Chanel Visser: Afrika se top mariene-veldwagter vereer
Chanel Visser van CapeNature in Plettenbergbaai is onlangs internasionaal deur die Veldwagtersvereniging van Afrika vereer as die beste mariene-veldwagter in Afrika.
Dit is die eerste keer dat die kategorie bekendgestel is en Chanel is die enigste Suid-Afrikaner wat die toekenning van die beskermheer, Prins Albert II van Monaco, ontvang het.
Chanel, wat in Randburg in Gauteng grootgeword en skoolgegaan het, is van jongs af aan die natuur blootgestel. “Die werk wat ek vandag doen is grootliks aan my ouers te dank,” vertel sy. “Ons was altyd in die buitelug, besig met sport, tuinmaak, sterrekyk, voëlkyk, respek hê vir die natuur.”
Skoolvakansies het sy of in die veld op ‘n wildplaas in Limpopo of langs die see by Plettenbergbaai deurgebring. “Ek het ure lank alleen in die veld met my naslaanboeke deurgebring en so meer geleer oor die wildlewe rondom my – my hartsbegeerte was om ‘n wildsveearts te word.”
Op skool het sy nie juis uitgeblink in wiskunde en wetenskap nie en sy het besef om veearts te wees is nie vir haar beskore nie. Maar sy het altyd in toerisme en natuurbewaring belang gestel en wou graag met wilde diere werk.
Uiteindelik het sy besluit om ‘n nasionale diploma in Natuurbewaring by die Nelson Madela Universiteit se Saasveldkampus by George te doen. Hoewel sy in die koshuis op Saasveld was, het haar gesin haar ondersteun en van hulle het saam met haar na Plettenbergbaai verhuis.
Vakansiewerk
Gedurende skoolvakansies het sy as vrywilliger by die Tenikwa Wildlife Awareness Centre in Plettenbergbaai eerstehands kennis en ervaring opgedoem met die rehabilitasie van land- en seediere, en dit is waar sy versot geraak het op die Afrika-pikkewyn.
In haar derde en finale jaar in 2013 het sy haar praktiese jaar in Plettenbergbaai gedoen en haar hart op marienebewaring verloor. “Ek het as ‘n marienegids op walviskykbote gedoen, my bestuurderslisensie vir motors en bote gekry, en ervaring opgedoen met redding van seediere.”
Terselfdertyd het ook as vrywilliger koordineringswerk vir die ORCA-stigting, wat seelewe beskerm, navors en opvoedkundige programme aanbied, gedoen en het opleiding ontvang as noodoperateur vir wildlewe in nood.
In haar tweede jaar by ORCA is sy tot programbestuurder bevorder. Sy het voortgegaan om nou saam te werk met ander plaaslike bewaringsinstansies. “My liefde vir pikkewyne en ander seevoëls het ‘n hoogtepunt bereik toe ek as vrywilliger tydens ‘n skeeps-olielek by SANCCOB kon werk. Ek het in seevoël-rehabilitasie begin spesialiseer en voltyds vir SANCCOB begin werk – eers in Kaapstad en later in die Oos-Kaap.”
Haar werk as vrywilliger in die kusdorpe tussen Knysna en St Francisbaai het sy nog waardevolle kennis en ervaring van seelewe opgedoen.
In jaar het sy seevoëlnavorsing en bewaring in die Seychelles gedoen voordat sy teruggekeer het na Knysna waar sy as ‘n gids vir ‘n walviskykboot opgetree Terwyl sy vir ‘n nie-regeringsorganisasie in Plettenbergbaai gewerk het, het sy ook leer seil en ondervinding opgedoen in die tegniese aspekte van ‘n mariene-toerismeprojek wat die uitwerking van besigtigingsvaartuie naby walvisse en dolfyne moniteer het.
Op grond van haar agtergrond en ondervinding en die vertrouensverhouding wat sy in die bedryf opgebou het, het sy in jaar aansoek gedoen vir die pos as mariene veldwagter by CapeNature in Plettenbergbaai, al was sy in daardie stadium swanger met haar eerste kind.
‘n Jaar nadat sy aansoek gedoen het, is sy ‘n onderhoud toegestaan en het op die kortlys beland, en uiteindelik is sy die senior mariene-veldwagter by die Robberg Natuurreservaat en Marinebewaringsgebied aangestel – ‘n droom wat waar geword het want toe kon sy bewaring en bestuur toepas in haar gunsteling plek in die wêreld.
Lang lys take
Haar werk behels ekologiese monitering in projekte soos biodiversiteitopnames, terloopse inligting insameling, monitering van skaars plante en ‘n proteastand, die koördinering van opnames van Kaapse robbe en -kormorante, opnames van nasionale lynvisvangste, monitering van strandmeer waterkwaliteit, biologiese beheer, en monitering van reënval en temperatuur. Haar navorsing op voëls sluit watervoëltellings, die monitering van broeisukses en die ring van voëls in.
