COVID-19: Begrip, bedagsaamheid en samewerking binne Agri-waardekettings is uiters noodsaaklik

summer-2391348_1920
Foto: Pixabay
Agri SA vra vir begrip en bedagsaamheid binne die landbouwaardekettings gedurende die COVID-19 inperkingstydperk. Die landbousektor het ‘n enorme verantwoordelikheid om voedselsekerheid tydens die inperkingstydperk te verseker, maar ook in die moeilike tye wat voorlê.
“In ons pogings in hierdie verband, moet ons die interafhanklikheid van segmente van die landbouwaardeketting erken, asook die wedersydse impak wat elkeen op mekaar het. Met die oog op ons ekonomiese volhoubaarheid as ‘n sektor, moet ons ook kennis neem van produsente as prysnemers wat tans ‘n geweldige toename in insetkoste moet absorbeer,” sê Jolanda Andrag, die hoof van Agri SA se Bedryfskamer.
Agri SA neem kennis van die Melkprodusente-organisasie (MPO) se persverklaring oor prysverminderings in dele van die suiwelbedryf.
“Te midde van die huidige onsekerheid waar pryse aansienlik verminder word aan die aanbodkant van die mark sonder enige merkbare verandering aan die vraagkant, skep dit onnodige frustrasie en bykomende ekonomiese spanning vir produsente. Dit bly uiters noodsaaklik om boere se besighede aan die gang te hou ten einde die lewensvatbaarheid van die hele voedselketting te verseker,” sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur.
Agri SA, tesame met sy lede, sal voortgaan om na mededingendheid van die landbouwaardeketting in geheel te streef.
Bron: MPO