Buckridge Bonsmaras se vyfde produksieveiling verras! Blink beeste, beter bod

Lot 6, BF 21-231 (seun van SYF 17-256) is vir R200 000 verkoop aan Paul Roos van Bonro Bonsmaras van Vrede.
Groot sukses is behaal met Buckridge Bonsmara se vyfde produksieveiling in Februarie by Tlakgameng Veilingskrale. Met uitstaande genetika, topgehalte bulle en vroulike diere, en ‘n sterk kopersbelangstelling van kopers van so ver soos Aliwal-Noord, het die veiling alle verwagtinge oortref. Telers en kommersiële boere het hulle vertroue in Buckridge se beeste bevestig met mededingende bodpryse, wat weer bewys dat hierdie stoet ‘n toonaangewende naam in die Bonsmara-bedryf is.

‘n Trotse Bonsmarastoet-teler, Frans Seevinck na afloop van ‘n suksesvolle veiling.
Frans Seevinck, eienaar van Buckridge Bonsmaras, deel sy dankbaarheid: “Ons is baie dankbaar oor ‘n uitstekende veiling. Ons besef dat die mark tans uitdagings in die gesig staar, en juis daarom is ons werklik geseënd met die goeie pryse en die sterk opkoms by die veiling.”
Gewaarborg deur genetika
Frans het die impak van die bul SYF 17-256, afkomstig uit Syferfontein Bonsmaras se kudde, uitgelig. Hierdie beproefde kuddevaar het sewe uitstaande seuns op die veiling gehad, waarvan elkeen ‘n uitstekende prys behaal het.
Die duurste bul, Lot 6, BF 21-231, ook ‘n seun van SYF 17-256, is verkoop aan Paul Roos van Bonro Bonsmaras van Vrede vir R200 000.00 deur SwiftVee se aanlynplatform. Kyk die video hier.
Die gemiddelde prys oor 21 bulle was R83 947,37 wat die hoë gehalte van Buckridge se genetika weerspieël.
Die gemiddelde van die dag was as volg:

Belegging in gehalte diere
Volgens Frans bevestig die veiling dat telers steeds bereid is om in gehalte diere te belê. “Dit gee ons moed en dryfkrag vir die toekoms, want dit wys dat ons op die regte pad is. ‘n Dag soos hierdie motiveer ons om nog harder te werk en voort te bou aan ons droom, missie en visie.”
Nie net die bulle het goeie pryse behaal nie, maar die vroulike diere is ook teen mededingende pryse verkoop. “Ons het van ons beste vroulike diere op die veiling aangebied, en die pryse wat behaal is, het hulle uitsonderlike gehalte bevestig,” sê Frans. Hy is ook dankbaar dat die gasverkopers se diere goed verkoop het.
Vincent Tities, ‘n kommersiële Bonsmara-boer uit die Molopo-distrik, meen dat die gehalte van die diere op die veiling uitmuntend was – van die vroulike diere tot die bulle. Hy beklemtoon veral dat die bulle vanjaar ‘n uitsonderlike aanbieding was,

Boere besigtig en bespreek die diere voor die veiling.
’n Goeie begin vir die seisoen
Met die goeie reën en ‘n suksesvolle veiling agter die rug, sien Frans met optimisme na die seisoen en die toekoms van die veebedryf uit.
Hy spreek sy dank uit aan almal wat die veiling bygewoon en deel van die dag se sukses was. “Die groot opkoms het ons aangenaam verras, en ons waardeer elke persoon wat die moeite gedoen het om hier te wees.

‘n Volgepakte veilingsring!
“Ons begin nou al beplan en voorberei aan ons 2026-produksieveiling wat beloof om nog beter en groter te wees. Ek nooi alle opkomende en gevestigde boere uit om in die toekoms ons jaarlikse produksieveiling by te woon. Dit is altyd ‘n dag gevul met ‘n lekker atmosfeer en kundiges uit die bedryf wat waardevolle insigte deel,” sluit hy af.
Vir enige navrae kontak gerus vir Frans by (+27)82-348-7533 of besoek Buckridge Bonsmaras se Facebookblad.
