Boervrou toor met spekboom in die kombuis
Bhejane Wildreservaat is tussen Willowmore en Steytlerville in die Oos-Kaap geleë.
Dit is hier waar Philip en Adriana Theunissen in die ongerepte wildernis hulle self tuis gemaak het en ‘n bestaan uit die landskap kerf, hetsy deur die wondere van die natuur vir vreemdelinge uit die buiteland ontsluit, of deur die visier van ‘n jaggeweer wat korrel trek op die grys blad van ‘n majestueuse koedoebul in die ruigtes.
Terwyl Philip plaaslike en buitelandse jagters op soek na ‘n biltongbok of ‘n jagtrofee in die 50 000 hektaar konsessiegebied neem, leef Adriana haar liefde vir kosmaak kreatief uit, veral met die ikoniese spekboom (Portulacaria afra) , wat so goed in die dor gebied aard, as bestanddeel.
Spekboomwonder
Philip se pa Hendrik het die plaas Toverfontein van 2 500 ha groot dertig jaar gelede in die Grootriviervallei tussen Willowmore en Steytlerville gekoop. Hy het toe al die visie gehad om wild in die gebied te vestig.
Adriana, ‘n nooi Burger, het in die Robertsomgewing in die Wes-Kaap grootgeword. “Ek en Philip het mekaar ontmoet toe ons saam in die korporatiewe wêreld gewerk het,” vertel sy.
“As ek nou terugdink aan Robertson en die kontras met my lewe in die Karoo, dink ek die Wes-Kaap is vir seker die land van melk en heuning waarvan die Bybel vertel. Die Karoo se droogtes is maar kwaai!”. En sy hoef nie uit te brei nie: die kontras staan in die ruwe landskap geskrywe.
“Ek was nog altyd ‘n plaasmeisie met ‘n passie vir my hoenders en om buite te wees,” vertel sy., “En hier in die Oos-Kaapse Karoo het ek spekboom, ons wonderplant, leer ken.
“Ek het regtig ‘n passie vir spekboom en gebruik dit in allerhande kos: van slaaisous tot blatjang, ontbytbrood vir burgers, bo-op nagereg vir ‘n tikkie soet-suursmakie, en in ‘n wildspotjie vir Sondagmiddagete!”
Tydens die onlangse droogte het Adriana se liefde vir die spekboom ‘n uitkoms gebied. “My passie vir spekboom het begin met my slaaisous. In die droogtetyd het ek vir die Here gevra om my te help om ‘n ekstra inkomste te maak. Diegene wat al my spekboomslaaisous bekom het sou gesien het my Bybelversie, Mattheus 4:4, staan op die plakker!”
“Daar staan geskrywe: “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke word wat uit die mond van God kom.”
Haar resep vir spekboom in ‘n wildspotjie is eenvoudig. “As daar nou op ‘n Sondag weer besluit word om ‘n pot te maak, hetsy wild-, bees- of hoender-, en daar is ppekboom in die tuin, pluk gerus ‘n hele tak af en laat dit so stadig prut vir die laaste halfuur voor opskeptyd. Die blare stoom af en die stammetjie kan weggegooi word – die blare gee ‘n heerlike witpepersmakie”
En vanjaar tydens die tweede Country in die Karoo-konsert wat hulle sedert verlede jaar in die wildreservaat aanbied, het sy hulle eie boereworskompetisie met die einste spekboomwors gewen! “Ek het my wildswors gemeng met spekboom ingeskryf en sowaar gewen omdat die sappige geure so lekker bymekaarkom.”
Trofeejag
Die Karoolandskap hier bestaan uit berge, droë rivierbeddings omsoom met soetdorings en gras. En dan is daar die Grootriviervallei met sy spekboom-bosveld en berge wat selfs vir ‘n gesoute jagter se vernuf verg om die sku koedoebul, Kaapse bergsebra of klipspringer in ruie bos te vind.
Die valleie is die tuiste van buffels, njalas, bosbokke, rooibokke, steenbokke, duikers, blou- en swartwildebeeste en die immerteenwoordige koddige vlakvarke met hulle weglê-bakkebaard en sekeltande – baie van die diere trofee wat die jagter vir altyd trots sal herinner aan die jag.
Hulle doen ook trofeejag en fokus hoofsaaklik op buitelandse jagters wat sommer die hele familie op die jagtog saambring.
“Ons hanteer nie net die jag nie, maar neem hulle ook ‘n paar dae lank op ‘n toer na die Wes-Kaapse wynlande by Robertson, en maak ook ‘n draai in Kaapstad. Ons besoek ook Oudtshoorn, ons naaste dorp in die Klein-Karoo, en ‘n besoek aan die Addo-Olifant Nasionale Park is ook ‘n hoogtepunt.
“Die buitelandse jagters beleef nie net die jagervaring saam met hulle familie nie, maar word ook blootgestel aan die kontraste en ander aktiwiteite wat ons mooi land bied.”
Biltongjagters
Naas trofeejag, verdien hulle ook ‘n inkomste uit biltongjagters. “Ons probeer om vir die biltongjagter ‘n volledige diens te lewer deurdat ons nie net die jag behartig nie, maar ook die verwerking van hulle vleis doen sodat ons vir hulle ‘n eenstopdiens lewer.”
