Categories: NewsPublished On: 13th September 2016

Damvlakke op hulle laagste in jare, maar bly tog net uit die borrelbad

By 1 min read
233 words

water-besproeiing

Die interministeriële komitee oor droogte het hulle kommer uitgespreek oor die vlakke van damme wat op hulle laagste in jare is, maar glo nog steeds dat ‘n algemene noodtoestand nie nodig is nie.

Die drie betrokke ministers, Des van Rooyen van Koöperatiewe Samewerking,  Nomvula Mokonyane van Waterwese en die minister van Landbou, Senzeni Zokwana, het hulle hoop geplaas op huishoudelike waterbeperkings en langtermyn weervoorspellings wat praat van reën in November. Dieselfde voorspellings praat egter van ondergemiddelde reënval deur die seisoen.

Minister Mokonyane was verlede maand in die sop by die Openbare Beskermer omdat sy die persoon wat verantwoordelik was vir die volgende fase van die Lesotho Hoogland Waterprojek, dr Zodwa Dlamini, laat loop het. Die fase sal Suid-Afrika se vermoë om water op te berg aansienlik verbeter.

Sy meen Suid-Afrikaners moet nou almal saamwerk om water te bespaar deur uit hulle borrelbaddens te bly, water uit ‘n glas te gebruik as hulle tande borsel en hulle grimering met “wet wipes” te verwyder.

Minister Zokwana het boere gevra om eerder van drupbesproeiing gebruik te maak om water te bespaar. Hy sê ook die voedselrekening van arm huishoudings het met 30% gestyg, maar hy voel positief oor ‘n droogtebestande mielie wat volgens hom deur die LNR ontwikkel is.

Hy sê daar is ook R173 miljoen deur die Land Bank beskikbaar gestel om boere te help.

Die gemiddelde vlak van damme staan op 53%.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0