Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 26th May 2025

Die Hino 700: Jou vrag, bestuurder en trok is veilig

By 3 min read
508 words

NAM02433

Die Hino-span by NAMPO 2025

Die Hino 700-vragmotorreeks is een van die mees gevorderde vragmotorreekse op die mark. Die trokke verseker nie net dat jou vrag, jou bestuurder en jou trok veilig by sy bestemming kom nie, maar ook weer veilig terug.

Anton Falck, visepresident van Hino Suid-Afrika, het tydens NAMPO 2025 vertel dat jy nie verkeerd kan gaan met ‘n Hino-trok nie. Hino is reeds meer as vyftig jaar beskikbaar in Suider Afrika en vorm deel van die Toyota-familie, dus het hulle dieselfde waardes ten opsigte van duursaamheid en betroubaarheid.

Hoewel die Hino 700-reeks voorheen aan die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar gestel was, het Hino besluit om eers die produk te onttrek en verdere ontwikkeling te gaan doen. In 2023 het hulle die verbeterde Hino 700-reeks bekendgestel.

Die Hino 700-reeks is ontwerp om groot vragte te vervoer.

Die Hino 700-reeks

Die trokreeks is beskikbaar in vier variante en het twee enjingroottes, ‘n 335,5 kW (450 perdekrag) en ‘n 307,5 kW (410 perdekrag).

Jy kan ook kies tussen twee verskillende voorhakers, asook ‘n vragvervoerder (freight carrier) en ‘n wipbakweergawe.

“Die voertuie presteer baie goed; ons het baie vinnig vir onsself ‘n goeie nis uitgekerf in die Suid-Afrikaanse mark,” sê Anton.

Hy voeg by dat die trok uitnemend geskik is vir die vervoer van groot vragte.

Die Hino 700-reeks is propvol kenmerke om jou vrag en bestuurder veilig te hou.

Veiligheid in die Hino 700-reeks

Die Hino 700-reeks is propvol veiligheidskenmerke om te verseker dat die trok, vrag en bestuurder te alle tye veilig is.

Die bestuursmoniteringstelsels aanboord laat weet die bestuurder wanneer hy nie aandag aan die pad gee nie. Deur die bestuurder se gesigsuitdrukkings te meet, kan die tegnologie vasstel of die bestuurder besig is om aan die slaap te raak of nie op die pad konsentreer nie.

Dan meet die voertuig of die bestuurder se hande op die stuurwiel is en die trok het radar en kameras om seker te maak die trok bly in sy baan en dwaal nie af nie. Indien die trok na links of regs beweeg word die bestuurder met ‘n sein in sy ore gewaarsku.

Die trok is toegerus met voorvalopsporing wat met radar werk en versperrings in die pad waarneem en dan spoed verminder. Die kenmerk laat ook die trok se spoed verminder indien die voertuig voor die trok stadiger beweeg as die trok.

Laastens het die trok ook noodremme wat aangewend word indien daar ‘n versperring in die pad is wat die bestuurder dalk kon miskyk.

Die Hino 700-reeks is ook vir ‘n beperkte tyd van die begin van 2025 beskikbaar met ‘n diensplan wat die eerste sewe dienste gratis lewer.

Die Hino 700-reeks is ‘n veelsydige en betroubare vragmotor wat goed geskik is vir verskeie bedrywe en toepassings. Sy robuuste bou, gevorderde veiligheidskenmerke en geïntegreerde tegnologie maak dit ‘n goeie keuse vir alle ondernemings wat ‘n kragtige en doeltreffende voertuig vereis.

Met meer as 60 handelaars landwyd hoef jy nie ver te soek om jou Hino 700-trok te koop nie. Besoek gerus die Hino-webstuiste by www.hino.co.za vir meer inligting en om in verbinding te tree met ‘n Hino-tak.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0