Categories: Stock and game farmingPublished On: 24th September 2015

Bestuur van ooie tydens laat dragtigheid en vroeë laktasie

By 4 min read
702 words

skaapooie

Die volgende stuk kosbare inligting wat elke skaapboer moet deurlees is deur die NWKV uitgereik.

Wol en vleis per hektaar geproduseer word as belangrike winsdrywerfaktore binne wolskaapboerdery beskou. Verskeie strategieë en stelsels is beskikbaar om die voortplanting van ooie te verhoog, maar die mate waarin dit gebruik word of toegepas word hang baie af van die bestuursvermoeë van die boer en sy beskikbare infrastruktuur. Ongeag van die stelsels en infrastruktuur wat gebruik word sal die maksimum potensiaal van ‘n ooi slegs behaal word indien die skaapboer toesien dat:

  • daar aan die voedingsbehoeftes van laat dragtige en lakterende ooie voldoen word;
  • deur doeltreffende ram- en ooibestuur die besetting van ooie geoptimaliseer word;
  • fetus en lamoorlewing geoptimaliseer word deur doeltreffende bestuur tydens laatdragtigheid en lamtyd.

Belangrike faktore waarna gekyk moet word tydens dragtigheid;

  • Om afsterwing van embrio’s te voorkom moet spanning tydens paring en die eerste maand van dragtigheid vermy word. Hantering moet dus gedurende hierdie periode uitgeskakel word.
  • Dragtigheidsondersoeke kan 42 dae nadat ramme verwyder is, gedoen word. Dit is belangrik om meerlinge van eenlinge te skei en die voedingspeil van die meerlingooie opwaarts aan te pas.
  • Massaverlies moet verhoed word deur toe te sien dat voedingspeil van ooie korrek is. Dit kan aangevul word met ‘n lek. Navorsing toon dat indien kondisiepunt drie van ooie vir die volle dragtigheidsperiode bestendig gehou word, die produktiwiteit van die kudde verhoog word.
  • Verseker voldoende skaduwee vir ooie in warm dele van land, veral by temperature bo 35 grade Celsius.
  • Die hormoon estriool wat deur die plasenta afgeskei word stimuleer uier-ontwikkeling, verhoog bies- en melkproduksie en gee dus ‘n lek wat ryk is aan deurvloei-proteïen.
  • Kondisiepunt ooie weekliks, die ideaal is dat ooie gedurende laat dragtigheid 15% tot 18% in liggaamsmassa moet toeneem.
  • Die voorsiening van deurvloeiproteïen aan meerlingooie en eerstelamooie ses tot agt weke voor lam, lewer positiewe resultate.
  • Mikskeer ooie ten miste vier weke voor lam. Dit maak dit vir die lam makliker om die spene te vind.
  • Doseer ooie met Vitamiene A en minerale.

Punte van belang gedurende lamtyd by sogende ooie

  • Waar moontlik lam in kleiner kampies met ooi-troppe van 50 of kleiner, dit kan lamvrektes verlaag met tot 7.5%.
  • Eenling sogende ooie moet nie meer as 25-50g in liggaamsmassa per dag verloor nie.
  • Meerling sogende ooie moet nie meer as 60-100g per dag verloor nie.
  • Lam verkieslik een- en meerling ooie apart van mekaar asook jong ooitjies.
  • Sodra die ooi gelam het, raak die voeding van die lam belangrik, om oormatige massaverlies by sogende ooie te voorkom moet kruipvoer aan lammers voorsien word, veral meerlinglammers. Kruipvoer verseker dat lammers vroeër gespeen kan word en dit het weer tot gevolg dat ooie hul toestand kan verbeter en besettings- persensie vir die daaropvolgende lamseisoen word sodoende verhoog.
  • Ooie se melkproduksie piek op 42 dae na lam en neem dan vinnig af. Dan moet die lam reeds sterk vreet en is derhalwe ‘n goeie praktyk om diere na ‘n nuwe kamp te skuif.
  • Met behulp van die soog- en droogmetode moet ooie wat misluk om ‘n lam te speen, asook ooie wat swak en ligte lammers speen geïdentifiseer word. Hierdie swak moeders moet verkieslik bemark word.
  • Los boepenslammers by ooie dat die moeders geïdentifiseer kan word en dan geprul kan word. Verkoop verkieslik hierdie lammers saam met die ooie.

Ander belangrike faktore wat ook in ag geneem moet word:

  • Gesonde diere lewer beter produksie en gee gesonder lammers. Verseker dat jou inenting- en doseerprogram is op datum is en jou kudde parasietvry is.
  • ‘n Doeltreffende siektevoorkomende gesondheidsprogram moet gevolg word.
  • Bestuur jou roofdiere voor jy begin lam deur lamkampe se heinings na te gaan en te verseker daar is nie ongediertes in jou kampe nie.

Opsomming:

Om ’n genoeglike hoeveelheid vleis en wol per hektaar te produseer, moet soveel moontlik van bogenoemde stelsels en strategieë gekombineer en toegepas word. Optimum voeding gedurende die verskillende fisiologiese stadiums van die teelooi is noodsaaklik vir ‘n hoë voortplanttempo, hoë lamoorlewing en vinnige lamgroei om te verseker dat die genetiese potensiaal van jou skaapkudde bereik kan word.

Wins word hoofsaaklik deur doeltreffendheid bepaal en nie soseer deur die wol- en vleisprys nie.

Vir verdere inligting kontak vir Juan Venter, NWKV-produksie adviseur in Middelburg, Oos-Kaap, by 079-693-1953.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0