Die jongste weervoorspelling

reen wolke
Na die goeie reën sedert die begin van Februarie 2019 lyk dit asof droër toestande weer kan volg vir die laaste deel van Februarie en eerste week van Maart oor die sentrale, westelike en suidelike dele van die land asook Namibië maar swaar neerslae is moontlik oor die noordoostelike dele met die waarskynlike ontwikkeling van ‘n intense tropiese laagdruk oor Mosambiek en aangrensende gebiede.
1. Huidige toestande
Wydverspreide reën het voorgekom in die eerste twee weke van Februarie oor groot gedeeltes van die land. Die swaarste neerslae (selfs meer as 100 mm) het voorgekom oor die westelike en suidwestelike dele van die land, die Oos-Kaap asook Namibië (veral die suidelike dele) en was nie verwag volgens voorspellings nie. Die reënval was genoeg om die effek van die droogte te verlig maar daar is steeds kolle en gebiede wat nie reën gehad het nie. Droë- en droogtetoestande hou steeds ‘n greep op landbouproduksie in die noordwestelike, sentrale en suidoostelike dele van die Vrystaat, gedeeltes van KZN en westelike dele van die Noordwes Provinsie en aangrensende dele van die Noord-Kaap.
Alhoewel betekenisvolle reënvaltotale voorgekom het oor groot gedeeltes van die Somergraangebied is dit nog ver van voldoende om die oes deur te sien sonder droogteskade en word verdere reën dringend benodig binne die volgende twee tot drie weke. Sonder reën vir die res van Februarie kan droogteskade weer begin voorkom oor veral die sentrale tot westelike dele van die Vrystaat, gedeeltes van KZN en kleiner gedeeltes in die Noordwes Provinsie.
Weidingstoestande sal baie verbeter as gevolg van die reën in die eerste deel van Februarie oor die grootste deel van die ekstensiewe weidingsgebiede. Meer reën is egter steeds nodig om te verseker dat genoeg weiding beskikbaar is vir die winter, lente en eerste deel van die volgende somer maar daar is nog byna twee maande oor waar produksie kan plaasvind mits reën voorkom in die westelike dele voordat lae temperature groei gaan staak.
2. El Nino en Indiese Oseaan
Nino oppervlaktemperature bly in die neutrale reeks (Nino1+2, Nino3 en Nino3.5 = 0.4 ˚C warmer) of net buite die neutrale reeks (Nino 4 = 0.8 ˚C warmer).
Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) bly steeds neutraal.
Betekenisvolle afkoeling het begin plaasvind in die westelike Indiese Oseaan (naby Afrika kuslyn) gedurende Januarie 2019 maar verwarming is besig om plaas te vind in die sentrale tot noordelike Indiese Oseaan. Die Indiese Oseaan Dipool Indeks is nou ook in die neutrale reeks.
Korttermynvoorspellings dui dat daar ‘n sterk tropiese laagdrukstelsel oor Mosambiek en die aangrensende Mosambiekkanaal gaan ontwikkel vanaf ongeveer 17 Februarie.
3. Verwagte reënval en temperatuur
3.1 Somerreënvalgebiede
3.1.1 Reënval
Dit wil voorkom asof ‘n sterk tropiese laagdrukstelsel oor Mosambiek en aangrensende Indiese Oseaan vanaf ongeveer 17 Februarie weer reënvalpatrone gaan ontwrig vir ten minste die res van Februarie. Op hierdie stadium lyk dit asof swaar reën kan voorkom oor die kusgebiede en binneland van Mosambiek, noordoostelike dele van die RSA sowel as Zimbabwe en selfs gedeeltes van Botswana. Die verwagte rigting van beweging van die stelsel is nog onduidelik om te bepaal hoe ver na die binneland dit ‘n effek gaan uitoefen. Droër toestande word egter weer verwag oor die sentrale maar veral westelike dele van die land tot ten minste die tweede week in Maart.
Alhoewel voorspellings baie onbetroubaar is hierdie seisoen, is die aanduidings nog steeds vir ondergemiddelde reënval.
Dit is egter nie uitgesluit dat kleiner lokale afsnylaagdrukstelsels kan ontwikkel om swaar reën te veroorsaak nie. Daar is ooreenkomste tussen klimaatstoestande in oos-Australië en die somerreënvalgebiede van Suid-Afrika en kan lokale oorstromings soos in Townsville en omliggende gebiede in Queensland, Australië ook hier voorkom. Ekstreme klimaatstoestande soos die vloede in die noordelike dele van Queensland, Australië; vloede in die suidelike en westelike dele van Suid-Amerika; ekstreme koue en sneeu in die noordelike halfrond is alles aanduidings van baie volatiele klimaatstoestande.
3.1.2 Ryp en groeitemperature
Die verwagte droër toestande vir die res van Februarie en gedeeltes van Maart kan help om meer hitte-eenhede te laat opbou maar verhoog die droogterisiko. Dit is veral aanplantings in die noordwes-Vrystaat wat na einde Desember gedoen is wat ‘n redelike risiko het vir rypskade voor die middel van April. Die ryprisiko is heelwat laer oor die Noordwes provinsie met ‘n baie lae ryprisiko voor die einde van April.
3.2 Winterreënvalgebiede
Warm en droë toestande word verwag vir die volgende maand of twee. Die tyd van aanvang van die reënseisoen is baie onseker maar aanvanklike projeksies is vir die normale tot later as normale tyd. Die oorblyfsels van El Nino-tipe toestande kan dalk die waarskynlikheid vir reën verhoog. Indien El Nino versterk in die volgende maande kan dit ‘n positiewe invloed op reënval uitoefen.
3.3 Namibië
Reënvaltoestande bly negatief vir die komende maande vir die westelike tot suidelike dele maar verbeter in die tweede week van Maart oor die sentrale tot noordelike dele.
4. Opsomming en gevolgtrekking
Betekenisvolle reënval het voorgekom oor ‘n groot deel van die Somerreënvalgebied maar vooruitsigte is negatief vir opvolgreën oor veral die sentrale, westelike en suidelike dele as gevolg van die verwagte ontwikkeling van ‘n tropiese laagdrukstelsel oor Mosambiek. Swaar neerslae is egter moontlik oor die noordoostelike dele in die tweede deel van Februarie as gevolg van die laagdrukstelsel oor Mosambiek. Beide ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie) en Indiese Oseaan Dipool Indeks (IOD) is in die neutrale fases. Daar is egter nog steeds ‘n bogemiddelde kans dat El Nino tekens van herontwikkeling kan toon.
5. Vrywaring:
Die inligting vervat in hierdie verslag word op eie risiko gebruik en die opsteller/Santam of enige ander persoon/instansie genoem in hierdie verslag neem geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid of toepaslikheid/interpretasie van inligting vervat in hierdie verslag nie.