Deure swaai vir sitrus na Sjina nog wyer oop

sitrus 1
Met die aanvang van die sitrusseisoen op hande is daar talle uitdagings wat die bedryf in die gesig staar, waarvan die weer, hawens en die oorlog in die Midde-Ooste bo-aan die lys is. (Bron: Philippe Gauthier, Unsplash.com)
Die suksesvolle wysiging aan die vereistes vir koue-behandeling van sitrus bestem vir uitvoer na China maak die deur nog wyer oop vir uitgebreide handelsgeleenthede met die land.
Landbouminister John Steenhuisen het die jongste verwikkeling met Sjina verwelkom en gesê dit bevestig Suid-Afrika se posisie as die grootste uitvoerder van sitrus na China. Dit skep verdere handelsgeleenthede en verstewig die bande met die waardevolle handelsvennoot.
Volgens Steenhuisen sal die nuwe koue-behandeling uitvoere meer doeltreffend maak, kostes vir produsente en uitvoerders verlaag en verseker dat vrugte van nog beter gehalte Chinese verbruikers bereik.
“Prakties gesproke sal dit Suid-Afrikaanse sitrus help om ‘n teenwoordigheid in ‘n dinamiese en toenemend belangrike mark vir ons landbousektor uit te brei,” het hy gesê.
Sjina is een van Suid-Afrika se mees gewaardeerde landbou-handelsvennote. In 2025 is sowat 11,5 x 15kg-kartonne sitrus daarheen uitgevoer. Dit verteenwoordig sowat 6% van alle sitrus-uitvoere. Dit skep die moontlikheid dat die mark verder kan groei namate aanvraag groei.
Volgens Steenhuisen bou die jongste deurbraak voort op ‘n reeks belangrike mylpale, insluitend die onlangse opening van die Sjinese mark vir Suid-Afrikaanse steenvrugte soos appelkose, perskes, nektariens, pruime en pruimedante.
Hy meen hierdie verwikkelinge is nie net ‘n teken van ‘n groeiende handelsverhoudinge nie, maar dit skep ook puik geleenthede vir Suid-Afrikaanse boere en uitvoerders.
“Suid-Afrika plaas ‘n hoë premie op sy verhouding met Sjina, wat toenemend betekenisvolle geleenthede vir ons hele landbousektor skep. Hierdie ooreenkomste vloei voort uit vertroue, respek en volgehoue samewerking. Sjina maak deure oop vir ons produsente in ‘n tyd wat diversifikasie belangriker is as ooit.”
Hy sê Suid-Afrika ondersteun Sjina se Een-Sjina-beleid, wat die regering van Sjina as die enigste wetlike owerheid in die land verteenwoordig. Dit verskaf ‘n stabiele en vertroude basis vir samewerking tussen ons lande.”
Hy meen die ooreenkoms sal daartoe lei dat onderhandelings oor uitvoerprotokolle in die toekoms gladder sal verloop, dat fitosanitêre kwessies vinniger opgelos word, en dat Suid-Afrikaanse produkte nog meer geleenthede sal kry om tot die Sjinese mark toe te tree en te groei.
Hy sê dit sal ook beleggersvertroue versterk, handelsgroei ondersteun en logistieke en infrastruktuur vennootskappe ontsluit. Hierdie aspekte is kritiek vir die groei van die ekonomie, werkskepping en langtermyn voedselsekerheid vir Suid-Afrika.

Die suksesvolle wysiging aan die vereistes vir koue-behandeling van sitrus bestem vir uitvoer na China is pas goedgekeur. (Bron: Ernest Porzi, Unsplash.com)
Die sitrusbedryf is die hoeksteen van Suid-Afrika se landbousukses. In 2025 het Suider-Afrika sowat 204 miljoen x 15-kg kartonne sitrus uitgevoer, waarvan 193 miljoen kartonne uit Suid-Afrika afkomstig was. Inkomste uit uitvoere was US$2,47 miljard.
Steenhuisenhet benadruk dat die regering sal voortgaan om nou met die bedryfsrolspelers, soos die Sitruskwekersvereniging (SKV) saam te werk om handelsverhoudinge te versterk, fitosanitêre standaarde te onderhou en die bedryf oor die langtermyn te ondersteun..
“Dit is die tipe vooruitgang wat ons deur die hele landbousektor sal wil sien – sterk vennootskappe, groeiende markte en ware geleenthede wat terug gevoer word na die boere en plaaslike gemeenskappe.”
- Weersomstandighede soos droogte en vloede speel ‘n belangrike rol in die sitrusbedryf. (Bron: Geronimo Giqueaux, Unsplash.com)
- Lemoene kan tariefvry na die VSA uitgevoer word omdat die invoere nie werksgeleenthede daar in gedrang bring nie. (Bron: Jen Gunter, Unsplash.com)
Sitrusbedryf: Uitdagings
Suid-Afrika is die tweede grootste uitvoerder van sitrus naas Spanje. In 2025 het die land ‘n rekordtal van 203 miljoen 15 kg-kartonne uitgevoer, en vanjaar sal na raming 206 miljoen kartonne uitgevoer word. Die mikpunt is 260 miljoen kartonne teen 2032.
