Citrusdal kry R15 miljoen hulp

Photo 1
Van links, Jan Smit (Wes-Kaapse Departement van Landbou, Stefan Theron (Citrusdal Watergebruikersvereniging), dr Ruben Richards, uitvoerende burgemeester van Citrusdal, Boffie Strydom, uitvoerende burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit, dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse Departement van Landbou, en dr Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou. (Bron: Verskaf)
Citrusdal, die hart van die Wes-Kaapse sitrusbedryf, het pas sowat R15 miljoen van die Wes-Kaapse Departement van Landbou ontvang om te probeer keer dat die dorp en omgewing weer oorstroom.
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaap Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme het Saterdag 17 Augustus R14,98 miljoen aan die Citrusdal Watergebruikersvereniging geskenk.
Die geld gaan aangewend word om te probeer voorkom dat ernstige vloedskade weens swaar reën die vloedgeteisterde dorp, landbou- en landelike gemeenskap weer van die buitewêreld afsny.
Oorstromings na swaar reëns tussen 6 en 10 Julie vanjaar het opnuut daartoe gelei dat die R303 – die hoof toegangsroete na die N7, Kaapstad en die hawe – vir die tweede keer binne twaalf maande gesluit is. In Junie verlede jaar kon die dorp ook nie bereik word nie, ook tydens die sitrus-oesseisoen, die kern van die dorp se bestaan en die lewensbloed van duisende mense wat van die bedryf afhanklik is.
As gevolg van die oorstromings het die landbousektor se infrastruktuur aansienlike herstelwerk nodig; die belangrikste is egter die verwydering van opdrifsels en slik uit sowat 60 km van hoof loop van die Olifantsrivier en belangrike sytakke.
Die R14,89 miljoen skenking is aan Stefan Theron van die Citrusdal Watergebruikersvereniging oorhandig. “Ons moet seker maak dat die landbousektor en die gemeenskappe wat van die bedryf afhanklik is, watersekerheid het,” het dr Meyer gesê.
Dr Ruben Richards, uitvoerende burgemeester van Citrusdal, en Boffie Strydom, uitvoerende burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit, wat dr Meyer vergesel het, het dr Meyer bedank vir die skenking.
Dr Mogale Sebopetsa, Wes-Kaapse regeringshoof van landbou, het beklemtoon dat vennootskap en samewerking met sitrusboer, sakelui, munisipaliteite en watergebruikersverenigings noodsaaklik is in die hantering van al meer ekstreme weerpatrone wat met klimaatsverandering gepaardgaan.
“Ons fokus is ook om om te sien na die omgewing en die plaaslike gemeenskappe wat deur die oorstromings geraak word. Die befondsing beklemtoon die Wes-Kaapse regering se bereidwilligheid om in te gryp.”
Stefan het die minister bedank vir die skenking. Volgens hom het die streek die afgelope paar maande ‘n moeilike tyd beleef. ”Dit is belangrik om kennis te neem op die ontwrigtende uitwerking van die oorstromings en die skade aan die padinfrastruktuur op die lewens van gemeenskappe en hulle toegang tot kos en kontant,” het hy gesê.
“Die donasie van R14, 98 miljoen sal ons in staat stel om dreineringstelsels langs die rivier oop te maak, slik en drywende vloedrommel wat die rivier kan opdam of die loop kan verlê te verwyder en toegang te herstel tot die gebiede langs die rivier waar paaie, landerye, boorde en infrastruktuur weggespoel het.”
Volgens dr Meyer is ‘n permanente oplossing vir die padinfrastruktuur by die hoof toegangspunt tot Citrusdal nodig. “Dit is noodsaaklik vir ons as die landbousektor om aan te pas by klimaatsverandering en ons landbou-infrastruktuur so te herstel dat dit die toenemend onvoorspelbare weer kan hanteer.”
Gerrit van der Merwe, voorsitter van die Suider-Afrikaans Sitruskwekersvereniging en ‘n boer in die omgewing, sê die nagenoeg R15 miljoen wat deur die Citrusdal Watergebruikersvereniging ontvang is, is nie net bestem vir herstel aan infrastruktuur nie. “Die watergebruikersvereniging het ook die geld gekry vir die onkoste wat hulle self aangegaan het om die situasie te verbeter.”
Die geld sal aangewend word om die rivierloop om die dorp oop- en skoon te maak en teen oorstromings te beveilig. Die werk vorm deel van ‘n groter projek wat verlede jaar geïdentifiseer is en wat R50 miljoen gaan kos.
“Die hele projek is te groot vir die boere – ons kan dit nie alleen hanteer nie. Ons is baie dankbaar vir die Wes-Kaapse Landboudepartement vir die R15 miljoen, maar die totale koste kan nie net op Landbou neerkom nie. Ons het ook die hulp van Waterwese en ander entiteite nodig,” sê Gerrit.