Boer met water, nie graan nie!

windpomp
Deur Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou in Vrystaat Landbou Sê
HOE LYK REËNVALTOESTANDE VIR DIE KOMENDE SEISOEN?
Die El Niño-verskynsel van die afgelope seisoen het al verdwyn. Teen middel Junie 2016, was die meeste van die Niño-gebiede se oppervlaktemperature alreeds rondom neutraal of selfs effens negatief. Alhoewel die wintermaande die tyd van die jaar is wanneer daar baie vinnige veranderings in die Niño-gebiede kan plaasvind, is die opstelling van see-temperature tans van so ’n aard dat dit nie vinnig behoort te verander nie. Die meeste voorspellings dui op ’n 50% tot 80% kans vir ’n La Niña-verskynsel vir die 2016/17 seisoen.
Swak tot matige La Niña toestande kan alreeds begin heers vanaf Julie 2016. Daar moet egter nie te veel waarde aan hierdie voorspelling so vroeg in die seisoen geheg word nie, maar tans lyk dit ook positief om reënvaltoestande te stimuleer. Gegewe die verwagting vir ’n La Niña verskynsel vir die 2016/17 seisoen, word die volgende verwag:
- Die kanse vir winter- en lentereën (Julie-Oktober) lyk gemiddeld tot ondergemiddeld.
- ’n Baie goeie kans bestaan vir reën oor die somerreënvalgebied vanaf die tweede deel van Oktober, maar veral rondom Desember asook in Februarie/Maart 2017. Dit is veral die sentrale, suidoostelike en westelike dele van die land waar bo-gemiddelde reënval verwag word.
MOONTLIKE IMPLIKASIES VIR LANDBOU
- Gewoonlik is La Niña-verskynsels verantwoordelik vir genoeg water om damvlakke te laat styg, en dit behoort alreeds voor die einde van Desember ’n positiewe uitwerking te hê. Dit kan die besproeiingsituasie verbeter.
- Goeie reën kan die aanplanting van somergewasse stimuleer en dit kan sterk afwaartse druk op somergraanpryse plaas, veral vir Julie 2017-lewerings.
- Die moontlikheid van bo-gemiddelde reënval kan nie uitgesluit word nie, wat die voorkoms van veesiektes, peste en plae kan bevorder. Weerstand teen veesiektes en parasiete het verswak weens die droogte die afgelope paar jaar asook min inentings. Dit sou raadsaam wees om vee vroegtydig in te ent.
- Een belangrike aspek wat die afgelope seisoen weer na vore gekom het, was die beskikbaarheid van grondwater vir somergraanproduksie, veral in laer reënvalgebiede. Boer met water en nie met graan nie!
- Onkruidbeheer, tydige bewerking om maksimum reënvalbenutting te verseker asook praktyke om verdampingsverliese te beperk, moet beplan en uitgevoer word.
- Vooruitbeplanning vir ‘n seisoen moet gedoen word deur meer te konsentreer op heersende toestande as op vooruitsigte. Byvoorbeeld: Alhoewel ’n La Niña voorspel word vir 2016/17, bestaan daar steeds ’n kans dat dit nie gaan reën soos voorspel nie.
- Beplanning op twee vlakke is belangrik: Strategiese beplanning deur te konsentreer op die langertermyn, soos; Is mielieproduksie met gebruiklike metodes en pryse volhoubaar vir ’n spesifieke gebied. En, korttermyn of taktiese beplanning, waar daar byvoorbeeld meer kunsmis toegedien kan word nadat goeie reën voorgekom het of ander gewasse geplant word. Maak seker dat jou korttermynbesluite nie in konflik met langtermyn strategiese besluite is nie.
Die uitwerking van die afgelope paar jaar se droogte sal ’n stremmende gevolg op die bedryf hê, selfs lank na goeie reën voorkom. Die “landboukundige droogte” sal dus vir veral veeboere langer duur, want veldherstel moet plaasvind en kuddes moet weer opgebou word. Die “sosio-ekonomiese droogte”, wat ’n aanduiding is van die finansiële toestand van ’n boer, gaan ook nog lank duur. Net goeie bestuur en finansiële beplanning sal bepaal wanneer die landboukundige en sosio-ekonomiese droogtes gebreek gaan word. Die sukses van die volgende landbousiklus hang baie af van hoe vinnig ’n boer kan herstel na hierdie droogteramp. Indien ’n boer se situasie teen dieselfde tempo of stadiger herstel as al die ander boere, bestaan die kans dat hy of sy moontlik weer aan die verkeerde kant van die siklus gaan wees wanneer die volgende droogte kom.
Om Vrystaat Landbou Sê te lees, kliek hier.