Beste Handel- en Verbruikersuitstalling in Afrika ‘n móét vir boere én publiek

Jané (6) en Carla (4) Retief van Stellenbosch
Jané (6) and Carla (4) saam met Waldor, die Romagnola-bul, by Livestock 2017. Hierdie jaar sal daar drie skaars witbeesrasse by die skou wees - Romagnolas, Chianinas and Charolais.
Agri-Expo Livestock en die Groot Plaasproe, wat in Januarie vanjaar met die gesogte ROAR-uitstalbedryftoekenning as Beste Handel- en Verbruikersuitstalling in Afrika vereer is, is hierdie week van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober terug op Sandringham buite Stellenbosch. Dié eerbewys, in die kategorie vir uitstallings groter as 12 000 m2, is deur AAXO (Association of African Exhibition Organisers) in samewerking met EXSA (Exhibition Association of Southern Africa) by hulle jaarlikse ROAR-toekenningsgeleentheid in Johannesburg toegeken.
Volgens Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, lê die waarde van Livestock en die Groot Plaasproe daarin dat dit oor die afgelope vyf jaar uitgebou is tot een van die min geleenthede in Suid-Afrika waar die publiek die totale waardeketting van verskillende landboubedrywe op ‘n toeganklike wyse kan ervaar. Livestock is ‘n veeldoelige landbouskou, ekspo en fees wat ‘n tuiste bied vir meer as 20 verskillende projekte wat landbou in sy geheel bevorder.
“Ons doel is om die boer en die publiek nader aan mekaar te bring en die jeug blootstelling te gee aan beroepsgeleenthede binne die landbousektor,” sê Ehlers. “Besoekers kan uitsien na meer as 150 uitstallings, 300 plaasdiere ontmoet en topdiere van verskeie rasse sien meeding in ‘n skouring van wêreldklasgehalte met sowat 20 telersgenootskappe wat by Livestock betrokke is. Op Saterdag 13 Oktober is daar ‘n opwindende vermaakprogram. Om op te som – dit is ‘n heerlike, eerlike landbou-ervaring vir oud én jonk.”
Die program sluit die volgende hoogtepunte in:
- Die grootste suiwelskou in Suid-Afrika: Die FNB-Suiwelkampioenskappe met die drie grootste suiwelrasse, Jerseys, Ayrshires én Holsteins, wat om die titel FNB-Suiwelkoningin meeding. Die beoordelaarspaneel sluit die Kanadese beoordelaar Brian Carscadden in.
- Die grootste vleisbees-interraskampioenskap in sy soort: Meer as 12 verskillende vleisbeesrasse kompeteer in dié kampioenskappe, met die kroning van die BKB-Rooivleiskoning/in in die Biomin-skou-arena op Saterdag 13 Oktober as hoogtepunt.
- Nasionale kampioenskappe: Die 20ste Nasionale Kampioenskappe van die SA Holstein-telersgenootskap – vir die eerste keer by Livestock en slegs vir die derde keer ooit in die Wes-Kaap.
- Die grootste skoleprogram by ‘n landbouskou in Suid-Afrika: Sowat 3 000 leerders woon ‘n landbou-opvoedkundige program met meer as 10 interaktiewe stasies by. Meer as 10 000 leerders is reeds deur dié gratis program, in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL), bereik.
- Inligtingsdae: Klein- én kommersiële boere kan gratis raad van kundiges bekom tydens ‘n Melkbokinligtingsdag op Donderdag 11 Oktober en ‘n Vleisbeesinligtingsdag op Vrydag 12 Oktober, ondersteun deur die WKDL en Standard Bank.
- Veilings: Die tweede jaarlikse Suid-Afrikaanse Werkende Skaaphondveiling deur BKB met drie skaaphonde van bekende telers, asook ‘n veiling van vyf Percherons van die bekende Elsenburg-stoet en drie miniatuurperde van die MNB-stoet.
- Skoue: Die Kaapse Konynklub se Lente-kampioenskapskou is die grootste konynskou in die Wes-Kaap met meer as 15 verskillende konynrasse. Die grootste boerboelskou in die Wes-Kaap vorm deel van die 10-jarige herdenking van die Wes-Kaap Boerboelklub. Die Old Mutual Insure Wes-Kaap Streekjeugskou en die Wes-Kaap Melbokkampioenskappe vind ook by Livestock plaas.
- Uitstallings: Die Agri-Expo Paviljoen huisves uitstallings oor die veebedryf, tegnologie en die waardeketting. ‘n Nuwe toevoeging is die Connect Agri-uitstalling van die WKDL wat fokus op loopbaangeleenthede. In die Animal Lane bied telersgenootskappe en dieretelers besoekers die geleentheid om ‘n groot verskeidenheid diere van nader te leer ken, waaronder drie skaars witbeesrasse, Romagnola, Charolais en Chianina. Daar is ook “Hubs” vir die skaap-, pluimvee-, alpakka- en wildbedryf. En vir die smulpape is daar Die Groot Plaasproe in die Standard Bank Food Lane met plaaskos soos boerbokvleis wat eksklusief by die fees beskikbaar is, plus bier, wyn en meer.
- Vermaak op Saterdag 13 Oktober: Die program sluit musiekoptredes deur Die Broers en ander kunstenaars in, asook lyndansdemonstrasies met wêreldkampioene. Besoekers kan ook deelneem aan ‘n braaibroodjie- en steakbraaikompetisie met SPAR-vleisgeskenkbewyse ter waarde van R6 500 op die spel, ‘n roomys-eetkompetisie vir alle ouderdomme, ‘n sokkiekompetisie en boeresport.
- Internasionale Pinotage Dag: Op Saterdag 13 Oktober kan besoekers teen geen ekstra koste Pinotage-proeë deur die Pinotage-vereniging en Wellington Wines geniet.

Nickey Small van Mohair Suid-Afrika by Agri-Expo Livestock 2017 saam met die drie weke oue Angora-bok Lily van Grootfontein Landbou Kollege.
Die program sluit ook die Landbouweekblad-uitdaging vir versorgers en hanteerders, ‘n werksessie vir agriwerkers deur die Melkprodusente-organisasie (MPO), die Toyota SA Nasionale Junior Afslaerskompetisie (aangebied deur Veeplaas), die DMC-suiwelkonferensie en die Landbounavorsingsraad se Meestersuiwelboer-toekenningsgeleentheid in.
Livestock en die Groot Plaasproe vind daagliks van 08:00 tot 18:00 plaas. Besoek www.livestock.org.za of www.diegrootplaasproe.co.za vir die volledige program. Kaartjies is by Computicket en by die hek beskikbaar teen R100 vir volwassenes, R50 vir pensioentrekkers (Donderdag en Vrydag), R30 vir skoliere (gratis Donderdag en Vrydag) en gratis vir kinders onder ses jaar. Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021-975-4440 of admin@agriexpo.co.za.
Bron: Agri-Expo