Vir biltong jag is daar hoofsaaklik koedoes, elande, rooibokke, springbokke en vlakvarke. “Die biltongjagters betaal per bok. Ons verwerk die vleis en versend of lewer die vleis so twee weke na die jagtog af.”
Van die wild word ook verkoop om getalle te bestuur omdat die veld se drakrag afhang van hoeveel reën hulle kry. Om natuurlike weiding in spekboom-ruigteveld aan te vul word ook lusern geplant. Die weiding dien ook as voer vir nguni-beeste en dorpers, wat redelik gehard is.
Luukse lodges
Jagters kan in een van drie goed toegeruste luukse lodges oorbly en saans aandete in die Lapa by die hoofgebou geniet. Maar voor jy kom aansit, word jy eers na ‘n uitkykpunt geneem om ‘n asemrowende sonsondergang oor die veld en berge te ervaar terwyl jy aan jou gunsteling drankie teug en aan ‘n stukkie wildsvleis en kaas kou.
Country in die Karoo
Verlede jaar het die Theunissens en hulle vennoot Mark Cobb, wat tans in Texas in die VSA woon, die plan gekry om die Country in die Karoo-fees op Bhejane aan te bied. “Ons het besluit om die Texas country-musikant en ‘n paar van ons eie country-sangers bymekaar te kry en die opskop saamgestel.”
Vir die doel is ‘n struktuur opgerig, doelgemaak om groot groepe mense te onthaal. Sedert hulle die lokaal wat sitplek vir 250 gaste bied, in 2022 voltooi het, het hulle nou al twee keer die Country in die Karoo-fees aangebied. “Ons bou maar nog aan ons visie vir wat dit eendag kan wees.”
Die lokaal is toegerus met ‘n groot kombuis ingerig om spyseniering te doen, ‘n groot buitelug braaiarea en ‘n kroeg. Die parkering is groot genoeg vir 100 voertuie.
As hul eie verblyf nie voldoende vir meer as hoeveel gaste is nie, het hulle ‘n ooreenkoms met die hotelle in Willowmore en Steytlerville vir altesaam 125
Die lokaal word ook gebruik vir troues, boerevereniging-vergaderings, spanbousessies en jaareidfunksies.
Ander trekpleisters
Nog ‘n trekpleister wat meer as 100 besoekers gelok het, was laasjaar se BMW GS Motorrad-saamtrek. Die motorfietsryers het van die luukse verblyf en kampeerterrein gebruik gemaak en van Adriana se lekker kos geniet. Bhejane is hoeka ‘n gunsteling oorblyplek vir motorfietsryers wat van heinde en verre na die nabygeleë Baviaanskloof se uitdagende grondpadroetes onderweg is.
Buiten al die ander wondere, is Bhejane ook ‘n voëlkykersparadys met meer as 180 voëlspesies wat in die groot verskeidenheid habitatte nesmaak in bome en bosse langs die rivier, in die klowe en valleie.
Die Grootrivier is standhoudend en selfs al was die reën min, is daar nog diep kuile waar talle visse tussen die riete skuil en wat jy kan probeer kul met ‘n wurm of ‘n blink lepel. Maar wat jy ook al vang, moet liefs teruggaan in die water.
Visie vir die toekoms
Volgens Philip was die omgewing die hoofrede vir die skuif na die wildbedryf. “My pa Hendrik het dertig jaar gelede die visie gehad om die plaas hier te koop en ons het daarop bly voortbou. Ons wil dit nog meer spesiaal maak en die natuur sy reg gee om weer tot volle potensiaal te ontwikkel en inheemse plante en diere huisves soos in die verlede. Ons is mos rentmeesters vir ‘n kort tydjie op aarde en daarom wil ons dit wat aan ons toevertrou is beter agterlaat vir die nageslag.”
Uitdagings
Die grootste uitdagings in die wild- en veebedryf is die swak ekonomiese groei en werkloosheid in die land. En dan is daar ook nog die ongediertes wat onder die wild maai. “Aardverwarming en die wisselvalligheid van ons klimaat, soos die droogte, is ook ‘n groot uitdaging. Dieresiektes soos bek-en-klouseer is nou ook ‘n nuwe uitdaging vir die Oos-Kaap.”
Op Bheyane probeer Philip-hulle die uitwerking van klimaatsverandering versag deur meer weiding aan te plant en te bêre vir droë jare. “Ons bestuur ons wildgetalle om oorbeweiding te verhoed. Onthou, hier boer ons met veld, bossies, bome en die grond en dit is wat bewaar moet word om al die ander spesies te huisves!”
Hulle is ook voorstanders van herlewingslandbou. “Ons kyk na waar geleenthede is om stikstof en koolstof terug te sit in die grond, en selfs moontlikheid om die veld so te bestuur dat ons uiteindelik finansiële voordeel kan trek uit koolstofkrediete, wat ‘n wen-wen-situasie vir enige grondeienaar is.”
Kontakbesonderhede
Kontak Philip Theunissen by 082-856-1256 of info@bhejane.co.za of besoek die webwerf by www.bhejane.co.za
Dit klink of julle goeie werk doen
So trots op ons mense wat ‘n voorliefde het vir die natuur en ons land so mooi wil bewaar
Hou aan met jul goeie werk
Ons woon in Centurion en ek lief spekbome en hier stasn ‘n klomp in ons tuin