Biologiese gewasbeskerming: Van aanvullend tot noodsaaklik vir SA produsente

intelig
Uitvoermarkte raak strenger, chemiese opsies raak minder, en die wêreld kyk al hoe fyner na hoe kos geproduseer word. Suid-Afrikaanse produsente sal vinniger moet aanpas by ’n geïntegreerde benadering met biologiese gewasbeskerming as ’n kernstrategie vir marktoegang en volhoubaarheid.
“Ons is by ’n keerpunt,” sê Martin Booyens, InteliGro se Tegniese Bemarking Spesialis in biologiese oplossings, met internasionale ervaring in onder meer Spanje en Israel. “Produsente ervaar groter fitosanitêre druk, veral uit die EU, waar nuwe regulasies en streng invoerinspeksies onlangs ingestel is. Intussen verloor ons toegang tot chemiese produkte teen ’n merkwaardige tempo. Wie nie biologie ernstig begin oorweeg nie, gaan agterbly.”
WAAROM DIE SKUIF?
Booyens verduidelik dat drie groot kragte die skuif dryf:
- Chemiese middels raak al minder beskikbaar, weens internasionale regulasies.
- Residubeperkings in uitvoermarkte, veral Europa, laat min ruimte vir tradisionele chemiese programme.
- Nuwe tegnologie maak dat biologiese produkte vandag met sekere plae net so doeltreffend soos chemie kan wees.
Beperkings op chemiese middels sluit die CMR-klassifikasie (kankerwekkend, mutagenies of voortplantingsgiftig) in, asook streng regulering waar slegs gesertifiseerde PCO’s sekere middels op plaasvlak mag hanteer. Die “EU Green Deal” vereis ’n 50% vermindering in plaagdoders en 20% minder kunsmis teen 2030. Hierdie teikens plaas druk op uitvoerlande soos Suid-Afrika om vinniger biologiese alternatiewe aan te neem.
“Ons gebruik al dekades lank natuurlike vyande soos parasitiese wespes en predatoriese myte,” sê Booyens. “Die verskil is dat dit vroeër ’n aanvulling was, maar nou word dit die ruggraat van geïntegreerde plaagbestuur (IPM) – met ’n wegbeweeg van oorafhanklikheid van chemie na ’n gebalanseerde benadering waarin biologiese oplossings ’n sentrale rol speel.”
VOORBEELDE UIT DIE PRAKTYK
“Internasionale voorbeelde, soos Almería in Spanje, wys wat moontlik is,” sê Booyens. “Van ’n streek wat bekend was vir hoë residue, is Almería vandag, met 40 000 ha gewasse, ’n wêreldleier in biologiese boerdery. Ons gebruik dieselfde tegnologie in Suid-Afrika en het al groot vordering gemaak – ons stuur sagtevrugte, tafeldruiwe en sitrus sonder enige vooroes-residu na streng markte.”
Die suksesverhale lê nie net oorsee nie – plaaslike produsente toon reeds goeie resultate:
- Soetrissies en komkommers: In beheerde omgewings is byna volledige biologiese beheer moontlik.
- Sitrus: Met ondersteuning van CRI (Citrus Research International) is Suid-Afrika voor in die veld. Suid-Afrikaanse produsente gebruik biologiese strategieë soos virusse teen bolwurms, steriele-insek-tegnologie teen sitrusvrugtevlieë, en bikarbonaat teen sitrus-swartvlek.
- Tafeldruiwe: Bacillus, bikarbonaat en Trichoderma help om botritis en witroes effektief te beheer. Hierdie produkte speel ook ’n belangrike rol in rygewasse.
’n Tafeldruifprodusent van Trawal aan die Weskus, Jannie van Niekerk, sê: “Ons het ’n kultivar waarmee ons jare lank sukkel waar botritis ons oeste erg affekteer. Toe ons biologiese middels in ons programme inwerk, was ons baie tevrede met die gehalte van ons tafeldruiwe wat oorsee gestuur is. Die kombinasie van chemie en biologie het ’n opvallende verbetering gebring.”
Morné Paxton, ook ‘n tafeldruifprodusent van Trawal, stem saam: “Ek voel dat die biologiese middels die algehele program versterk en jou kanse op residue verminder. Daar is ook beter weerstandbestuur, omdat daar ’n breër spektrum produkte beskikbaar is.”
NUWE GELEENTHEDE, NUWE VERANTWOORDELIKHEDE
Booyens voorspel ’n groot ommeswaai oor die volgende vyf tot tien jaar.
“Makrobiologie, oftewel die teel van voordelige insekte, groei internasionaal teen 17 tot 25% per jaar. Dit is egter meer kompleks om ’n geïntegreerde biologiese én chemiese produsent te wees en dit vra meer dissipline van produsente: akkurate monitering, beter opleiding van plaaswerkers en die regte toerusting vir presisieboerdery.”
“Ons sien hoe groot multinasionale maatskappye kleiner biologiese firmas opkoop en gevorderde tegnologie vinnig na Suid-Afrika bring,” sê Booyens. “Dit beteken beter produkgehalte en vinniger toegang tot nuwe generasies biologiese produkte vir ons boere.”
Booyens waarsku dat biologiese produkte anders werk as chemie: “Ons is gewoond aan vinnige resultate van chemikalieë. Biologie is meer voorkomend en werk stadiger, maar die resultate is duursaam en bou gesonder grond en ekostelsels.”
KENNERSRAAD VIR PRODUSENTE
“Die produsente wat nou ervaring opdoen, bou ’n voorsprong,” sê Booyens, wie se praktiese raad aan produsente insluit:
- Begin klein en begin vroeg – toets dit in ’n proefblok.
- Berei jou span voor – goeie monitering en toerusting is noodsaaklik.
- Hou vol – die tweede seisoen wys dikwels die duidelikste resultate, sonder opbrengsverliese.
“Biologiese produkte is lankal nie meer net in ’n proeffase nie. Hulle is kommersieel bewys, naamlik die produkte van geloofwaardige internasionale maatskappye wat aan Wet 36 van 1947 voldoen.”
“By InteliGro span ons tegnologie soos weerkaarte en presisieboerdery in om akkurate en tydige besluite te neem. Ons demonstrasieplase, proewe en opleiding van tegniese spanne speel ook ’n groot rol om vertroue en begrip te bou – daarom weet produsente dat hulle op ons advies kan staatmaak.”
TOEKOMSPERSPEKTIEF
Biologiese gewasbeskerming het in ’n kort tyd van aanvullend na noodsaaklik beweeg as deel van holistiese programme wat chemie en biologie integreer. Dit bied produsente die kans om marktoegang te behou, hul grond en ekostelsels te beskerm, en steeds hoë gehalte oeste te lewer.
“Wanneer jy mét die natuur boer, eerder as daarteen, is die uitkoms gewoonlik positief,” sê Booyens. “Die tyd van wag is verby – die toekoms is biologies.”
Bron: InteliGro