Dié herfsiektes lol in die Suid-Kaap

bosluis 1
“Hello. Dit gaan nog steeds bo verdienste.” So sê Henry Meyer, melkboer van Mosselbaai en verteenwoordiger van Agri Wes-Kaap in die Suid-Kaap. Maar daar is tog ‘n paar uitdagings namate warm klam weer sekere dieresiektes laat opvlam.
“Rooiwater lol maar op die oomblik hier in die Suid-Kaap,” vertel Henry. “Bietjies reën en warmte laat die bloubosluise lekker uitbroei, so hulle getalle neem toe. Dis hulle wat die rooiwater oordra.”
“Rooiderm by beeste en bloednier en ander klostridiese siektes by skape is ook nogal meer met warm, klam weer en vinniggroeiende groenvoer wat daartoe aanleiding gee.”
Rooiwater
Rooiwater (babesiose) is ‘n bosluisoordraagbare siekte wat tot veeverliese kan lei wat ‘n groot ekonomiese impak op boere kan hê.
Twee tipes rooiwater kom voor, naamlik Afrika- en Asiatiese/Europese rooiwater en albei word deur bosluise oorgedra.
Afrika-rooiwater is meer algemeen in gebiede waar bloubosluise (R. decoloratus en R. microplus) voorkom. Die siekte word deur die parasiet Babesia bigemina veroorsaak en word deur die nimf- en volwasse stadiums van die twee bloubosluisspesies oorgedra.
Asiatiese rooiwater word slegs deur die Asiatiese bloubosluis, Rhipicephalus (Boophilus) microplus oorgedra. Die rooipootbosluis, Rhipicephalus evertsi evertsi, kan ook ’n rol in die oordraging van Afrika-rooiwater speel, maar in ‘n mindere mate as wat bloubosluise doen.
Die verspreiding van albei word vereenselwig met die verspreiding van die vektore en ‘n warm, vogtige klimaat. Nietemin is albei tipes landwyd versprei weens die aankoop en verskuiwing van besmette beeste en die bosluise het aangepas by nuwe omstandighede.
Afrika-rooiwater kom oor die grootse deel van die land voor en net die droër dele sos die Groot-Karoo en Noord-Kaap is vry daarvan, Asiatiese rooiwater kom in die grootste deel van Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal voor, asook langs die Oos-Kaapse kus tot by naby Swellendam in die Wes-Kaap.
Albei bloubosluise is eengasheer bosluise, wat beteken hulle hele lewensiklus vandat die larwe op die bees klim totdat die wyfies vol gesuig is, word op een gasheer voltooi.
Bosluise raak besmet wanneer hulle op beeste voed wat onderliggende rooiwater het of draers van die parasiete (babesiose) is en die bosluise dra die besmetting deur middel van hulle eiers oor na die volgende generasie bosluise.

(Bron: https://za.virbac.com/home/every-health-care/pagecontent/every-advices/tick-borne-disease-related-articles/bosluisoorgedraagde-siektes-afri.html)
Simptome
Die simptome van rooiwater word binne sewe tot veertien dae nadat die diere met B. bigemina besmet is waargeneem. Dit sluit in:
• ‘n hoë koors (40 – 41,5˚C);
• lig tot donkerrooi of bruin urine;
• bloedarmoede;
• geelsug in gevorderde gevalle;
• swakheid, gebrek aan eetlus, lusteloosheid, onwilligheid om te beweeg, som ‘n droë neus, dowwe pels, diarree en aborsie.
Hierdie kliniese tekens kan ‘n aanduiding van die siekte wees, maar die diagnose moet deur ‘n veearts met ‘n bloedsmeer bevestig word.
Behandeling
Rooiwater word deur klimaatstoestande beïnvloed en uitbreke vind meestal in warm, klam somer- en herfsmaande plaas. Raadpleeg die veearts vir geskikte behandeling.
Waar hoë bosluisladings voorkom of wanneer diere na spaarkampe geskuif word, moet die diere een maal per week vir drie weke met kontakdipmiddels gedip word.
Rooiderm of draaiderm
Wanneer weiding in warm, klam weer geil groei, mag dit dalk mooi lyk, maar te veel van ‘n goeie ding kan dodelik wees vir vee.
Draaiderm, ook bekend as rooiderm, kom op lusernweidings voor. Dit kom veral voor by jong skape wat vinnig groei en ‘n lang tyd op sappige, proteïenryk weidings met ‘n lae veselinhoud, soos lusern, wei.
Omdat die kos vinnig uit die grootpens na die dermkanaal beweeg, lei dit daartoe dat die dikderm vergroot. Sodra die skaap vinnig van posisie verander deur te hardloop aangejaag te word, spring of op sy stert neergesit word, draai die swaar deel van derm en dop om.
Jong lusern wat weens hoe hitte verlep, veroorsaak ook gas in die dermkanaal wat die derm kan verplaas en laat omdop.

