Bokhaarpryse styg verder
Bokhaarpryse het verder gestyg op die tweede veiling van die 2018 somerverkoopseisoen. Die aanbieding het bestaan uit goeie gehalte sybokhaarskeersels waarvan 99,7% van die aanbieding verkoop is.
Kopers het sterk meegeding vir die goeie gehalte bokhaar wat aangebied was ongeag die sterker Rand. Die Rand het met 1,4% teenoor die Amerikaanse Dollar versterk in vergeleke met die vorige veiling en het teen R11,72 verhandel.
Die gemiddelde markaanwyser het 2,1% duurder gesluit op R252,25/kg in vergeleke met die vorige veiling. Dit is 36,6% duurder as die ooreenstemmende veiling van die vorige seisoen. Gemiddelde pryse van kleinbokhaar het 3,9% hoër gesluit teen R338,54/kg terwyl jongbokhaar 2,6% hoër verhandel het teen R288,99/kg. Fyn grootbokhaar was 4,7% duurder op R266,10/kg en sterk grootbokhaar het 1,8% duurder verhandel teen R249,75/kg.
Die derde veiling van die 2018 somer verkoopseisoen sal op 20 Maart 2018 plaasvind.
Bron: BKB