Bosluise al meer weerstandig teen dipmiddels

bosluis 1
Bosluise wat op beeste se bloed teer is besig om al meer weerstandig te raak teen dipmiddels, wat dit al moeiliker maak om die parasiete te beheer.
“As bosluise nie beheer word nie, sal die verspreiding van weerstandigheid daartoe lei dat vleis- en melkproduksie afneem en boere se inkomste in gedrang kom,” sê Luther van der Mescht, senior lektor by die Dierkunde en Entomologie Departement van die Universiteit van die Vrystaat.
Bosluise dra patogene oor wat dodelike siektes soos onder meer anaplasmose, babesiose (rooiwater) en theileriose kan veroorsaak.
Suid-Afrika se unieke samestelling van kommersiële boere en kleinboere met minder hulpbronne besit tans altesaam 12,2 miljoen beeste. Onder gunstige warm en klam toestande teel die bosluise vinniger aan, wat hulle gouer weerstandig maak. As gevolg hiervan is Suid-Afrika meer kwesbaar vir siektes wat deur bosluise oorgedra word as ontwikkelde lande.
Volgens Virbac, vervaardiger van dieregesondheidmiddels, is 85 verskillende spesies Ixodidae (skildbosluise) en 21 Agasidae (sagte bosluise) in Suid-Afrika geïdentifiseer. Blou-, rooipoot-, bontpoot-, bruin-oor-, karooverlammings- en bontbosluise is van ekonomiese belang vir veeboere.
Bosluise het een tot drie gashere en hulle lewensiklusse verskil, maar dit kom neer op eier, larwe, nimf en volwassene. Afhangend van die spesie, kan die verskillende stadiums op die veld vir tot so lank as ses tot agt maande sonder ’n gasheer oorleef.
Oorsake van weerstandigheid
Luther het bevind dat ‘n groot aantal bosluisbevolkings weerstandigheid teen ten minste twee van die drie chemiese bosluiswerende middels wat in Suid-Afrika gebruik word, ontwikkel het. Dit kan toegeskryf word aan gebrekkige plaasbestuur soos onder- en oordosering, of dosering wat te dikwels gedoen word.
Onderdosering maak die bosluise wat oorleef meer weerstandig, oordosering of te gereelde dosering maak die meeste bosluise dood, maar die wat oorleef raak super-weerstandig en dra hulle gene oor aan die volgende geslag.
Die manlike bosluise paar met die vroulike bosluise op ‘n bees. Die vroulike bosluis val af, lê duisende eiers en vrek. Binne drie tot ses weke broei ‘n nuwe generasie larwes uit.
Bosluise wat ten volle teen dipmiddels weerstandig is kan binne twee jaar nadat ‘n nuwe middel op die mark gekom het ontwikkel. “Die probleem is dat dit agt tot tien jaar neem en baie duur is om ‘n nuwe middel te ontwikkel,” sê Luther.
Beeste in kommunale boerderystelsels wat vrylik rondbeweeg dra die weerstandige bosluise oor na ander bosluisbevolkings waarmee hulle paar. Die Asiatiese bloubosluis teel vinniger aan as byvoorbeeld die endemiese bruinoorbosluis.
Van die inheemse beesrasse soos die Nguni, Ankole en Bonsmara in Suid-Afrika is van nature minder vatbaar vir bosluis-oordraagbare siektes en hulle kan groter bosluisladings hanteer.
Ander faktore wat bydra tot weerstandigheid
Verskeie eksterne faktore, soos klimaatsverandering en die onbeheerde beweging van vee en wild, dra ook by tot die verspreiding van weerstandigheid. Die bosluise kry nuwe en meer gasheerdiere wat hulle help om beter te oorleef sodat hulle suksesvol in nuwe plekke gevestig raak.
Beheerprogram
Volgens Virbac is daar ‘n aantal produkte met verskillende handelsname beskikbaar in die vorm van chemiese opgietmiddel, ’n spuit- of dompeldip, en ’n inspuitbare middel.
Die geskikte produk en toedieningsmetode hang af van die tipe bosluise en die aantal diere wat gedip moet word.
Opgietmiddel is duurder, maar maklik om om toe te dien. Dit is kostedoeltreffend as diere net drie of vier keer per jaar of in die winter behandel word.
Spuitdip is baie doeltreffend as die bosluislading baie hoog is. Met ’n spuitdip kan die aktiewe bestanddele gereeld afgewissel word om weerstandigheid te voorkom, veral waar diere baie gereeld gedip word. Dit is belangrik dat die diere na die dip deurnat is.
Dompeldip is die doeltreffendste en mees koste-effektiewe metode wanneer groot troppe gereeld gedip moet word en die dip behoorlik bestuur word.
Inspuitbare dip en groeireguleerders moet saam met kontakdipmiddels gebruik word in gebiede waar die bosluislading baie hoog is. Dit is nuttig omdat die aktiewe bestanddele afgewissel kan word.
Voorsorgmaatreëls
Indien dipmiddels korrek toegedien word, kan die beeste weerstand teen bosluise opbou. Hou die volgende in gedagte.
- Wanneer vee na ‘n nuwe plaas geskuif word, moet hulle in kwarantyn gehou word om te voorkom dat weerstandige bosluise na die bestaande kudde oorgedra word.
- Behandeling teen bosluise moet tot die minimum beperk word sodat die bosluise nie soveel geleenthede het om weerstandigheid op te bou nie.
- Staatsveeartsenykundige dienste moet die probleem van weerstandigheid onder veral kleinboere se aandag bring en help om die bosluise se weerstandigheid te meet.
- Verskillende tipes middels moet gebruik om die bosluise dood te maak om te voorkom dat die bosluise weerstandigheid teen ‘n enkele middel opbou.
Bronverwysings
Doeltreffende Bosluisbeheer – “The basics” Virbac https://za.virbac.com/home/every-health-care/doeltreffende-bosluisbeheer-the-basics
Léger, E., Vourc’h, G., Vial, L., Chevillon, C., McCoy, K.D. (2013) Changing distributions of ticks: causes and consequences. National Library of Medicine DOI: 10.1007/s10493-012-9615-0
https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/23015121/
Makwarela, T.G., Nyangiwe, N., Masebe, T., Mbizeni, S., Nesengani, L.T., Djikeng, A., Mapholi, N.O. (2023) Tick Diversity and Distribution of Hard (Ixodidae) Cattle Ticks in South Africa. MDPI https://doi.org/10.3390/microbiolres14010004
Nyangiwe, N., Horak, I.G., Van der Mescht, L., Matthee, S. (2017) Range expansion of the economically important Asiatic blue tick, Rhipicephalus microplus, in South Africa. National Library of Medicine. doi: 10.4102/jsava.v88i0.1482
https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC6138174/
Van der Mescht, L. (2024) Ticks in South Africa are becoming resistant to pesticides – and may become uncontrollable. The Conversation

