Beurtkrag bedreig tot 25% van Suid-Afrika se stapelvoedsel-oes

dawn-g53c65f3ec_1920
Foto: Pixabay
Gegewe die impak van beurtkrag op landbou aktiwiteite, word daar tans geraam dat tot en met ʼn kwart van Suid-Afrika se stapelvoedsel-oes, mielies, besig is om op besproeiingslande te verlep.
Volgens Vrystaat Landbou se Kommersiële Sake Komitee voorsitter, Kempen Nel, is die mielie-plantseisoen tans op ʼn kritieke stadium. “Die aanplantings het baie water nodig, maar kan spilpunt-besproeiingstelsels nie werk nie as gevolg van die onbetroubaarheid van ESKOM.
“Verder staar groot finansiële verliese die aartappels-, soja, vrugte- en neut bedrywe in die gesig wat ook van besproeiing afhanklik is”.
Beide die beskikbaarheid en stygende koste van ESKOM krag en om voedselsekerheid te beskerm, noop landbouers om hul eie oplossings te oorweeg. Dit bly egter ʼn duur en onpraktiese uitdaging omdat rugsteun kragvoorsiening tot 10 keer duurder is as ESKOM krag.
“Besproeiingsboere is veral van ESKOM afhanklik omdat die groot pompe en ander hoë verbruiktoerusting baie groot (en onbekostigbare) battery kapasiteit vereis”.
Vrystaat Landbou stel voor, ten einde voedselsekerheid te verseker, die regering die volgende in plek stel:
- Eskom toelaat om diesel in te voer sonder enige belasting, tantieme of brandstof heffings en SEB-perke NERSA daartoe dwing om toe te sien dat Eskom se gekontrakteerde kragopwekkers nie buitensporige tariewe eis nie.
- Die instel van ʼn kragopwekkingsubsidie aan boere wat gedwing word om alternatiewe buite Eskom in te stel.
- ʼn Alternatiewe beurtkragskedule behoort oorweeg te word wat primêre sektore se spesifieke behoeftes in ag neem. Byvoorbeeld, boere is bereid om meer beurtkrag in die maande te hê wanneer besproeiing nie nodig is nie.
“Die effek van beurtkrag word daagliks deur elke landsburger gevoel. Sektore soos landbou kon dalk in die verlede die risiko’s van beurtkrag bestuur het, maar dit is besig om onmoontlik te raak. As boere nie kos goedkoop kan produseer nie, gaan net die rykes kan eet. Dit gaan die armstes van ons landgenote desperaat, moedeloos en honger laat,” sê Francois Wilken, President, Vrystaat Landbou
Privatisering van die elektrisiteitsbedryf is die ooglopende oplossing, en is net ʼn eenvoudige verandering van politieke beleid hiervoor nodig. Hoe langer dit neem, hoe groter raak die risiko vir ons land se sosiale stabiliteit.”
Bron: Vrystaat Landbou