepes beskikbaar. (Bron: Pixabay)
Suid-Afrika
Die siekte het deur die jare al nader aan Suid-Afrika geskuif. In 2012 het dit in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) voorgekom waar 744 527 bokke ter waarde van meer as R565-miljoen gevrek het. Die siekte is nou endemies in die DRK en rig steeds skade aan. Die siekte het ook na Angola versprei waar dit nou ook endemies is. In Zambië kon die siekte gestop word voordat dit te veel skade aanrig. Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) moet alles gedoen word om te keer dat die siekte na Suid-Afrika versprei want as dit eers gevestig is, kan net deur volgehoue gekoördineerde pogings uitgeroei word. Dit hou ՚n groot bedreiging in vir die land se winsgewende wolbedryf, duisende werksgeleenthede en voedselsekerheid. Indien dit die land inkom deur kleinveeprodukte, mense en motors of vee wat deur die poreuse landsgrense ingesmokkel word, kan dit die ganse boken skaapbedryf uiters nadelig beïnvloed.
Simptome
As deel van ՚n bewusmakingsveldtog oor die verspreiding van die siekte het die Voedsel en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies se noodeenheid vir veesiektes wat oorgrens versprei, ՚n handleiding uitgereik waarin inligting oor die siekte beskikbaar gestel word.
Die siekte moet by die Wêreld-dieregesondheidsorganisasie (WOAH) aangemeld word. Dit is veral belangrik vir lande waar die siekte nog nie voorgekom het nie, soos Suid-Afrika, waar veeartse en boere nie die siektesimptome sal herken nie omdat dit ooreenstem met ander siektes wat asemhalingsprobleme en vrektes veroorsaak. Wanneer kleinveepes die eerste keer in ՚n gebied voorkom, kan ՚n baie hoë koors, gepaardgaande met depressie of selfs dood voorkom voordat die boer enige ander tekens waarneem en dus nie besef wat aangaan nie. Ander simptome is afskeidings van die oë, neus en mond, asemhalingsprobleme met gepaardgaande hoes en nies, en diarree. Die siekte versprei baie vinnig en bokke en skape word nie altyd terselfdertyd geraak nie. In Afrika word dit ook meer algemeen by bokke waargeneem, terwyl dit in Asië meer onder skape voorkom.
Oordraging
Die uitskeiding van die mond, neus en oë en los mis weens diarree bevat die virus wat versprei wanneer die besmette diere nies of hoes en ander diere die druppels inasem. Die virus kan ook voorkom in besmette water, voerbakke en die strooi waarop die diere slaap. Net soos die virus wat runderpes veroorsaak, oorleef die virus wat kleinveepes oordra nie lank buite die besmette gasheer of draer nie. Waar herkouers van verskillende oorsprong by markte, veilings of voerkrale in noue kontak met ander diere kom, kan die virus ook oorgedra word.
- Tipiese simptome van kleinveepes sluit in skielike koors, afskeidings van neus, oë en mond, asook sere in en om die mond wat ՚n roof kan vorm, longontsteking, diarree en skielike vrektes. (Bron: Pixabay)
- Kleinveepes is ՚n herkouersiekte en kom hoofsaaklik in bokke en skape, maar ook in kleiner wildspesies, voor. (Bron: Pixabay)
Opsomming van faktore wat met kleinveepes verbind kan word:
- Die diere is onlangs geskuif of saamgegooi met ander skape en of bokke, met gepaardgaande verandering in die voeding en huisvesting, soos ՚n kraal;
- ՚n Geslote kudde is mark toe gestuur maar het nie verkoop nie en word teruggeneem plaas toe;
- Kontak met handel- of trekdiere wat weiding, water en of behuising deel;
- Die veeteeltpraktyk het verander, byvoorbeeld van ՚n ekstensiewe boerdery na ՚n meer intensiewe vorm of andersom;
- Die weerpatroon het verander soos aan die begin van die reënseisoen wanneer dit warm en vogtig is, of ՚n skielike koue tydperk;
- In gebiede waar die kleinveepes endemies is, is die meeste siek of sterwende diere tussen vier en 24 maande oud.
- Tipiese simptome sluit in skielike koors, afskeidings van neus, oë en mond, asook sere in en om die mond wat ՚n roof kan vorm, longontsteking, diarree en skielike vrektes.
Volgens die WOAH is die standaard metodes wanneer ՚n siekte in ՚n voorheen onbesmette gebied verskyn kwarantyn, bewegingsbeheer, ՚n sindelike slagproses en ontsmetting; die meeste ontsmettingsmiddels werk doeltreffend teen die virus. Daar bestaan nie medikasie vir die siekte nie, maar voorkomende entstowwe bestaan wel. Dit is by Design Biologix en Onderstepoort Biological Products (OBP) beskikbaar en bied goeie weerstand. Ondersteunende behandeling kan vrektes beperk.
Voorkomende maatreëls
Volgens die Nasionale Veegesondheidsforum se bestuurder, Marzanne Roets, is monitering belangrik en die NDGF is saam met die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling besig om ՚n gebeurlikheidsplan op te stel. Die plan sal toesigstappe en inwerkingstelling van vinnige opsporingstelsels behels. Volgens Marzanne is die departement se veeartse by grensposte opgelei om kleinveepes te identifiseer en op te tree wanneer die siekte nader aan die land se grense beweeg en in buurlande voorkom.
- Kleinveepes kan die verskillende kleinveevertakkings, naamlik wol, vleis en sybokhaar, vernietig indien dit die land sou binnekom. (Bron: Pixabay)
- In Noord-Afrika het die siekte net een keer in Egipte uitgebreek, maar in Marokko woed dit sedert 2008, waar heelwat van die 17-miljoen skape en 5-miljoen bokke teen die verwagte uitbreking ingeënt is. (Bron: Pixabay)
Biosekerheid
Dit is noodsaaklik dat boere saam met veeartse seker maak dat ՚n doeltreffende biosesekerheidsplan gereed is. Dit geld nie net vir PPR nie, maar ook vir alle ander siektes soos Theileriose, bek-enklouseer, waarvan ՚n nuwe uitbreking in die Vrystaat voorgekom het, en besmetlike misgeboorte (brusellose).
Bronverwysings
Peste des petits ruminants (g.d.) Food and Agriculture Organisation of the United Nations https://www.fao.org/ppr/background/what-is-ppr/en/
Ovine rinderpest (2024) Wikipedia https://en.wikipedia.org/wiki/Ovine_rinderpest
De Villiers, d P. (2022) Kleinveepes kruip nader. Maroela Media https://maroelamedia.co.za/landbou/landbounuus/kleinveepes-kruip-nader/
RPO (2024) Kleinveepes: SA ‘moet bedag wees’. Landbou.com https://rpo.co.za/wp-content/uploads/2024/02/Jan-2024.pdf
Gouws, A. (2024) Ernstige veesiektes bedreig grens. Plaas Media https://agriorbit.com/ernstige-veesiektes-bedreig-grense/?fbclid=IwAR10QYssSGNwgjVsdoasfKlr0KUueOrtSG_Ns0I9vOSnF9OcnoI46zHAWg





