Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 23rd October 2024

Bloed, sweet en trane van boere word vereer by Boer van die Jaar-geleentheid

By 5 min read
923 words

462697766_961900272641809_2899043351418569869_n

Boer-wees is seker een van die uitdagendste beroepe. Tog is dit een waarsonder ’n land en sy inwoners sal vergaan. Daarom is dit niks minder as gepas om boere te vereer vir dít wat hulle doen nie.

Dit is in die lig hiervan dat Landbouskrywers SA jaarliks hulle Boer van die Jaar-toekennings uitdeel. Vooruitrewende, vernuwende en hardwerkende boere landswyd word by hierdie funksie gevier!

Vanjaar se Boer van die Jaar van die Noordelike streek is op Vrydag 18 Oktober aangewys by ’n spoggeleentheid te Brooklyn, Pretoria. Van hier af word die provinsiale wenners beoordeel om uiteindelik die nasionale Boer van die Jaar aan te wys op 15 November.

Die hoofborge van die geleentheid was New Holland, NWK, Rijk Zwaan, Van Loveren en die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (SAVPO).

Die aand is oudergewoonte met skemerkelkies en geselsies afgeskop, gevolg deur ’n smulleker driegang-maaltyd. Daar is ook’n interessante paneelgesprek gevoer deur Johan Bezuidenhout (NWK), Jaco du Preez (New Holland) en Thys van Zyl (Rijk Zwaan). Kwessies soos nuwe tegnologie, befondsing en hoe om die regte gewas te kies is deur kenners in die bedryf bespreek.

Paneelgesprek gevoer deur Johan Bezuidenhout (NWK), Jaco du Preez (New Holland), Thys van Zyl (Rijk Zwaan) en Lindi Botha (Landbouskrywers SA Noord). Foto’s: Agriculture Writers SA Facebook

Een van die aanhalings wat die gehoor aan die lag gehad het, is Jaco wat gesê het: “Wanneer dit reën sien ’n boer nie water nie, hy sien geld.”

Verder het Thys genoem dat gewasse deesdae anders gekweek word as ’n paar jaar gelede. Voorheen sou dit byvoorbeeld beter gewees het om ’n reuse waatlemoen te kweek, want dit is mos lekker? Vandag is kleiner waatlemoene eerder die mikpunt, omdat verbruikers deesdae hulle inkopies bestel deur afleweringsdienste soos Checkers se Sixty60, en ’n tamaai waatlemoen kan nie in die papiersak pas nie.

Lindi Botha, voorsitter van Landbouskrywers SA Noord, het tydens die geleentheid gesê dat Suid-Afrikaanse boere jaar na jaar hulleself bewys deur die ekonomie te versterk, werksgeleenthede te skep en voedselsekerheid te verseker. “Ten spyte van groot uitdagings soos stygende insetkoste en logistieke kwessies, lewer ons boere steeds hoë-gehalte, bekostigbare voedsel wat wyd beskikbaar bly. Hulle veerkragtigheid, soos bewys deur vanjaar se pryswenners, is die ruggraat van ons land se voedselveiligheid.”

Só lyk ’n klomp wenners! Agter: Jaco du Preez, Egon Zunckel, Jozeph de Plessis, Stephan de Groot, Michael Fysh. Voor: Thys van Zyl, Betty Nyambi, prof Driekie Fourie, Johan Bezuidendout en Lindi Botha.

Hier is vanjaar se wenners vir die Noorde:

Landbouspesialis van die jaar:

  • Stephan De Groot (Vrystaat)
  • Prof Driekie Fourie (Gauteng)

Boer van die jaar:

  • Jozeph du Plessis (Noordwes)
  • Egon Zunckel (KwaZulu-Natal)
  • Michael Fysh (Gauteng)

Nuwe toetreder tot kommersiële landbou:

  • Betty Nyambi (Gauteng)

Daar is geen ander manier om eregaste te verwelkom as met ’n rooitapyt nie.

Die wenners in ’n neutedop

Stephan De Groot: Stephan de Groot, oorspronklik van ’n wingerdplaas buite Stellenbosch, het sy liefde vir landbou ontdek terwyl hy in hierdie omgewing grootgeword het. Hy fokus tans op sy doktorsgraad oor stikstofgebruik in koring. As koringteeltprojekleier by Syngenta Seeds, het hy elf suksesvolle kultivars vrygestel wat ’n groot bydrae tot Suid-Afrika se koringproduksie lewer. Sy navorsing dra ook internasionaal by, waar hy aan verskeie projekte deelgeneem het.

Prof Driekie Fourie: Prof Driekie Fourie, met ’n doktorsgraad in Nematologie, is nou ’n wêreldbekende deskundige op die gebied van nematodes. Sy werk tans by die Noordwes-Universiteit, waar sy op navorsing oor nematode-ekologie en volhoubare bestuurstrategieë fokus. Sy het talle toekennings ontvang vir haar werk en word gesien as die toonaangewende figuur in nematodenavorsing in Suid-Afrika. Prof Fourie speel ook ’n sleutelrol by Syngenta, waar sy boere help om plantgesondheid te verbeter deur volhoubare praktyke.

Jozeph du Plessis: Jozeph du Plessis is ’n vyfdegeslagboer wat op die plaas, Boskop, naby Schweizer-Reneke boer. Hy bestuur ’n suksesvolle gewaswisselboustelsel en het al verskeie nuwe tegnologieë in sy boerdery ingevoer, soos biotegnologiese gewasse en presisieboerdery. Jozeph is ook ’n leier in die katoen- en graanbedryf en dien in verskeie rade, insluitend die Katoenprodusente-organisasie en Graan SA se uitvoerende raad. Sy betrokkenheid by die gemeenskap en sy toewyding aan tegnologiese vooruitgang maak hom ’n vooraanstaande figuur in die bedryf.

Egon Zunckel: Egon Zunckel is ’n vierdegeslagboer van Estcourt, KwaZulu-Natal, wat sedert 1984 die familieplaas bestuur. Hy het die plaas van ondergang gered deur nuwe tegnieke soos geenbewerking en dekgewasse te gebruik. Onder Egon se leiding het Zunckel Farms gegroei tot byna 5 000 hektaar en oortref dikwels die bedryfstandaarde in opbrengs. Hy plaas groot klem op volhoubaarheid en bied werksgeleenthede en opleiding aan plaaslike inwoners. Hy werk nou saam met sy seuns om die plaas se nalatenskap voort te sit.

Michael Fysh: Michael Fysh bestuur Riverside Piggeries naby Pretoria, ’n plaas met 1 000 teelsôe. Hy het van jongs af die familiesaak oorgeneem en ’n biogasstelsel gevestig wat afhanklikheid van Eskom grootliks verminder. Hy het as IT-ingenieur gekwalifiseer en gebruik nou sy tegnologiese kennis om die boerdery te moderniseer. Michael is ook betrokke by die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie en mentor ander boere, terwyl hy ’n sterk fokus op sy werkers se welstand handhaaf.

Betty Nyambi: Betty Nyambi, eienaar van Sincobile Trading and Agriculture, het twintig jaar ervaring in landbou. Sy het haar eie varkboerdery begin nadat sy ’n plaas van die Gautengse Departement van Landbou ontvang het. Betty het geen ervaring gehad nie, maar het met opleiding en harde werk ’n suksesvolle varkboer geword. Sy het ’n plaas van 173 ha naby Bronkhorstspruit gekry en nou het haar boerdery 130 sôe. Sy verkoop speenvarkies aan Swineline en het talle toekennings gewen vir haar werk in landbou.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0