Die Europese Unie is tans Suid-Afrika se grootste sitrusuitvoermark. Gerrit van der Merwe, besturende direkteur van ALG Estates, ‘n groep sitrusplase by Citrusdal in die Wes-Kaap, meen die Suid-Afrikaanse regering moet sitruskwekers help om die Europese Unie se diskriminerende voorskrifte met betrekking tot swartvlek en valskodlingmot aan te spreek.
Gerrit, wat in 2024 as voorsitter van die raad van die Sitruskwekersvereniging (SKV) aangewys is, sê as hierdie kwessie nie aangespreek word nie kan dit daartoe lei dat Suid-Afrika se sitrustoegang tot die Europese mark sonder enige wetenskaplike gronde geweier word.
Volgens dr Boitshoko Ntshabele, uitvoerende hoof van die SKV, het Suid-Afrikaanse sitruskwekers se uitvoere na China ook ‘n hupstoot gekry met die onlangse aankondiging van ‘n raamwerk-handelsooreenkoms tussen die land en Suid-Afrika.
Die “vroeë-oes-ooreenkoms”, wat moontlik 100%-tariefvrye marktoegang vir Suid-Afrika verleen, kan marktoegang vir Suid-Afrikaanse sitruskwekers aansienlik uitbrei. “Daar heers nog onduidelikheid oor sekere aspekte en onderhandelings duur voort, maar verminderde tariewe op sitrus wat na China uitgevoer word sal beslis voordele vir ons kwekers inhou.”
Ntshabele sê handelsonderhandelinge tussen Suid-Afrika en die VSA is steeds aktief aan die gang en ‘n wedersyds voordelige handelsakkoord tussen die lande is van groot belang. Die tydelike verlenging van die AGOA-ooreenkoms met die VSA duur ten minste tot aan die einde van die jaar.
“Al is die 30% tariewe wat verlede jaar deur die Withuis ingestel is nie meer van toepassing nie aangesien dit vir 150 dae vanaf 24 Februarie tot 10% verminder is, is dit steeds van toepassing op mandaryne en ander tipes sitrus.”
Lemoene is vrygestel en kan tariefvry na die VSA uitgevoer word. Die VSA voer lemoene in wanneer hulle eie lemoene buite seisoen is en invoere nie werkgeleenthede of nywerhede daar beïnvloed nie.
Volgens Ntshabele sluit ander belowende markte wat ontwikkel kan word Bangladesj en Indië, asook Indonesië en Vietnam in.
Wat Suid-Afrika se hawens betref, is hy opgewonde oor die vennootskap tussen Transnet en ICTSI, ‘n internasionale hawe-operateur, wat Durban se Pier 2-vraghouerterminaalpunt by die Durbanse hawe sal bestuur. “Groter betrokkenheid van die privaat sektor is die enigste langtermyn antwoord op die logistieke tekortkominge in Suid-Afrika.”
Ntshabele verwag dat diesel- en kunsmispryse sal styg weens die oorlog in die Midde-Ooste wat meer druk op die sitrusbedryf sal plaas.
Volgens dr Wandile Shilobo, hoof-ekonoom van Agricultural Business Chamber of South Africa (Agbiz) en spesiale raadgewer oor landbou vir President Cyril Ramaphosa, is die grootste uitdagings wat die sitrusbedryf tans in die gesig staar die doeltreffendheid van plaaslike uitvoerhawens, verskepingskoste en die oorlog in die Midde-Ooste.
Volgens hom het die hawens verlede jaar redelik goed gewerk, wat ‘n suksesvolle uitvoerseisoen vir sitrus tot gevolg gehad het. Net soos Ntshabele, se hy onsekerheid bly hang oor die duur en volle omvang van die oorlog betreffende stygende brandstof- en kunsmiskoste.
Die weer bly ook ‘n faktor, sê hy. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aangedui dat die suidelike en oostelike kusgebiede van die land hoër as normale reënval tydens herfs en vroeë winter kan verwag. Die Wes-Kaap, waar ‘n groot deel van die land se sitrus verbou word, kan egter laer as die normale reënval verwag. Die tyd sal leer.
Hy meen Suid-Afrika se sitrusuitvoere kan met tussen 3% en 4% toeneem tot 210 en 215 miljoen 15kg-kartonne. Sulke volumes sal meer uitvoermarkte nodig hê. Voorts kan hoër sitrusvolumes uit Suid-Amerika ook strawwe kompetisie vir die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf voorspel.
Verwysingsbronne
Sihlobo, W. (2026) South Africa citrus exports face market and logistics pressure
Sihlobo, W. (2026) South Africa’s agriculture enters a critical month
https://wandile.substack.com/p/south-africas-agriculture-enters
Steenhuisen hails amendment to citrus export with China (2026) SAnews.gov.za
https://www.sanews.gov.za/south-africa/steenhuisen-hails-amendment-citrus-export-china

