Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 11th March 2020

Deutz-Fahr se nuwe 6130W Profi-trekker is in SA: Boere kry nou nog meer!

By 3 min read
599 words

DSC_0946

Die groen 6130W Profi kajuit- en oop trekker van Deutz-Fahr is onlangs op ’n spoggeleentheid in Bloemfontein bekendgestel ... en die boere is bly.

Binnekort sal boere ’n nuwe groen trekker, perfek vir alledaagse werk op die plaas, in Suid-Afrika sien. “Die trekker is eenvoudig, maklik om te gebruik, betroubaar, sterk en beskikbaar teen ’n redelike prys,” sê Giuseppe Tufano, uitvoerende direkteur van SDF (SAME Deutz-Fahr), oor die 6130W Profi-trekker van Deutz-Fahr.

Kempston Agri, verspreider van CLAAS, Stara en Geringhoff, is ook nou die eksklusiewe invoerder en verspreider van die Deutz-Fahr-trekkerreeks. Kempston Agri het op 1 Oktober 2019 amptelik die ooreenkoms met SAME Deutz-Fahr Italië onderteken om hulle huidige CLAAS-reeks aan te vul. As betroubare landboutoerustingverskaffer wat die boer en boerdery haarfyn verstaan, gaan Kempston Agri ook al die nodige SDF-onderdele aanhou en ’n volledige naverkopediens bied om die boer aan die boer te hou. Hulle het ongeveer 53 handelaars in al nege provinsies.

Kempston Agri glo hierdie uitbreiding sal die diens wat hulle aan die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap lewer nog verder uitbrei. Etienne van Wyk, Kempston Agri se handelsmerkbestuurder vir Deutz-Fahr en Stara, sê: “Ons besluit om nog ’n handelsmerk by die Kempston-groep te voeg, stel ons in staat om ’n groter reeks werktuie aan te bied sodat meer boere deel van ons groter familie kan word.

“Ons het gesoek na meer struktuur. Deutz-Fahr se eerste amptelike gesprek met Kempston Agri is in Oktober 2018 gevoer. Kempston Agri wou iets byvoeg wat pas by die handelsmerke wat hulle het, en wat 90% van die mark in SA pas,” vertel Giuseppe.

Marco Diciano, diens- en produkondersteuningsbestuurder van SDF, sê: “Ons is nou sterker in Suid-Afrika om te bewys dat ons landbou in die land vertrou.”

Dru Connold, onderdelegebiedsbestuurder, Etienne van Wyk, handelsmerkbestuurder, Giuseppe Tufano, uitvoerende direkteur van SDF, Daniele Zanotti, sentrale uitvoergebiedsbestuurder, Wikus Snyman, diensgebiedsbestuurder en Marco Diciano, diens- en produkondersteuningsbestuurder by die Deutz-Fahr-trekkerbekendstelling en konferensie in Bloemfontein.

Die trekkers kom die land binne met die leuse: Fahr more for Deutz-Fahrmers.

Kempston Agri wil met die nuwe bekendstelling meer vir Suid-Afrikaanse boere bied en hulle het alreeds van die trekkers begin verkoop.

Deutz Fahr vervaardig van kleiner tot meer gespesialiseerde trekkers. “Boere kies ons vir ons goeie produk en op grond van die goeie rekord van betroubaarheid wat ons oor baie jare opgebou en gehandhaaf het,” sê Giuseppe.

Deutz-Fahr se 6130W lewer krag van 95 kW. Die trekker se Deutz TCD 2012 L6-enjin met elektronies beheerde drukbuis-inspuiting en turboaanjaging met interverkoeling bied soepelheid, lae brandstofverbruik, hoë wringkrag en ’n lang, lang lewe. Die interne hersirkulasie van uitlaatgas bied ’n eenvoudige, betroubare en onderhoudvrye manier om aan die streng Vlak III A-uitlaatgasvoorskrifte te voldoen.

Die 6130W het ’n 280-liter dieseltenk waarby ’n bykomende 140-liter tenk gevoeg kan word. Die gesinkroniseerde kragoordragstelsel van die 6130W is robuust en betroubaar met genoeg skakelopsies vir elke taak en omstandigheid. ’n Kruip- of selfs ’n uiters stadige kruipspoed is opsioneel beskikbaar.

deutz-fahr

Die tweespoedkragaftakker het ook ’n ekonomiese opsie met elektrohidrouliese skakeling en ’n toegewyde kragaftakkerkoppelaar vir egalige werking. Die 6130W se hidroulika is enige boer se droom met sterk pompe en genoeg aftappunte vir enige taak. Die hyser lig lag-lag 6 850 kg, maar met bykomende silinders kan hy 8 600 kg optel.

Jy kan kies tussen oop- of kajuitweergawes. Die bestuurder se sitplek is ruim en gemaklik sodat die bestuurder alles binne en buite maklik kan sien en al die kontroles maklik kan bykom. Die stuurkolom kan verstel word om by die bestuurder se lengte en smaak te pas en die kajuit se lugversorging is voortreflik, wat dit ’n plesier maak om met die trekker te werk.

Vir meer inligting oor die trekker wat meer vir boere bied, kontak Etienne van Wyk by 063-296-5211 of 043-703-3100 of stuur ’n e-pos aan etienne.vanwyk@kagri.co.za.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1