Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 27th February 2025

Bek-en-klouseer woed al erger in KwaZulu-Natal

By 2 min read
479 words

bek en klou

Die bek-en-klouseer uitbreking in KwaZulu-Natal is besig om verder uit te kring. (Bron: Pixabay)

Nuwe uitbrekings van bek-en-klouseer kom steeds in KwaZulu-Natal voor. Die jongste uitbrekings het by ‘n kommunale diptenk by Mtubatuba noord van Richardsbaai voorgekom, en die afgelope twee weke is beeste met kliniese tekens van die siekte ook in die gebied van Vryheid en Newcastle opgemerk.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se Veeartstenydienste het bevestig dat die SAT1 BKS-virus in beeste by die diptenk identifiseer is. Sedert 2021 kom die SAT 2-virusstam in die provinsie voor, maar nou is SAT 1, wat onlangs in die Krugerwildtuin identifiseer is, ook hier.  Dit is nog nie seker met watter virusstam die beeste by Vryheid en Newcastle besmet is nie.

Beheermaatreëls binne siektebeheergebiede bly van krag,  en die besmette diptenks in die drie gebied bly onder kwarantyn. Inenting met ‘n entstof wat al drie SAT-stamme dek, word voortgesit.

Die toepassing van streng biosekerheid is noodsaaklik om die verspreiding van die hoogs aansteeklike staatsbeheerde en dus aanmeldbare siekte te voorkom.

John Steenhuisen, Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, het opnuut beklemtoon hoe belangrik dit is dat biosekerheidsprotokolle gehandhaaf word en vee-eienaars gemaan om enige verdagte gevalle by veeartsenykundige dienste aan te meld.

Sedert Oktober 2022 geld die volgende biosekerheidsmaatreëls:

  • Vee met gesplete hoewe regoor die land mag slegs geskuif word indien hulle vergesel word van ‘n gesondheidsverklaring van die eienaar wat die diere se gesondheid ten tye van die beweging bevestig.
  • Enige beeste, skape of bokke wat nuut aanland moet ten minste 28 dae lank afsonderlik aangehou word.
  • Veeboere oral in die land word ernstig versoek om die beweging van vee sover moontlik te beperk. Vee-eienaars en veilingshuise moet besonder bedag wees wanneer gesplete-hoefdiere in provinsies waar bek-en-klouseer voorkom, aangekoop word;
  • Geen vee met gesplete hoewe moet aanvaar word vanuit KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga waar siektebeheergebiede van krag is nie.

Dit bly die verantwoordelikheid van vee-eienaars en bestuurders om alle moontlike stappe te doen om te voorkom dat hulle diere besmet raak, of dat hulle eie siek diere of eiendom ander vee aansteek nie.

Noodsaaklike biosekerheidsmaatreëls sluit in:

  • Beperk of wag voordat nuwe diere na die plaas gebring word. As dit nie anders kan nie, moet die nuwe vee van skoon, onbesmette plase af kom en vergesel word van ‘n geldige gesondheidsverklaring;
  • Vermy dat diere op die plaas deur ‘n heining kontak maak met diere buite die plaas;
  • Maak seker die plaas se heinings is in orde;
  • Beperk sover moontlik toegang van mense en voertuie tot die plaas.

Volgens die Wet op Dieregesondheid (1984) moet diere met enige kliniese simptome soos oormatige kwyl en blase in die mond, sere aan die kop of mank loop, onverwyld by die naaste staatsveearts aangemeld word. Siek diere mag onder geen omstandighede geskuif word nie en dit word van veeartsenykundige dienste verwag om die regulasie af te dwing.

Kontakbesonderhede

Kontak Sara-Lea van Eeden, woordvoerder oor bek-en-klouseer van die Landboudepartement by 083- 446-6109.

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0