Categories: NuusPublished On: 22nd August 2019

“Die Texas van Suid-Afrika” maak gereed vir grootste Jeugskou nog

By 2 min read
347 words

Vryburg, ook soms genoem “die Texas van Suid-Afrika,” is vanjaar gasheer vir die 20ste Old Mutual Insure Agri Nasionale Jeugskou Kampioenskappe. Hierdie Kampioenskappe vind oor vier dae, van 22 tot 25 September 2019 by Vryburg skougronde plaas. Meer as 450 deelnemers van al nege provinsies word vanjaar verwag, wat dit die meeste nog in die geskiedenis maak.

Volgens Breyton Milford, voorsitter van die Nasionale Landbou Jeugvereniging, is Vryburg se fasiliteite ideaal om ‘n toernooi van hierdie statuur aan te bied. “Noordwes Jeugskou het die afgelope paar jaar geweldig gegroei en om hierdie toernooi in Vryburg aan te bied skep ‘n geleentheid om Jeugskou selfs verder in hierdie omgewing te bemark. Dit bly egter ‘n unieke geleentheid waar die land se beste skoumanne en -dames wat reeds provinsiale kleure verwerf het, in aksie sal wees.”

Deelnemers ding vanjaar in 15 kategorieë mee, naamlik: Vleisbeeste, suiwelbeeste, wolskape, vleisskape, vleisbokke, sybokke, melkbokke, wedvlugduiwe, sierduiwe, varke, kulinêre kuns, suiwelbereiding, konyne, pluimvee en perde.

Old Mutual Insure Agri is reeds sedert 2013 die naamregte borg van hierdie unieke geleentheid en volgens Liza de Beer, waarnemende hoof van Landbou, is Jeugskou ‘n belangrike platform en ‘n toonbeeld van jeug wat passievol is oor landbou.

“Old Mutual Insure Agri beskou jeugskou as ‘n belegging in die toekoms van landbou. Jongmense moet met die opwinding van die landbou geprikkel word en is dit daarom belangrik dat die jeug op ‘n vroeë ouderdom aan landbou blootgestel word.”

Een van die beoordelaars vanjaar, Elana Pietersen, het saam met haar broer Donovan, as oud-jeugskoudeelnemers ‘n paar jaar gelede, hul eie Brahman-stoet begin. Hul stoetnaam is Terenus-Brahmane en hul leuse is: “Ons bevorder landbou deur jeugskou”. Volgens Milford is dit ‘n sprekende voorbeeld van wat jeugskou beteken. “Ons glo dat Jeugskou deelnemers ‘n reusebydrae gaan lewer in die toekoms van Suid-Afrikaanse Landbou, inteendeel, ons sien dit al reeds”

Besoekers is welkom om hierdie geleentheid gratis by te woon.

Vir meer inligting kontak gerus vir Breyton Milford by Breyton@agriexpo.co.za / 082-708-5939 of Maxie Pieterse by mepietersen@lantic.net / 072-270-8583 of die webwerf by www.nays.co.za

Bron: Nasionale Landbou Jeugvereniging

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0