Categories: Vee en Wild, VeilingsPublished On: 19th November 2025

Buckridge Bonsmaras en SYF Molopo: Gebou op sterk genetika en volhoubaarheid

By 4 min read
762 words

Buckridge Bonsmara-NLS-Nov2025 (1)

Buckridge Bonsmaras het oor die jare heen ’n vaste reputasie opgebou as ’n kudde waar doelgerigte seleksie en praktiese boerderyhandelinge hand aan hand loop. Gevestig in die uitdagende en droë Molopo-streek, boer Buckridge in omstandighede wat nie net uithouvermoë vereis nie, maar ook topgenetika wat werklik kan presteer wanneer die omgewing dit uiters moeilik maak.

Onder die leiding van eienaar Frans Seevinck word elke teelbesluit gemaak met ’n langtermynvisie: om Bonsmara-diere te teel wat funksioneel doeltreffend, vrugbaar en gehard is, met sterk aanpasbaarheid vir Suid-Afrikaanse boerdery-omgewings.

Frans se benadering is eenvoudig maar treffend – teel net met die beste, verbeter elke generasie, en lewer diere aan die mark wat boere werklik help om waarde op hulle plaas te ontsluit.

Boer van Bonsmaras in die ‘Texas van Afrika’

Bonsmara boerdery in die Molopo, waar hierdie streek bekend staan as die ‘Texas van Afrika’, plaas unieke eise op enige beesras. Dit is ’n streek waar hitte, uitgerekte droogtes en beperkte reënval deel van die uitdagings is en presies die soort omgewingsdruk waarvoor die Bonsmara-ras oorspronklik ontwikkel is.

Prof. Jan Bonsma se teelfilosofie, waarin natuurlike aanpasbaarheid, gehardheid en oorlewingsvermoë onder Afrika-omstandighede eerste gestel is, leef vandag nog duidelik voort in kuddes soos dié van Buckridge. Die Bonsmara se vermoë om te presteer in uiteenlopende omgewings en steeds deurlopend goeie resultate te lewer, maak dit die geskikte ras vir boere in die Molopo se strawwe klimaat. Hier wys die ras werklik sy staal: diere wat kan aanhou groei, reproduseer en presteer – selfs wanneer die natuur nie saamwerk nie.

SYF Molopo en Buckridge se verhouding

In 2020 het Frans en Nico Pieterse van Syferfontein Bonsmaras hande gevat om ’n gesamentlike stoet te vorm naamlik SYF Molopo. Die kudde, wat hoofsaaklik op sterk Syferfontein-genetika gebou is, word in die uitdagende Molopo-omgewing bestuur waar Frans en Nico saam verantwoordelik is vir die kuddebestuur, paringsbesluite en seleksie. Gedurende die eerste vyf jaar het die fokus veral geval op die oorplasings van top embrios op Buckridge se kommersiële koeie.

Verlede jaar is hierdie fondament verder versterk met die byvoeging van uitgesoekte SYF-koeie en genetika, ’n waardevolle inspuiting wat die rigting vir die toekoms van die stoet duidelik help vorm. Hierdie vennootskap is eenvoudig maar baie kragtig: Nico bring die genetika van Syferfontein se kudde, Frans voorsien die grond en bestuur, en saam bou hulle aan ’n kudde wat jaarliks net sterker word.

Op Buckridge se komende produksieveiling in Februarie 2026 is daar ook 8 SYF Molopo-bulle op aanbod. Frans is baie opgewonde oor hierdie bulle.

Voornemende kopers

Vir voornemende kopers is dit belangrik om te weet dat Buckridge en SYF Molopo se teelfilosofie diep gewortel is in die behoeftes van die kommersiële boer.

Frans sê: “Sowat 90% van ons koperbasis bestaan uit kommersiële boere in die streek, en oor die jare is ’n vaste vertrouensverhouding opgebou deur konsekwente gehalte en kliëntediens. Die terugvoer wat ons van kopers ontvang oor beide ons bulle en vroulike diere, is deurgaans uiters positief, met talle boere wat jaar na jaar terugkeer vir nuwe genetika.”

Veral die aanvraag na Buckridge se vroulike diere is ’n bewys dat Buckridge se genetika werklik waarde toevoeg binne kommersiële boerderye, waar vrugbaarheid, gehardheid en aanpasbaarheid noodsaaklik is. Die span glo vas dat hulle op die regte pad is en bou doelgerig voort op hierdie fondament. Hoewel die hoofdoel is om kommersiële telers se behoeftes te dien, is dit altyd ’n bonus wanneer stoettelers ook die waarde raaksien en hulle veiling ondersteun.

Ondersteuning aan opkomende telers

Frans en die span by Buckridge sien dit as ’n prioriteit om opkomende telers in die streek te ondersteun. Hulle sê dat ’n toenemende aantal opkomende boere in die Vryburg-distrik en die ou Bophuthatswana-gebied met Bonsmaras begin boer, aangespoor deur die ras se goeie reputasie en aanpasbaarheid. Hierdie boere is dikwels gefokus op gehalte en vul hulle kuddes gereeld aan met diere van Buckridge, veral vroulike diere wat die basis van hul kuddes vorm.

Frans is toegewyd daaraan om hierdie opkomende telers by te staan, te adviseer oor die korrekte genetika en gehaltediere, en sodoende te help om hulle kuddes deurlopend en winsgewend uit te bou. Hierdie betrokkenheid beklemtoon nie net die span se visie nie, maar dra ook by tot die volhoubare groei van Bonsmara-boerdery in die streek.

Komende produksieveiling

Buckridge maak gereed vir hulle sesde produksieveiling wat 24 Februarie 2026 om 11:00 plaasvind by Tlakgaming se veilingskrale en nooi alle Bonsmara-telers uit na die geleentheid

Op aanbod:

  • 25 SP Bulle
  • 20 SP Vroulike diere
  • 200 Kommersiële diere (in alle produksiestadia’s)

Vir enige navrae oor die veiling, kontak Frans Seevinck by 082 348 7533 of Ian Brown by 082 789 3634.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0