Categories: Artikels, Vee en Wild, VeilingsPublished On: 22nd October 2025

Die rykdom van Buckridge Bonsmara se ontstaan

By 3 min read
550 words

WhatsApp Image 2024-10-28 at 14.18.34

Toewyding tot genetiese uitnemendheid en volhoubare boerderypraktyke, verseker dat Buckridge Bonsmara beeste teel van hoë gehalte wat aanpasbaar en produktief is, selfs in uitdagende omgewings. Hierdie stoet het deur die jare bewys dat hulle beeste ’n waardevolle belegging is vir kommersiële boere, en hulle voortdurende navorsing en verbeterings dra by tot die vooruitgang van die Bonsmara-ras.

Vir Buckridge Bonsmara, is hierdie reis tot ’n suksesvolle veeboerdery een wat jare se droom, visie en harde werk vereis het – dít alles deur Bart Seevinck en sy seun Frans.

Frans vertel: “My pa kom uit ‘n besigheidsagtergrond en was vir lank ‘n deeltydse ‘naweek boer’ wat hoofsaaklik met osse geboer het. In 1998 het hy sy boerdery belange drasties begin uitbrei en in 2001 voltyds begin boer. Ek het in 2004 by die boerdery aangesluit, tot waar ek vandag nog betrokke is met my eie boerdery op die familiegronde. Bonsmaras was altyd deel van die prentjie, alhoewel ons vir ongeveer tien jaar lank kruisteling met ander rooi rasse gedoen het. Vanaf ongeveer 2008, het ons oorgeskakel na suiwer Bonsmara-teling.”

Buckridge Bonsmara is in 2012 geregistreer as stoet by Bonsmara SA, waar die boonste derde van kommersiële kudde geïdentifiseer is en aangebied was vir die eerste keuringsproses. Dit het gedien as die basis van die Buckridge Bonsmara-kudde. Vandaar het die kudde verder gegroei tot SP-status.

Die Buckridge-plaas is geleë in die Tlakgaming Laagte, ongeveer 130 km noord van Vryburg, in die groter Molopo-omgewing. Die gebied staan bekend as die ‘Texas van Suid-Afrika’. Hierdie gebied is die optimale gebied om beesboerdery te doen, danksy die droë klimaat wat siektes onder diere redelik beperk en die soetveld en semi-bosveldomgewing waarin die beeste floreer.

“Die Bonsmara-ras is ontwikkel vir alle omgewingstoestande in Suider-Afrika. Die Buckridge-kudde gebruik genetika uit ander gedeeltes van Suid-Afrika soos die Bosveld, Natal, Vrystaat, Hoëveld, asook die Kalahari. Wat ons ondervind deur die terugvoering wat ons ontvang, is dat Buckridge-genetika goed presteer in ander dele van Suider Afrika,” noem Frans.

Met vandag se ekonomie is veeboerdery baie belangrik vir beide telers en kopers. Beesboerderye is ’n integrale deel van Suid-Afrika se landbou, omdat beesvleis ’n belangrike rolspeler is om aan die daaglikse proteïenbehoeftes van mense te voorsien.

Beesboerderye is ook ’n groot werkverskaffer in Suid-Afrika – as jy kyk na die hele waarde ketting van die beeswagters en kuddebestuurders, deur die hele proses van bemarking tot by die kelner wat die biefstuk bedien in die restaurant. Met die hoë aanvraag tot beesvleis is daar beslis klem op winsgewendheid vir die boer wat met hierdie diere teel. Frans noem: “Aanpasbaarheid is ñ baie belangrike eienskap na vrugbaarheid in ñ kudde.” Bonsmaras floreer onder natuurlike omstandighede en beskik ook die vermoë om natuurlike veldgras om te sit in hoë gehalte beesvleis teen lae insetkostes.”

Veeboere weet dat drome nie waar word tensy daar harde werk, uithouvermoë en deursettingskrag uitgevoer word nie. Vir Frans is die toekoms vir die Bonsmara-ras en die boerdery een wat nie vinnig end gaan kry nie.

Hy sluit af: “Die Bonsmara-ras is op ’n baie goeie plek. Na my mening is ons die rasleiers in die beesbedryf in Suid-Afrika en gemaklik die grootste ras in Suid-Afrika.  Bonsmara SA is die leiers op gebiede soos myostatin en genomiese toetsing. Dit gaan die ras in die toekoms in staat stel om toonaangewende vordering in beesteling te verseker.”

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1