Bek-en-klouseer: Nog beamptes aangestel

OK2
Die voortgesette voorkoms van die staatsbeheerde, hoogs aansteeklike bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en nou ook Mpumalanga, is kommerwekkend.
Maar voor die einde van die jaar gaan ‘n stelsel in plek wees om oortreders van biosekerheidsmaatreëls vas te vat.
Dewald Olivier, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisbedryfdienste (RMIS) is die gevegslinie teen oortreders van maatreëls om siektes soos bek-en-klouseer te bekamp besig om vorm aan te neem. Sonder die regte stelsels in plek kan biosekerheid nie toegepas word nie, meen hy.
Die RMIS het pas aangekondig dat nog biosekerheidsbeamptes aangestel gaan word om Kommandant Jan Nel, hoof van die afdeling, se hand te sterk.
Volgens die Wet op Dieresiektes sal hierdie beamptes help om dieresiektes te moniteer, en biosekerheidsmaatreëls versterk en selfs afdwing. Daar word beoog om ten minste twee beamptes in elke provinsie aan te stel.
Die beamptes sal met die hand uitgesoek word om seker te maak hulle verstaan die diere en die wet en is bo verdenking.
Nel en sy span se taak sal wees om inspeksies te doen, die verband tussen plekke, diere en ondernemings wat vermoedelik betrokke by die onwettige verskuiwing van besmette diere is te ondersoek. Hulle sal ook seker maak biosekerheids- en beheermaatreëls vir die beweging van diere met gesplete hoewe word op plase, by veilings, slagpale en padblokkades toegepas. “Ons is in die proses om geskikte persone te soek,” sê Jan.
Jan sal voorts ook inligting versamel en verslae skryf oor enige oortredings en nou saamwerk met die Nasionale Vervolgingsgesag om seker te maak die wat nie wil hoor nie, moet voel
Volgens Dewald is die streng toepassing van biosekerheidsmaatreëls en naspeurbaarheid op alle vlakke van die waardeketting al manier om die rooivleisbedryf te beskerm.
Hy meen dit is belangrik om die spreekwoordelike skape van die bokke te skei, want al kan boere nie gedwing word om hulle vee in te ent of van hulle kuddes rekord te hou nie, kan abattoirs wat hierdie boere se diere aanvaar beboet word.
Hy meen boere wat nie by die reëls hou nie, gaan waarskynlik vies wees hieroor, maar dit gaan oor volhoubaarheid en ‘n kompeterende bedryf wat aan internasionale vereistes voldoen.
Bek-en-klouseer in Mpumalanga
‘n Plaas buite Mpumalanga se siektebeheergebied (SBG) is onder kwarantyn geplaas nadat beeste daar positief vir bek-en-klouseer getoets is. Hoewel die beeste geen kliniese tekens toon nie, word die voorval deur die departement van landbou ondersoek.
Dit is die eerste uitbreking in die provinsie sedert 2021, en die sowat 20 uitbrekings wat sedert 2021 binne die SBG voorgekom is, is reeds ‘n jaar gelede gesluit.
Die moontlikheid dat die uitbreking verbind kan word met ‘n veiling in die Utrecht-omgewing word ondersoek, want vee wat by die veiling gekoop is, het gelei tot die uitbreking by twee dorpe in KwaZulu-Natal.
KwaZulu-Natal steeds benard
Bek-en-klouseer woed steeds voort in KwaZulu-Natal en teen einde Maart vanjaar was daar bykans 150 oop uitbrekings in die provinsie.
Die uitbrekings by Bergville en Newcastle is teruggespoor na ‘n veiling wat in Februarie vanjaar in die omgewing van Utrecht gehou is. Beeste wat by die veiling gekoop is, word nou by hulle nuwe tuistes getoets vir simptome en met bloedmonsters word vasgestel of die diere voorheen aan die siekte blootgestel was en of hulle daarteen ingeënt is.
In die Oos-Kaap is vordering gemaak om die siekte te stuit en sedert Junie 2024 is geen nuwe voorvalle van bek-en-klouseer aangemeld nie.
Minister van landbou vra aksie
In ‘n desperate poging om die siekte te stuit, het John Steenhuisen, minister van landbou, KwaZulu-Natal onlangs besoek en sy departement opdrag gegee om meer daadwerklik op te tree. Die siektebeheergebiede (SBG’s) wat in 2021 ingestel is, is verlede maand verder uitgebrei in die stryd om die verspreiding te probeer bekamp.
Volgens Steenhuisen is die stadige proses om biosekerheid toe te pas en noodsaaklike entstof te bekom, ‘n kommerwekkende risiko wat die ganse rooivleisbedryf in die land bedreig. Hy het sy departement opdrag gegee om die polisie en padbestuurskorporasie se padblokkades te ondersteun om te help voorkom dat besmette diere verskuif word.
Steenhuisen het ook opdrag gegee dat alternatiewe persele vir abattoirs waar vee binne die SBG’s geslag kan word, identifiseer word.
Voorts het hy gesê die moontlikheid om ‘n ramptoestand in die provinsie af te kondig ondersoek moet word, en die permitstelsel vir die verskuiwing van diere moet gemoniteer word.
Hy meen die huidige beheerstelsel is nie voldoende nie en volgens die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) wat bepaal dat eienaars die verantwoordelikheid moet neem om die verspreiding te stuit, moet deur doeltreffende leierskap afgedwing word.
Bronverwysings
Botha, L. (2025) Marshals appointed for biosecurity enforcement
https://www.pressreader.com/south-africa/farmers-weekly-south-africa/20250425/281625311158047
On foot-and-mouth disease in KZN – John Steenhuisen. Politicsweb Statement issued by the Ministry of Agriculture, 16 April 2025
https://www.politicsweb.co.za/documents/on-footandmouth-disease-in-kzn–john-steenhuisen
Update on outbreak of foot and mouth disease Department of Agriculture. 2025-04-23 Media update FMD.pdf