CTEG sprei hul landbouvlerke

Shantui (3)
Die bekende Shantui L36D-laaigraaf was by Val Boeredag te sien.
Oor baie jare heen is die Combined Truck and Equipment Group (CTEG) reeds ’n bekende en betroubare naam in die mynbou- en konstruksiebedryf met hul Shantui-grondverskuiwingsmasjiene en Powerstar-vragmotors. Die gevestigde handelsmerk het egter nou sy visier stewig op die landboubedryf gerig. Om eerstehands vir boere te wys wat hulle na die tafel bring, het die span onlangs die gewilde Val Boeredag bygewoon.
Shantui
CTEG is die amptelike verspreiders van Shantui-grondverskuiwingsmasjiene in Suid-Afrika. Hierdie betroubare, hoëprestasie-masjiene is spesifiek gebou om die strawwe vereistes van die plaaslike konstruksie-, mynbou-, grondverskuiwings- en landbou-omgewings te trotseer. Shantui voorsien duursame en koste-effektiewe masjiene wat wissel van laaigrawe en padskrapers tot rollers en nog baie meer.
Dylan Swart, verkoopsbestuurder by Shantui, vertel dat hulle ’n besonderse wye reeks masjinerie na die mark bring. Hy verduidelik dat Shantui reeds in 2012 in die Suid-Afrikaanse mark bekend gestel is, maar dat hulle in daardie stadium hoofsaaklik op enkelprodukreekse gefokus het. Met verloop van tyd, het CTEG egter ’n al hoe groter verskeidenheid produkte begin invoer om saam met die groeiende behoeftes van hul kliënte te ontwikkel. Vandag is Shantui ’n maatskappy met ’n diverse reeks wat aan byna enige behoefte in die swaarmasjienbedryf kan voorsien.
Die vraag na gehalte-landboumasjinerie het oor die afgelope paar jaar geweldig toegeneem. Dylan wys daarop dat masjiene soos hul L36-laaigrawe en kleiner stootskrapers veral gewild is vir daaglikse bedrywighede op voerkrale en in wingerde.
“Ons kry al hoe meer navrae van boere af, en dit is op die ou einde van die dag ook ons doelwit: om nie net op een industrie te fokus nie, maar om veelsydige produkte oor verskeie sektore heen te lewer,” sê Dylan.
Wanneer dit by die beskikbaarheid van onderdele kom, het Shantui-masjiene ’n reusevoordeel wat enjins betref. Hulle word aangedryf deur Weichai-enjins, en aangesien Shantui van hulle gebruik maak in al hul produkte, is die verkryging van onderdele vinnig en pynloos.
CTEG beskik ook oor toegewyde 24 uur-diensspanne wat gereed staan om in te spring as enige probleme opduik. Met hul eie werkswinkels wat oor baie personeel beskik en omvattende pakhuise verseker hulle dat die nodige komponente altyd byderhand is.
“Ek dink dit is wat ons ’n kortkop voor die res plaas; ons het nie buite-agente nodig om na ons kliënte om te sien nie, ons eie mense doen alles self,” meen Dylan.

