Die GWM Steed 6 is 'n Sjinese wenner
Deur Dirk Gallowitz
Sedert die Sjinese vervaardiger, GWM, se toetrede enkele jare gelede tot die Suid-Afrikaanse motormark is menige skeptiese motorgeesdriftige al aangenaam verras. In minder as tien jaar kon die GWM-bakkies in ‘n strawwe ekonomiese en hoogs mededingende bakkiemark nie net oorleef nie, maar ook ’n markaandeel by gerekende vervaardigers afneem. Ook het die bakkies ‘n naam gebou as goeie waarde-vir-geld voertuie.

Kort na die plaaslike bekendstelling van GWM se nuwe vlagskip Steed 6 dubbelkajuitbakkies in Desember verlede jaar, het ek ‘n SX-weergawe ontvang om vir ‘n week te toetsbestuur. Die SX is die goedkoper model in die Steed 6-reeks met die luukser Xscape wat standaardtoerusting in bakkies na nuwe hoogtes voer.

Ek het meer as 2 000 kilometer met die Steed 6 afgelê, wat bergpasse, slegte grondpaaie en relatief goeie teerpaaie ingesluit het in ‘n goeie mengsel van dorp- en ooppadryery. Ek kon uiteindelik ‘n gemiddelde brandstofverbruik van 9,4â„“/100km behaal, wat glad nie sleg is nie inaggenome my bestuurstyl asook die feit dat die voertuig toe ek dit ontvang het slegs 1 600 kilometer afgelê het.

Die kragtiger 2,0 VGT turbo-aangejaagde viersilinderdieselenjin lewer nou 105 kW en 305 Nm wringkrag. Aandrywing na die agterwiele is deur ‘n heerlike 6-spoed ratkas. ‘n Eaton-ewenaarslot is standaard. Die ritgehalte van die Steed 6 het my aangenaam verras, selfs op die slegte grondpaaie, en het gunstig vergelyk met een van Suid-Afrika se topverkoper dubbelkajuitbakkies wat ek net die week tevore onder hande gehad het. Die Steed 6 loop standaard op 16”-wiele wat ook bydra tot ‘n sagter rit.
Die Steed 6-dubbelkajuit is 5 345 mm lank met ‘n wielbasis wat 3 200 mm meet. Die gevolg is ‘n lekker ruim kajuit met genoeg beenruimte, veral vir die agterste passasiers.

Die kajuit lyk en voel goed met goeie materiaal en afwerking terwyl die sitplekke gerieflik sit en genoeg rugsteun bied. Die SX soos getoets bied heelwat standaardtoerusting wat onder meer klimaatbeheer, radio/straalplaatspeler-klankstelsel met USB-koppeling asook Bluetooth-koppeling vir selfone insluit. Klank- en Bluetooth-skakelaars is ook op die stuurwiel.
Die Steed 6 2,0VGT SX 4×2 kos R294 900 en bied ‘n 5jr/100 000 km waarborg en 2jr/24-uur padbystanddiens. Die Steed 6-modelreeks word later vanjaar uitgebrei met 4×4-modelle.
In vergelyking met die meer gerekende dubbelkajuitbakkies van Ford, VW, GM en Toyota, is die Steed 6 egter steeds ’n kortkoppie agter, maar die gaping is al heelwat kleiner as met die eerste modelle. Slegs tyd sal leer of die Steed 6 kan byhou met betroubaarheid en duursaamheid.
![]()
Hierdie artikel is geskryf deur Dirk Gallowitz van Ultimage Drive. Besoek gerus hulle webwerf www.ultimatedrive.co.za vir nog puik artikels.