Beskerm jou oes 3: Kies tussen sleep, dra en selfloop

oes 1
Kousbalkspuit
Opgestel deur JP le Roux
In die vorige aflewering het ons verskillende spuitpunte bespreek en die belangrikheid om die regte keuse te maak. Nou moet daar gekies word tussen driepunt-, sleep of selfaangedrewe spuite, maar eers bekyk ons die interessante metode om lug as aandrywing in balkspuite te gebruik.
Lugondersteunde balkspuite of kortweg genoem kousbalkspuite het in die negentigjare in Suid-Afrika hulle verskyning gemaak alhoewel die beginsel reeds vroeër in die buiteland bekend gestel is.
Die werkbeginsel
Die trekker dryf ’n waaier aan en die lugstroom word in ’n versterkte PVC-kous geblaas. Hierdie lugstroom word dan deur ’n reeks gate aan die onderkant van die kous uitgeforseer. Lugspoed by die uitlate is ongeveer 50 m/sekonde.
Die lugvolume en lugspoed is eenvormig by elke uitlaat dwarsoor die lengte van die kous. Die spuitbalk is onder die kous gemonteer. Die spuitstukke daaraan is 250 mm van mekaar en is teen ’n hoek van 30° na die vertikale windstroom gemonteer. Die lugstroom voer die spuitdruppels na die plante of die grond. Lugwarreling verseker dat die spuitstof ook doeltreffend aan die onderkant van die blare beland.
Die uitstaande kenmerke van die spuit is dat, in plaas daarvan dat hoë volumes water (250 liter/ha en meer) en groot druppels soos by konvensionele balkspuite gebruik word, gebruik die kousbalkspuit laer volumes (30 tot 75 liter/ha) en kleiner druppels wat deur ’n sterk vertikale lugstroom grondwaarts gevoer word.
Van die boere wat die spuite aangeskaf het is tevrede dat die spuite onkruiddoder- en plaagbeheerbespuiting doeltreffend verrig. Die volgende voordelige eienskappe van die spuit en die spuitbeginsel het hulle veral beïndruk:

Laer volumes water
Teen 30 tot 75 liter water per hektaar wat die kousbalkspuite algemeen gebruik, word die koste en moeite van skoon water na die lande aanry dadelik verlig.
Indien ’n vergelyking tussen die waterbehoefte van ’n kousbalkspuit en ’n konvensionele spuit vir 500 hektaar gemaak word, is die resultaat soos volg:
Kousbalkspuit (75 ℓ/ha) -37 500 liter vir 500 hektaar
Konvensionele spuit (250 ℓ/ha) -125 000 liter vir 500 hektaar
Die besparing in die hoeveelheid water wat by die lande verskaf moet word is dus voor-die-handliggend, veral waar water oor lang afstande na lande aangery moet word.

Vermindering van wegdryf
Wanneer daar in winderige toestande gespuit word, verseker die kousbalk-spuit se afwaartse windstroom dat minder spuitstof as gevolg van die heersende wind wegdryf. ’n Groter spuitdoeltreffendheid is dan moontlik.
Hidroulies beheerde balk
Die spuit se goed ontwerpte, hidroulies beheerde spuitbalk vergemaklik die hantering van die spuit. Selfaangedrewe spuite word al hoe meer op lande gesien en die spuite kan groot areas op ’n dag spuit juis omdat dit ook teen ’n hoër spoed werk. ’n Verdere voordeel is dat die tegnologie waarmee dit toegerus is die kalibrasieproses heelwat makliker maak. In tabel 2 word die koste van hierdie spuite aangetoon.
Tabel 1 Spuitkoste vir trekkerspuite – Trekker 60 – 65 kW 4WD

Wat kos dit om te spuit?
Dit is belangrik om seker te maak wat die meganisasiekoste van ’n spuitprogram bo en behalwe die koste van die spuitmiddel is. Die faktore wat die koste bepaal, is die aankoopkoste van die spuittrekker en die spuit, die spoed waarteen gespuit word en die wydte van die spuit. In hierdie verband kom die Meganisasiegids van JP le Roux baie handig te pas om die koste per hektaar of per uur regstreeks af te lees. In tabel 1 word die koste vir verskillende spuite gekoppel aan vierwieltrek-trekkers van 60 tot 65 kW aangetoon. Die gids gee alle inligting oor spuitkoste met trekkers vanaf 30 tot 90 kW en ’n reeks spuite. Met die spuit behoorlik nagegaan, die korrekte spuitpunte gekies, die korrekte spuitstof volgens voorskrif aangemaak, die spuit korrek gekalibreer en ook kennis van die koste van die spuitaksie per hektaar, is u gereed om te begin spuit.
Tabel 2 Koste van selfaangedrewe spuite

Ten slotte
’n Goeie spuit is onmisbaar in ’n suksesvolle gewasboerdery. Waar boere al hoe meer na geenbewerking oorskakel is ’n goeie spuit onontbeerlik vir sukses.
Met dank aan Koos le Roux, samesteller van die Meganisasiegids.