Die Shantui-stalletjie by Val Boeredag.
Powerstar
Nog ’n trotse produkreeks wat met die bekende Chinese Weichai-enjins spog, is die Powerstar-vragmotors. Marc Mynhardt, takbestuurder by Powerstar Centurion, vertel dat hulle die grootste Powerstar-handelaar in Suid-Afrika is. Net soos met die grondverskuiwingsmasjiene, het hulle aanvanklik hoofsaaklik trokke aan die mynwese en konstruksiebedryf verskaf, maar meer onlangs suksesvol na die landbousektor uitgebrei.
Powerstar-vragmotors is beskikbaar in drie kernreekse. Die VX-reeks word gebruik vir strawwe konstruksie- en mynbouwerk, en sluit kantelwaens, watertenks en afvalkompakteerders in. Dan is daar die veelsydige FT-reeks vir mediumtoepassings soos dieseltenks, laaibakke en kleiner kantelwaens, en laastens die V3-langafstandvragmotors wat op maksimum veiligheid en gerief fokus.
Hulle kan vragmotors vanaf 14 ton en groter verskaf, en werk nou saam met kliënte om ’n vragmotor te bou wat presies by hul unieke behoeftes pas. Marc noem dat hulle selfs pasgemaakte beestralies en ander nodige toebehore op die trokke kan aanbring.
Die enjingroottes wissel tussen 280 hp tot en met 460hp, almal gerugsteun deur die beproefde Weichai-tegnologie. Powerstar-trokke is doelgemaak vir die uitdagende Afrika-toestande en funksioneer sonder ingewikkelde rekenaarbokse, wat beteken dat hulle baie makliker en meer ekonomies is om te onderhou of om in die veld reg te maak.
Daar is tans meer as 20 geakkrediteerde Powerstar-handelaars regoor die land. Marc vertel: “Kliënte kan met ’n oop gemoed na ons toe kom en ons sal hulle help om die regte trok te kies. Ons bou self die onderstelle in Pietermaritzburg. Daarna sê die boer net watter tipe bakkery of konfigurasie hy verlang, en ons bou hom presies so.”
Hulle bied ook uitstekende onderdele-ondersteuning en kan kliënte help met die reëling van finansiering deur al die groot banke.

Die Powerstar VX2628-vragmotor wat by Val Boeredag uitgestal is.
Weichai
Hierdie betroubare en ekonomiese voertuie sou natuurlik nie moontlik gewees het sonder die besondere Weichai-enjins nie – die kragbron agter alles.. CTEG is al jare lank die amptelike verspreiders van Weichai, ’n handelsmerk wat reeds diep spore in die Suid-Afrikaanse mark getrap het. Heinrich Venter, onderdelebestuurder van CTEG, vertel dat hulle nou ook ’n amptelike reeks Weichai-olies versprei.
“Ons is al vanaf 2006 met die Weichai-enjins doenig. Dit is ’n ongelooflik betroubare produk en een van die enjinvervaardigers wat die vinnigste wêreldwyd groei. Jy vind hulle in alles – van ons gewone voertuie tot ons groot grondverskuiwingsmasjiene, vragmotors en selfs waterpompe,” verduidelik Heinrich.
Vir die afgelope twee jaar voer hulle ook gespesialiseerde Weichai-olie na Suid-Afrika in. Heinrich vertel dat hierdie olie nie net meer koste-effektief as ander mededingende produkte op die mark is nie, die produk dra ook dieselfde hoë gehaltestempel as die enjins self.
“Die olie is ten volle versoenbaar met alle masjiene wat ’n 15W40 CI-4 -oliespesifikasie vereis. Die lubrikasiewaarde van die produk is uitstekend, veral onder uiterste koue en warm klimate. Daar is ook te alle tye oorgenoeg voorraad en onderdele by ons beskikbaar. Die Weichai-enjins is boonop goedkoop om te onderhou asook om te herstel, hulle handhaaf hul diensure getrou en sit op die ou einde van die dag werklike waarde terug in die boer se sak,” sê Heinrich.

Een van die indrukwekkende Weichai-enjins.
Indien jy belangstel in CTEG se Shantui-masjiene, kan jy Dylan skakel by 084-406-9960, of kontak Marc by 064-695-6249 vir jou volgende Powerstar-vragmotor. Vir enige navrae oor die Weichai-enjins of olie, skakel gerus vir Heinrich by 072-714-4841.

Besoekers by die Powerstar-stalletjie by Val Boeredag.
- Dylan Swart, verkoopsbestuurder by Shantui.
- Marc Mynhardt, takbestuurder by Powerstar Centurion.
- Heinrich Venter, onderdelebestuurder van CTEG.