Voorts ondersteun sy ook die bestuurders van die Robberg mariene-bewaringsgebied, wat ook die opstel van standaard operasionele prosedure insluit, speel ‘n leiersrol as noodoperateur in die redding, stabilisering en rehabilitasie van seevoëls en ander seelewe, tree op as koördineer van die logistieke vir die Plettenbergbaai netwerk wat gestrande seediere help, en bou sterk bande met plaaslike ondernemings, nie-regeringsorganisasies en inwoners om hulle ondersteuning te verseker.
Uitdagings
Daar is talle uitdagings. “Wanneer jy wetstoepassing doen of tot die redding van mens of dier kom, stel mens jouself bloot aan gevaar. Jy moet aanpasbaar wees, want al beplan jy jou dag hoe sorgvuldig, kan daar te eniger tyd ‘n krisis ontstaan wat dringend aandag verg.
“Dit is fisieke en geestelik vermoeiende werk, wat jy word gedurig gekonfronteer met situasies waarin jy jou eie emosies moet onderdruk. En dan is daar ook die eindelose politiekery, konflik tussen mens en dier, beperkte hulpbronne en kapasiteit.
“Uitbranding is nog ‘n uitdaging. Dit gebeur nie net omdat jy lang ure werk nie, maar ook omdat jy teen jou eie waardestelsel in moet optree, jouself te veel met jou werk vereenselwig en jou eiewaarde aan jou suksesse of gebrek daaraan meet.”
Mentors
Haar ouers wat by haar ‘n liefde vir die natuur gekweek het, is boaan die lys van haar mentors. Die lys sluit ook verskeie bewaringspesialiste en wetenskaplikes in.
Mark Brown sonder sy uit as ‘n lewenslange mentor wat vir haar waardering vir voëls geleer het en leiding in beroepskeuses gegee het. “Hy lei deur sy voorbeeld op alle bewaringsterreine, en hy is ‘n dierbare vriend.”
Ander mentors is Greg Hofmeyer, wat vir haar die waarde geleer het van navorsing en hulp aan gestrande seediere, Gwenith Penry het haar om as vrou sterk te staan in ‘n bedryf wat deur mans oorheers word, en by haar ‘n passie vir walvisse gekweek.
Tracy Meintjies het haar aan werk as ‘n noodoperateur vir seediere in nood bekendgestel en haar aangemoedig om haar lisensies te kry. “Dit is aan haar te danke dat ek vandag ‘n ervare skipper is.”
En laaste, maar nie die minste nie, Henk Nieuwoudt, haar CapeNature reservaatbestuurder, het haar gemotiveer om vir die pos aansoek te doen, en het nog altyd y keuses en optrede ondersteun. “Ek het die pos aanvaar omdat hy geglo het ek kan dit doen en dat ek ‘n positiewe bydrae kan lewer tot CapeNature se spanne by Robberg- en Keurboomsrivier.”
Hoogtepunte
Ander groot oomblikke was haar deelname om situasies te help beredder wanneer bedreigde seevoëls deur olierampe bedreig is of wanneer die ouers die kuikens in die broeiseisoen verlaat.
Dit was ook vir haar ‘n hoogtepunt om ‘n jong boggelrugwalvis te help losknooop, en om deel t wees van suksesvolle monitering van seevoëls se broeisukses op ‘n private bewaringseiland in die Seychelle.
Dit was ook vir haar ‘n hoogtepunt om ‘n jong Noordelike Rockhopper-pikkewyn wat buite sy normale gebied in 2023 by Robberg aan land gekom het om te verveer te versorg. Die pikkewyn het op die veilige plek gesond geword en na 26 dae teruggekeer see toe. “Die geval beklemtoon hoe belangrik dit is om nie te veel met hulle te lol nie en hulle eerder op die plek te behandel. By ‘n veeartspraktyk kan hulle aan nuwe siektes blootgestel word.
Nog ‘n hoogtepunt was toe ‘n aantal bedreigde, endemiese Knysna-seeperdjies in 2023 uitgespoel het toe die Keurbooms- en Bitouriviere in Plettenbergbaai in vloed afgekom het. “Ek was in beheer van die reddingspoging en het saam met lede van die gemeenskap 1079 seeperdjies gered, waarvan 737 oorleef het en in die strandmeer vrygelaat is. Die 342 seeperdjies wat nie oorleef het nie, is vir belangrike navorsing gebruik.
Toekenning
Die toekenning is vir haar die grootste hoogtepunt van haar loopbaan. “Met die toekenning kry die wenners erkenning vir die werk wat hulle doen om die boodskap uit te dra,” sê sy.
“Die toekenning beteken vir my baie. Ek is lief vir wat ek doen en dit is nie net ‘n beroep nie, maar ‘n leefstyl. Bewaring is dikwels ‘n ondankbare taak en erkenning is skaars, daarom is hierdie toekenning vir my ongelooflik.
“Dit motiveer my om te doen wat ek kan vir die natuur, om te verseker dat mense toegang het tot die natuur, dat ons op ‘n positiewe uitkoms in die toekoms kan hoop.”
Sy weet nie wat die toekoms inhou nie, maar hoop om uiteindelik haar eie onderneming sonder winsbejag te hê sodat sy kan fokus op al die aspekte waaroor sy passievol is, naamlik die redding en rehabilitasie van seediere in nood.