(Bron: https://za.virbac.com/home/every-health-care/pagecontent/every-advices/tick-borne-disease-related-articles/bosluisoorgedraagde-siektes-afri.html)
Simptome
‘n Aangetaste dier toon tekens van buikpyn en kan weens ongemak kreun en blêr. Hulle maak rukbewegings en skop na die pens met die agterpote. Hulle vrek gou en ontbinding tree vinnig in. As die buik oopgesny word, vertoon die derms rooi, bloederig en met gas gevul.
Die dier vrek so gou dat geen behandeling toegepas kan word nie. Voorkoming is belangrik om te keer dat die dikderm uitsit, maar dis moeilik om ‘n dier van groen weiding weg te hou.
Al oplossing is om weidings met tussenposes te bewei. Hoëdrukbeweiding in ‘n klein kampie sal hulle dwing om die hele plant op te vreet en nie net die proteïenryke, sappige dele nie.
Skape kan na drie tot vier dae op weiding ander voeding soos hooi gegee word. Droë ruvoer kan ook op weiding aangebied word sodat die skape dit kan vreet, maar sommige skape is nie lus daarvoor nie.
Goeie raad is om nie honger skape op jong lusernweidings toe te laat nie om te voorkom dat hulle hulself oorvreet. Indien wel, moet hulle versigtig hanteer word en byvoorbeeld nie wild en wakker rondgejaag word nie.
Bloednier
Bloednier word deur die Clostridium perfringens tipe D-gifstof veroorsaak. Dit is ‘n verrottingskiem wat maklik in karkasse vermenigvuldig. Dit kom ook voor wanneer skape op geil weiding toegelaat word.
Net soos rooiderm veroorsaak dit skielike vrektes onder skape, maar dit is nie so maklik om te diagnoseer nie omdat ander oorsake, soos virussiektes of plantvergiftiging ook tot skielike vrektes kan lei.
‘n Veearts moet die diagnose maak en die gifstof identifiseer wat teenwoordig sal wees indien die skaap nie weerstand daarteen het nie. Selfs ‘n geringe vlak van teenliggame sal die skaap teen bloednier beskerm.
Al genade is dus om die hele kudde skape teen bloednier in te ent sodra ‘n uitbreking voorkom. Hulle moet ook met ‘n langwerkende antibiotika te behandel om te vrektes te voorkom sodat hulle voldoende immuniteit na inenting ontwikkel. Ent hulle vier weke voor hulle ontwurm moet word, en gee ‘n skraagdosis. Praat met jou veearts.
Bestuur voeding om faktore wat tot bloednier lei te voorkom; herkouers se dieet moenie oornag verander word nie.
Lammers moet voor hulle twee maande oud is, gemerk, gekastreer of die sterte afgesit word om ‘n skielike verandering ‘n melk- en voedselinname te voorkom. Indien die ooie voor lamtyd geënt word, kan die lammers deur biesmelk immuniteit verkry.

(Bron: https://za.virbac.com/home/every-health-care/pagecontent/every-advices/tick-borne-disease-related-articles/bosluisoorgedraagde-siektes-afri.html)
Bronverwysings
Bosluisoorgedraagde siektes: Afrika-rooiwater. Virbac
https://za.virbac.com/home/every-health-care/pagecontent/every-advices/tick-borne-disease-related-articles/bosluisoorgedraagde-siektes-afri.html
Du Pisanie, K. (2021) Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee. Veeplaas
https://agriorbit.com/bloednier-die-stille-moordenaar/
Fourie, J. (2015) Draaiderm (rooiderm) op lusern weidings NWKV
https://overberglandbou.wordpress.com/wp-content/uploads/2015/09/draaiderm.pdf
Henton, M. (2006) Bloednier by skape. Landbou.com
https://www.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/bloednier-by-skape-20180409
Strydom, T. (2016) Rooiwater in Suid-Afrika. Landbou.com
https://www.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/rooiwater-in-suid-afrika-20180507